Lukas 21:34-37
Ek was vir baie jare betrokke by die Voortrekkers. Een van my groot lekkertes was altyd om kursusse aan te bied wat die kinders bewus maak van die strand. Die probleem is dat baie min kinders (en grootmense!) die kompleksiteit van die strand besef of verstaan. Daar het dan groepe van iewers in Gauteng of die Vrystaat hier in Ballito opgedaag. Vir ‘n dag of twee verduidelik ek hulle dan presies hoe die strand se masjienerie werk, en dat die strand baie meer is as net ‘n lappie wit sand waar jy gaan lê om bruin (of is dit nou rooi?) te brand in die son!
Wanneer ek dink dat hulle alles mooi verstaan, dan kom die praktiese deel. Een mooi oggend word hulle vroeg-vroeg uit die kooi gejaag en met rugsak oor die blaaie draf hulle strand toe vir ‘n opwindende staptog. Elkeen is toegerus met ‘n lisensie om skulpvis van die rotse af te haal, en hulle opdrag is dat hulle tot die volgende dag op die strand moet oorleef. Hulle moet dus begin voorsiening maak vir kos en water soos wat hulle aanstap.
Hierdie uitstappie is elke keer vet pret, en elke seediertjie en plant en rots word deeglik ondersoek en bepraat en bevoel, en weldra begin die kinders die ongelooflike wonder en kompleksiteit van die strand besef. Hulle sien hoedat elke diertjie en plantjie, hoe primitief ookal, in sy spesiale nissie inpas. Hulle begin besef dat dit geweldige aanpassings verg van die klein seediertjies om maar net te kan oorleef in hierdie onherbergsame en dikwels vyandige wêreld. Hulle begin sien dat die hele strand lewe!
Maar weldra begin die kinders ook besef dat goeie beplanning ‘n absolute noodsaaklikheid is vir hulleself om hier te kan oorleef. Dis veral wanneer die hongerpyne begin knaag en die dors hulle oorval en daar nie meer ‘n kafee’kie om die hoek is waar hulle iets kan koop nie!
Dis ‘n lang, vermoeiende stap op die strand, maar uiteindelik, net voor sononder, is daar voor die groep ‘n stil, beskutte baaitjie met ‘n helder klein waterstroompie wat uit die sandduin borrel, weg van die beskawing en weg van ander mense af. Die kinders is opgewonde om te verneem dat hulle die nag in hierdie mooi plek gaan deurbring onder die sterre. Maar dit is net hier waar die moeilikheid gewoonlik begin, want baie van hulle het al lankal vergeet wat hulle geleer is van oorlewing. Ek help hulle ook nie reg nie, want nou moet hulle sélf die mas opkom en maar foute maak. Hulle sal dit weldra agterkom!
Teen hierdie tyd is die kinders rasend van die honger en hulle mossels, krappe en seekatte wat hulle deur die dag bymekaargemaak het, moet baie gou gaarkom! Vuurmaak met klam dryfhout is die eerste struikelblok, en dit blaas en rook en stook om ‘n bietjie warmte onder die kos te kry. Fiemies vir daardie grillerige kos is nóg ‘n groot uitdaging en die stadskinders wurg baie vies ‘n ietsie af om die hongerpyne stil te maak. Party moet honger gaan slaap omdat hulle nie betyds kos bymekaar gemaak het nie en eers met hoogwater wakker geskrik het. Hulle het te veel pret en plesier op die strand gehad!
Die derde groot uitdaging kom met die slaap saam. Een groep het in die middel van die nag wakker geword toe hulle besig was om in die see in te dryf! Hulle het nooit gekyk waar die hoogwater merk is nie. ‘n Hele paar groepe het sopnat gereën omdat hulle nie vir behoorlike skuilings gesorg het nie. Op die ou end was dit slegs enkele kinders wat ten volle voorbereid was vir die hele strandervaring!
Jesus sluit Sy preke af met ‘n waarskuwing om waaksaam en voorbereid te lewe. Die kinders was deeglik vertel presies wat hulle moes doen op die strand, maar min het hulle daaraan gesteur. Die gevolg was dat hulle tweedebeste daarvan afgekom het! Net so kry meeste gelowiges volledige instruksies oor hoe om ons lewens in te rig. Sondae preek die leraar, en deur die week lees ons wat die Woord vermaan. Die probleem is dat ons ons nie rêrag daaraan steur nie, of dat ons dit baie gou vergeet. Dikwels vergeet ons gerieflikheidshalwe van die Here se opdragte!
Jesus waarsku dat ons dalk totaal onverhoeds betrap sal word, nes daardie groepie Voortrekkers wat so ampertjies diepsee toe is. “Wees waaksaam en bid altyddeur”, sê Jesus. Dit is baie belangrik dat ek gedurig in voeling sal bly met God. Ja, Hy is altyd daar, maar die probleem is dat EK nie altyd by is nie. Ek vergeet van Hom en dan volg ek my eie paadjie. Deur gedurig te bid herinner ek myself nie alleen aan Hom nie, maar hoor ek ook Sy wonderbare stem in my lewe. Deur gedurig te bid, onthou ek ook van die dinge wat belangrik is. Dan sien ek die nood in mense raak en onthou ek dat ek vriendelik moet wees en die liefde van Jesus moet uitstraal. Hoe meer ek in gebed verkeer met Hom, hoe meer gee ek vir die Here plek in my lewe, en hoe meer laat ek die Heilige Gees toe om my te lei op die regte pad. Gebed anker my aan God.
Gebed:
Here, herinner my asseblief daaraan dat ek vandag gedurigdeur met U sal gesels. Dankie dat U altyd luister!