Saul Verloor Vertroue

7 September, 2026

1 Samuel 13

Wat beteken dit om “af te tree op pensioen”? Meeste pensioenarisse sal jou kan vertel dat hulle na aftrede éérs lekker begin werk! Dan doen hulle wat hulle nog altyd wou doen en nooit tyd voor gehad het nie.

Samuel het ook afgetree op “pensioen”, maar hy het steeds net so hard gewerk. Saul het nou wel die land regeer, maar Samuel het nog steeds die leiding geneem op baie terreine. So was daar byvoorbeeld ‘n ooreenkoms tussen hom en Saul, dat Saul die soldate sou lei in gevegte, maar dat Samuel al die geestelike dinge sou doen, soos byvoorbeeld die Godsdienstige rituele.

Saul se koningskap het op ‘n hoë noot begin toe hy die Ammoniete suksesvol platgeloop het by Jabes. Nou was hy beslis ‘n waardige koning! Alhoewel sy koningskap téén die wil van God was, het die Here tóg belowe om hom by te staan indien hy aan Hom gehoorsaam sou wees. Vir ‘n jaar of twee het dit baie goed gegaan. Saul was die model-koning wat gedoen het presies wat die Here hom deur Samuel beveel het. Tot op ‘n dag……..

Dalk wou die Here Saul toets om te sien of hy Hom waarlik vertrou. Ons kan maar net bespiegel. Maar dit was ‘n tragiese dag.

Die Filistyne was vir die Israeliete ‘n reuse probleem. Ons weet mos hoe die sterk man, Simson al met hulle gesukkel het, en dat hulle uiteindelik sy ondergang was. So het dit al die jare aangehou, en in Saul se tyd was hulle steeds ‘n verpesting. Eintlik het Israel en die Filistyne in redelike harmonie saam gewoon, maar die Filistyne het sekere sleutelpunte in die land beheer, en hiermee moes Israel maar tevrede wees. Sodra hulle beheer oor hierdie sleutelpunte bedreig was, was dit moeilikheid.

So gebeur dit dat Saul, wat teen hierdie tyd alreeds ‘n permanente weermag gehad het, weereens met die Filistyne slaags raak. Hy kommandeer drie afdelings soldate op om teen hulle te gaan veg. Hy voer twee afdelings aan en sy seun Jonatan voer die derde aan. Jonatan oorval die Filistynse wagpos by Gibea, en nou word dit as provokasie beskou en die Filistyne maak hulle rûe styf.

Jy weet mos wat gebeur as jy ‘n perdebynes met ‘n stok bykom. Die perdebye word briesend kwaad, en dan is daar gróót moeilikheid. Wel, die Filistyne het presies soos ‘n nes perdebye reageer wat geroer was, en toe moes Saul en sy manne net hárdloop! Dertig afdelings strydwaens en ses afdelings ruiters en voetsoldate word ontplooi, en teen so ‘n verskriklike oormag staan Israel nie ‘n kat se kans nie. Die manne het in gate, grotte en spelonke gaan wegkruip, en selfs in droë putte! Saul en sy manskappe was doodbang waar hulle in Gilgal op Samuel gewag het.

Soos ons reeds genoem het, was Samuel se plig om die geestelike sy te behartig. Hy het ‘n afspraak met Saul gehad dat hulle mekaar op ‘n spesifieke dag in Gilgal sou ontmoet. Daar sou Samuel ‘n offer aan die Here bring en die Here vra om Sy wil te openbaar oor hierdie stryd teen die Filistyne. Sewe senutergende dae het egter verbygegaan en Saul kon nie langer vir die ou profeet wag nie. Sy manskappe het begin dros uit vrees vir hulle lewens. Van die manskappe het boonop by Saul aangedring om sélf die offerande te bring.

En Saul swig voor die druk! Hy neem die saak in eie hande en bring ‘n offer.

Skaars is hy klaar hiermee, of Samuel daag daar op: “Wat het jy nou aangevang?” vra Samuel geskok.

Saul skrik hom yskoud en probeer verduidelik. Maar Samuel wil géén rede verstaan nie: “Jy was dwaas! Jy het teen God se bevele in opgetree!”

Hierdie verhaal klink vir ons onverstaanbaar. Wat was dan nou so verskriklik verkeerd vir Saul om ‘n offer te bring? Boonop leer ons uit die geskiedenis dat konings aanvanklik wél toegelaat was om offers te bring. Lees maar in 2 Sam. 6:13 hoe Dawid geoffer het.

Dit het nie hier gegaan oor die offerande nie, maar oor gehoorsaamheid aan God. Gehoorsaamheid beteken baie meer as ‘n offer! Hier was ‘n verhouding tussen die koning en die profeet. Saul moes as koning hom onderwerp aan die wil van God. Dit was die taak van die profeet (Samuel) om die wil van God aan die koning bekend te maak. God het van Saul as koning verwag om selfs onder die moeilikste omstandighede steeds te buig voor Sy wil. Saul het dit egter nie gedoen nie en wou die stryd voer op sy eie manier. Hy het sy vertroue in God verloor.

Samuel het teleurgesteld omgedraai en na Gibea gegaan.

Ten spyte van Saul se groot misstap, is die Here hom genadig. Die Filistyne met hulle reuse weermag kon maklik Saul se skamele 600 manne van die gesig van die aarde afvee. Nogtans stuur hulle slegs ‘n paar roofbendes om Israel te plunder. Saul kry nog ‘n kans.

Ek en jy moet uit hierdie verhaal leer hoe belangrik dit is om te alle tye op die Here te vertrou en dat ons nie Sy werk vir Hom moet probeer doen nie. Hy sal op die regte oomblik ingryp!

Gebed:

Here, ek vertrou U in alle omstandighede. Maak my asseblief rustig wanneer dit wil lyk asof U nie betyds gaan ingryp nie!

Iets interessant: In 1 Sam 13:1 (2020 vertaling) staan: “Saul was 30 jaar oud toe hy koning geword het.....” In vers 3 lees ons van sy seun Jonatan wat as aanvoerder van 1’000 man die Filistyne oorrompel het. Dit maak nie sin nie! ‘n Man moes minstens 20 wees om te gaan veg. Om boonop aanvoerder te wees, moes hy seker 25 wees. Dit sou beteken dat Saul al op vyfjarige ouderdom pa moes wees! In die 1983 vertaling is daardie deel skoon weggelaat! Ek het na verskeie Engelse vertalings gekyk, en elkeen het dit anders interpreteer. Baie teoloë is van mening dat dit ‘n vertaalfout is en dat Saul waarskynlik tussen 40 en 50 jaar oud moes wees!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026