1 Samuel 16:1-13
Samuel was bitter teleurgesteld in Saul, daardie briljante koning wat hy vir die Here moes salf. Aanvanklik was hy baie skepties, maar na daardie episode toe Saul tussen die profete was, het hy só baie van hom verwag. Ná die fiasko met die Amalekiete, was hy genoodsaak om vir Saul te beveel om Koning Agag vir hom te bring. Hy moes maar sélf doen wat Saul versuim het om te doen. Dit was nie maklik nie, want Agag het hom opgeruimd tegemoet gestap, so asof hy gedink het dat hy die dood sou vryspring. Maar hy het voor sy siel geweet dat Agag ‘n gewetenlose soldaat was wat verantwoordelik was vir die dood van talle Israeliete. Hy het veroorsaak dat daar menige weduwees was wat swaarkry en kindertjies wat sonder ‘n pa moes grootword. Samuel het sy swaard gegryp en die verskrikte Agag in stukke gekap.
En toe het hy oor Saul getreur……
“Hoe lank gaan jy nog treur oor Saul, Samuel?” het die Here eendag vir hom gevra. “Dit is Ek wat hom verwerp het as koning oor Israel.”
Samuel het geluister na wat die Here vir hom sê. Natúúrlik is die Here reg. Hy, Samuel het reg van die begin af geweet dat dit ‘n fout was om Saul aan te stel. Maar die Here het dit óók mos gewaarsku!
Dan skrik Samuel hom yskoud wanneer die Here se volgende opdrag aan hom kom: “Vul jou horing met olie en vertrek. Ek stuur jou na Isai van Betlehem, want tussen sy seuns het Ek vir My 'n koning gesien.”
“Maar Here,” protesteer Samuel, “Ek kan mos nie! Saul sal my doodmaak as hy hiervan te hore moet kom!”
Maar die Here paai vir Samuel: niemand hoef mos te weet dat hy ‘n ander koning gaan salf nie. Al wat hy moet doen, is om na Betlehem te gaan onder die voorwendsel dat hy aan die Here wil gaan offer. Daar moet hy dan vir Isai nooi om te kom deel in die offer. Die res moet hy met ‘n geruste hart aan die Here oorlaat – Hy sal vir Samuel wys wie hy moet salf.
Ja, om ‘n profeet vir God te wees, kan dikwels baie gevaarlik wees. Kyk maar watter gevare die evangeliste wat in die oorloggeteisterde lande werk, moet trotseer. Dikwels sterf hulle vir hulle geloof en vir die evangelie.
Samuel is soos altyd gehoorsaam aan die Here, al het hy eers geprotesteer! Só vat Samuel die pad na Betlehem. Natuurlik weet almal van sy laaste onderonsie met Saul, en wanneer die stadsleiers die gryse ou man sien, is hulle sommer dadelik verskrik en hoogs ontsteld: “Waaraan het ons hierdie besoek te danke? Gaan hy ons ook nou kom verdelg soos hy vir Saul verdelg het?”
“Kom u in vrede?” vra hulle met bewende knieknoppe.
Hy stel hulle gerus met ‘n “Ja. Ek het gekom om vir die Here 'n offer te bring. Reinig julle en kom saam met my na die offer toe,” Hy nooi vir Isai persoonlik en hy sien sélf toe dat Isai en sy sewe seuns almal die voorgeskrewe reinigingsrituele nakom. Hy wil nie hier ‘n fout maak nie!
Eliab, Isai se oudste vang sommer dadelik Samuel se oog. Hierdie lenige jong man het iets koninklik aan hom!
Dan hoor Samuel die stem van die Here: “Moenie na sy voorkoms en sy rysige gestalte kyk nie, want Ek het hom afgekeur. Dit gaan immers nie oor wat die mens sien nie, want: Die mens kyk na wat hy sien, maar die Here kyk na die hart.” Samuel is amper teleurgesteld, hy het dan gedink dat hierdie een perfek sou pas op die troon.
Wanneer die volgende seun van Isai verbygestap kom, hoor hy weer God se stem: “Nee Samuel, ook nie hy nie!” En so stap al sewe seuns verby, en nog steeds weet Samuel dat nie een van hulle die volgende koning gaan wees nie. Hy is skoon uit die veld geslaan. “Here, wat nou? Ek dog dan dat ek een van Isai se seuns moet salf? Ek verstaan nie!”
“Daar is nog een,” kom die Here se antwoord.
“Is dit al jou seuns die?” vra hy vir Isai. Nee, daar is nog enetjie, die jongste, maar hy pas skape op.
Op Samuel se bevel word die seun laat haal, en wanneer die rooigesig jong seun die vertrek binnestap, wéét Samuel: hierdie is Israel se volgende koning!
Nét daar steek Samuel sy hand onder sy mantel in en bring ‘n horing te voorskyn. Voor die verbaasde oë van Isai en sy sewe ander seuns, haal die ou profeet die proppie van die horing af en giet die inhoud oor die jong Dawid se hoof uit. Die heerlike geur van olyfolie en kruie vul die ganse vertrek terwyl die Gees van God kragtig oor die jong man vaardig word.
Samuel is tevrede. Hy het sy plig gedoen en diep in sy binneste wéét hy dat hierdie die regte keuse was. Nou het hy uiteindelik vrede in sy hart! Nou kan hy maar teruggaan na sy huis in Rama.
Ons wil dalk vra of God ‘n fout gemaak het om Saul te kies as koning? Nee, beslis nie. Ek dink dat die Here juis vir Saul gebruik het om die weg te baan vir die koning so na God se hart. Soos Johannes die pad vir Jesus moes voorberei, moes Saul die pad vir Dawid voorberei. Maar daar was nog ‘n baie lang en bitter pad wat hierdie jong man moes stap voordat hy die kroon sou dra.
Gebed:
Here, ek staan dikwels verstom wanneer ek sien hoedat U wonderlike raadsplan elke keer uitwerk!