1 Samuel 12
Samuel was ‘n waardige leier in Israel. Sy hele lewe het hy aan die Here gewy, en dit het nie alleen sy priesterlike en profetiese pligte behels nie maar ook om die volk van God, die Israeliete te lei op die politieke terrein. Hy voel egter dat sy rol as rigter vir die volk nou tot ‘n einde gekom het, want nou het hulle ‘n koning om die rol te vervul. Hy sal steeds sy pligte as priester en profeet met groot passie vervul.
Samuel is egter steeds gladnie gelukkig met die volk, dat hulle hom as leier as’t ware verwerp het deur te vra vir ‘n koning nie. Hulle het beslis verkeerd gehandel! Maar dis nou gedane sake en hy moet aangaan met sy lewe. Hy is in elkgeval alreeds ‘n gryse ou man, dus berus hy daarby. Hy troos homself ook met die gedagte dat hy ‘n goeie en regverdige leier vir die volk was, een wat altyd hulle heil voorop gestel het. Daar sou nóóit van hom gesê kon word dat hy omkoopgeld ontvang het, enigiemand benadeel of verdruk het of enige onreg oorgesien nie. Nooit het hy iemand afgepers of iets van enigeen gevat nie.
In sy afskeidsboodskap aan die volk, vryf Samuel dit deeglik vir die Israeliete in presies hoe hy voel oor die saak. Hulle moenie terugkom en sê dat hy hulle nie gewaarsku het nie. Hulle het hulle koning gekry, maar dit gaan beslis nie altyd maanskyn en rose onder hom wees nie. Hulle moet ook nie dink dat hierdie koning hulle altyd net goed sal behandel nie!
Vir ‘n koning gaan dit gewoonlik baie eerder oor homself as oor sy volk. Mag kan lelike dinge aan ‘n mens doen. Hoe meer mag jy het, hoe meer wil jy hê. En saam met mag, kom gewoonlik ook die begeerte om meer en meer rykdom te kry. Vandag sien ons dit maar al te duidelik in ons land se politiek. Elke dag moet ons magteloos toekyk hoedat die magtiges hulleself verryk ten koste van die armes. Skaamtelose korrupsie is deel van hulle lewe. Dit is egter nie beperk tot die politiek nie. In ons alledaagse lewe sien ons dieselfde patrone. As gelowiges moet ons baie versigtig wees dat ons nie sélf opgeslurp word in hierdie magspeletjies nie. Ons het dit al dikwels gesien gebeur met kerkleiers wat deur die geldgod Mammon verlei is en vir hulleself koninkryke en glaspaleise gebou het met hulle gemeentes se swaarverdiende dankoffers!
Maar terug by Samuel: Soos ‘n pa wat sy kinders op hulle pad stuur en afskeid neem, wil hy vir oulaas vir hulle riglyne gee vir hulle pad vorentoe. Hy wil hulle help om die regte koers in te slaan en op die regte pad te bly. Daarom is dit ook só belangrik dat hulle sal onthou waarvandaan hulle eintlik kom.
Samuel herinner hulle daaraan dat die Here hulle voorgeslagte uit die slawerny gered het en hierdie pragtige land aan hulle gegee het om in te kom woon. Hy het vir hulle wonderlike leiers, soos byvoorbeeld Moses gegee om hulle op koers te hou.
En wat doen hulle? Hulle minag daardie God wat hulle gered het en so goed was vir hulle. Hulle vergeet van Hom en loop agter ander gode aan! Dit het die Here genoodsaak om allerhande ellendes op hulle pad te stuur om hulle te probeer terugruk na Hom. Hy moes die Filistyne en Moabiete gebruik om hulle voorgeslagte tot hulle sinne te ruk.
En telkens, wanneer die volk besef dat hulle verkeerd gedoen het en hulle sondes bely het, was die Here genadig en dan het Hy weer wonderlike leiers soos Barak en Jefta op hulle pad gestuur om hulle maar weereens te red uit die mag van hulle vyande. Selfs Samuel het hier ‘n groot rol gespeel in die hand van God om die volk te lei.
Maar steeds was die volk nie tevrede nie, want toe Nagas met sy magtige Ammonitiese leër hulle bedreig, het hulle nie meer op God se leiers vertrou nie. Toe moes hulle opsluit ‘n koning kry! En dít terwyl God eintlik die enigste ware koning is!
Ja, die Here het hulle gekerm gehoor en Hy het toegegee aan hulle versoek. Nou hét hulle hulle koning!
Nou het hulle egter ‘n groot verantwoordelikheid: hulle moet eerbied aan die Here betoon. Hulle moet na Sy stem luister en Hom dien. As die Here hulle iets beveel, moet hulle doen wat Hy van hulle vra. Hierdie dinge geld nie net vir die volk nie, maar nét soveel ook vir hulle nuwe koning. Doen hulle dit nie, sal hulle moeilikheid optel, nét soos hulle voorgeslagte.
Vandag moet ons baie mooi luister na wat Samuel daardie tyd gesê het, want ons beweeg op baie dun ys. In baie opsigte is ons soos daardie Israeliete. Ons moet terugdraai na die Here toe en Hom weer waarlik eerbiedig, na Sy stem luister en doen wat Hy van ons vra, anders gaan ons presies dieselfde paadjie loop as Israel van ouds!
Samuel sluit sy toespraak af deur ‘n wonderteken van die Here te vra om te bevestig wat hy so pas vir hulle gesê het. Dit was in die middel van die droë seisoen, en daardie tyd het reën nooit óóit geval nie. Wanneer Samuel egter bid en die Here vra om ‘n reënbui oor hulle te stuur, steek daar skielik ‘n hewige donderstorm op met blitse, donderslae en ‘n stortreën.
Almal is met groot ontsag vervul en hulle het Samuel se woorde ter harte geneem. Nou kan Samuel rustig aftree!
Gebed:
Here, ek wil bely dat my volk ver van U weggedwaal het. Bring ons asseblief weer op die regte pad om U te dien.