1 Timoteus 5:1-8
As jou lewensmaat van die afgelope 50 jaar skielik nie meer daar is nie, dan is daar ‘n reuse leemte in jou lewe. Wanneer die een met wie jy elke dag kon gesels, jou vreugdes en bekommernisse deel, skielik net nie meer daar is nie, raak jy uitgehonger vir ‘n bietjie gesels. In ons gemeente is daar 'n groot aantal weduwees. Hierdie dames is gewoonlik uitgehonger vir ‘n bietjie gesels want hulle het niemand meer met wie hulle gedagtes en herinneringe kan deel nie. Dis veral herinneringe van die mooi tye saam met hulle maat wat nou nie meer daar is nie.
Maar waar is hulle kinders dan? Die kinders en kleinkinders is versprei oor die wêreld, Kanada, Engeland, Australië, Amerika. Omdat die kinders en veral die kleinkinders so verskriklik ver is, maak dit die verlange nog groter!
In die volgende twee hoofstukke gee Paulus praktiese raad vir die Christenleier oor verskillende omstandighede waarin hy homself kan bevind. Hy praat uit rype ervaring want hy het al sélf deur die meule gegaan. Hy kan vir Timoteus in Efese baie goeie raad gee want hy het sélf vir drie jaar daar gewerk. As jy ‘n jong Christenleier is, kan jy baie baat vind om praktiese raad te kry van iemand wat al lank in die bediening staan. Dit is ook van baie groot waarde om gereeld met ander Christenleiers saam te kom en julle probleme en blydskap met mekaar te deel. Dit is bemoedigend, opbouend en vertroostend.
Wat is Paulus se raad aan Timoteus?
In die eerste twee verse verduidelik Paulus hoe jy te werk gaan om te “vermaan”. Hierdie woordjie is ‘n samestelling van twee woorde: “om te roep” en “tot by”. Ons kan dit dus só verstaan, dat jy iemand roep om by God uit te kom. In die oorspronklike Grieks is daar ook ‘n konnotasie van aanspreek, vertroosting en bemoediging opgesluit in die woord. Dus kan ons die woordjie opsom deur te sê dat dit beteken om mekaar bemoedigend op Bybelse voorskrifte te wys. Paulus gee vir Timoteus vier verskillende situasies waar vermaning toegepas kan word en hy verduidelik dat jy elkeen anders moet benader. Jy moet dit dus met takt en oorleg doen. Die goue reël is dat jy iemand wat jy vermaan moet behandel asof hy deel van jou eie gesin is, met ander woorde met groot liefde!
Vervolgens kom Paulus by een van die grootste tameletjies in Efese, die weduwees. Hy spandeer baie tyd aan hierdie onderwerp, want in Efese was dit ‘n reuse, knellende probleem. Vir húlle was daar geen pensioen, welsyn of regte nie en as alleenvrou was 'n weduwee weerloos uitgelewer aan die genade. Boonop was sy haar lewensmaat kwyt en dus baie eensaam. Paulus gesels met Timoteus oor hoe jy hierdie probleem moet aanspreek. Terselfdertyd sê hy ook dat daardie weduwees beslis ‘n plek in die gemeente het en dat hulle daar ‘n goeie diens kan lewer.
In ons eie land het die staat vir baie jare ‘n groot deel van die verantwoordelikheid van die versorging van oumense gedra. Vandag is dit egter baie anders. Dit is nie meer die staat se plig nie, maar ‘n gesinstaak. Gelowiges moet gemotiveer word om hierdie verantwoordelikheid teenoor hulle oumense te aanvaar. Dis immers volgens die wil van God! Paulus spel dit baie duidelik uit in 1 Tim. 5:4. Jy lees ook daarvan in die Tien Gebooie in Eks. 20:12 waar daar staan: “Eer jou vader en jou moeder.” Paulus is só ernstig oor hierdie saak, dat hy sê dat iemand wat dit nie nakom nie, slegter is as ‘n ongelowige (v.8)!
Maar wat dan van die weduwees wat alleen agtergelaat is sonder kinders om vir hulle te sorg? Hulle is die verantwoordelikheid van die gemeente! Dikwels is fisiese versorging of fondse nie die grootste nood van sulke oumense nie, maar eensaamheid. ‘n Kuiertjie of WhatsApp op die regte tyd, kan wondere doen. Maar as dit moontlik is, moet jy hulle probeer betrek in die gemeente se aktiwiteite sodat hulle kan weet dat hulle nie afgeskryf is nie, maar steeds nodig is.
Daar is egter ook ‘n ander sy aan die saak: ‘n Weduwee moet nie haar nood probeer uitspel met ‘n uitspattige lewe, om sodoende te probeer aandag trek nie. Dis nie ék wat so sê nie, maar Paulus sê só in vers 6. Bring jou nood na God in gebed en Hy sal die regte mense op jou lewenspad stuur.
In ons eie gemeente is die Vrouediens (“Vroulief” noem hulle hulleself) aktief betrokke om die nood te verlig by ‘n tehuis vir bejaardes in Durban. Gereelde kuiertjies, geskenkies ens. maak die lewe vir daardie bejaardes net soveel meer draaglik. Daar is ook persone wat gereeld omsien na die weduwees in ons eie gemeente, help met inkopies, naels versorg ens. Dalk lê die Here dit op jou hart om ook betrokke te raak en ‘n bietjie vreugde te bring in die lewe van daardie eensames van die lewe. Dalk kan jy net elke dag hierdie dagstukkies uitdruk en by ‘n tehuis vir bejaardes gaan afgee, of die opname daarvan vir die ouer mense gaan speel wat nie meer goed kan sien nie. Dit kan dalk die hoogtepunt van die dag word vir iemand.
Raak betrokke!
Gebed:
Here, my hart gaan vanoggend uit na soveel bejaardes wat eensaam en verlate sit en wag op die einde. Stuur asseblief iemand met deernis na hulle!