Ester 6 en 7
Koning Ahasveros lê en rondrol op sy bed - daar is iets wat hom pla, maar hy kan net nie sy vinger daarop lê nie. Dan skielik sit hy regop. Hy weet presies wat dit is! Hy bulder die gang af dat hy onmiddellik een van sy amptenare moet sien. Spierwit geskrik en deur die slaap daag een van die manne op. “Wie is dit wat my lewe gered het toe daardie twee lae luise my wou vermoor?”
Nee, die man weet nie, maar hy sal gou die annale gaan haal sodat hulle kan sien. Minute later is hy terug: “Dit was ‘n man met die naam Mordegai.”
“Hoe is hy beloon? Watter eerbewys het hy gekry? Het hy ooit erkenning gekry vir sy dapperheid?” Nee, hy het nooit enige beloning gekry nie.
Ahasveros sit nog die oggend vroeg in sy troonsaal toe Haman daar opdaag om te kom reël dat Mordegai opgehang word. “Haman, my vriend, kom binne!” nooi Ahasveros hom vriendelik nader. “Vertel my, wat maak ‘n mens met iemand wat rêrag groot eer verdien? Wat sou jy sê sou ‘n gepaste manier wees om aan hom eer te bewys?”
Haman glimlag van oor tot oor. Van wie anders kan die koning nou praat as van hom, die wonderlike Haman? “’n Koninklike kleed - natuurlik een wat die koning self aangehad het.” Haman sweef behoorlik, “En ‘n perd - die koning se persoonlike een, met sy embleem op natuurlik. En mense wat voor hom uitloop en sy eer besing!”
“Ek hou van jou voorstel - jy is briljant! Haman, gaan haal daardie ou man in die stadspoort, Mordegai en dan maak ons presies net so met hom soos jy voorgestel het. Hy verdien sulke behandeling!”
Haman wil in die aarde insak! Wat ‘n vernedering! En boonop moet hy sélf vir Mordegai vereer! Hy voel hy kan skree van frustrasie, maar hy durf niks laat blyk nie. Hy mag ook nie eers teëstribbel nie, want hy móét in die koning se goeie boekies bly.
Maar die grootste vernedering van almal lê nog vir hom voor. Haman stoom die paleis uit reguit na Mordegai toe. Mordegai skrik hom spierwit as Hamman reguit op hom afpeil. “My laaste dag het aangebreek!” Maar dan, tot sy grootste verbasing kom Haman en hy plaas ‘n koninklike kleed op Mordegai se skouers - nogal Koning Ahasveros se eie persoonlike kleed!
“Klim op!” beveel Haman nors, en dan eers sien Mordegai die perd hier langs hom staan, versier met ‘n pragtige drapering. So mooi het hy nog nooit in sy lewe gesien nie. Die perd trippel trots as Mordegai opklim. Hy voel bitter ongemaklik op hierdie pragtige koninklike pronkstuk - Ahasveros se eie perd!
“Here, wat het ek gedoen om dit te verdien?” huil Mordegai dankbaar terwyl hy met groot fanfare deur die strate van Susan begelei word, “Here God, ek verstaan nie! Eers wil Haman my doodmaak, en nou is hy die voorloper om my te besing voor die hele stad. Ek verstaan gladnie Here.....”
Haman stoom later die dag sy huis in. Hy bewe van woede. “Wat is fout ou Man?” wil Seres hom nog probeer paai, maar Haman is buite homself.
“So was ek nog nooit in my lewe verneder nie!” brul hy - sy oë twee vuurpoele.
Maar Haman kry nie veel tyd om sy tragedie te oordink nie, want op daardie oomblik daag die paleisbeamptes op om hom te kom haal vir die groot onthaal wat Koningin Ester gereël het.
Koning Ahasveros is vandag weer in ‘n uitbundige bui. Saam met Haman stap hulle Ester se kwartiere binne. Sy het baie spesiale moeite gedoen om alles perfek te maak, en haar asemrowende skoonheid slaan weereens Ahasveros se voete skoon onder hom uit. “Wat kan ek vir jou doen my pragtige bruid? Sê maar net wat jy wil hê, en jy sal dit kry, al is dit ook die helfte van my koninkryk!” Teen hierdie tyd het Ahasveros sy koninkryk al talle kere weggegee!
“Al wat ek vra is dat ek en my volk toegelaat word om te bly lewe. Dit is my wens en my versoek.” ‘n Geskokte stilte sak oor die banketsaal toe. Koning Ahasveros se mond hang oop as hy hierdie skokkende versoek hoor. Wie sal nou sy pragtige bruid wil doodmaak?
“Ek vra dit, want ons, ek en my volk, is verkoop om voor die voet uitgeroei te word. Was ons maar net as slawe verkoop, sou ek nog stilgebly het, want dan sou die ramp nie soveel skade aan die koning se belange veroorsaak het nie.”
“Wie beplan so ‘n verskriklike ding?” Ahasveros is geskok!
Haman word spierwit van skok as Ester hom reguit in die oë kyk en haar vinger na hom wys.
Wat jy saai, sal jy maai! Haman het haat gesaai, en skielik het dit nou alles teen hom gedraai - hy is in die grootste nood! Jesus het ons egter geleer om liefde te saai. En nee, dit is nie maar net ‘n wet nie, maar dit moet ‘n lewenswyse wees. Nie alleen leef jy dan volgens God se wil nie, maar vir jouself maak jy die lewe ‘n lied - dit doen wondere vir jou gemoedstoestand. Boonop ervaar en aanvaar mense jou totaal anders - die beloning om liefde te leef is groot!
Gebed:
Here, ek wil borrelend van liefde en vreugde wees. Dankie dat U dit alles vir my moontlik maak.