Habakuk - Inleiding
Oor die afgelope agtien jaar was daar ‘n konstante stroom van briewe in my e-posbus, almal met ongeveer dieselfde tema: Waarom gebeur hierdie dinge met my? Die vrae wat oor en oor weerklink is: Ek bid so hard en baie, maar die Here hoor nie my gebed nie. Hoe lank moet ek nog so voortworstel? Is God nie dalk onregverdig met my nie? Waarom laat die Here soveel lyding toe in Afrika en in die wêreld? Waarom lyk dit asof die goddelose mense oorvloedig leef? Hulle geniet die lewe in sy volheid en die goeie mense vergaan van die ellende! Stel die Here nie meer belang in die armes nie? Stel Hy nog énigsins belang in ons, in my? En die vraag wat ‘n mens yskoue rillings gee: Is God nie dalk dood nie?
As jy al ooit met sulke gedagtes geworstel het, is dit ‘n absolute móét dat jy die boek Habakuk moet lees. Dit is een van die boeke wat ons liewer oorslaan! Hierdie profeet het ook daardie soort vrae gevra. Ons eerste reaksie is: “Maar hoe durf hy? Is dit nie hoogverraad teenoor die Here om sulke vrae te wil vra nie?” As ek hierdie vrae in ongeloof in my gemoed ronddra, en daaroor tob en die Here verwyt, loop ek op ‘n baie gevaarlike paadjie. Habakuk het egter eerlik antwoorde gaan soek op sy vrae, en in geloof gegaan na die enigste Een wat ‘n antwoord kón gee. Ja, hy was dalk platgeslaan en verbyster deur die dinge wat hy gesien het, maar hy het krampagtig vasgeklou aan sy geloof.
Wanneer Habakuk antwoorde kry op die vrae, is dit nie kitsresepte vir ‘n volkome lewe nie. Kitsresepte werk nooit! Jy weet mos: daardie blitsdiëet van blougekookte eiers wat jou binne 7 dae tien kilogram laat verloor, se enigste gevolg is dat jy naderhand ruik en voel soos ‘n warmwaterbron se vrot-eier oog! Op dieselfde wyse is die antwoord op hierdie kwelvrae dikwels ook deursettingsvermoë, harde werk en ‘n nogtans-aanvaarding. “Al sou die vyeboom nie bot nie, wat-ookal gebeur nogtans sal ek jubel!” Dit is die slotsom waartoe Habakuk aan die einde kom. Die boek Habakuk is in sy geheel bedoel as ‘n troosboodskap vir elke gelowige wat worstel met die een groot vraag, oor waarom die goddelose skynbaar die oorhand in die lewe het.
Dit is opvallend waar Habakuk in die Bybel gerangskik is. Hy is soos die konfyt op ‘n toebroodjie. Habakuk staan tussen twee ander profete, Nahum en Sefanja inge-toebroodjie. Nahum is geskryf tydens die Assiriese krisis, en die doel van die boek was om hoop te bied vir die volk tydens hierdie moeilike dae. Die ander “snytjie brood”, Sefanja, het wél die Here se oordeel verkondig oor Jerusalem en Judea, asook die ander volke rondom hulle. Terselfdertyd het hierdie profeet egter verkondig dat daar hoop is vir diegene wat getrou bly in die Here. Dus óók ‘n boek van hoop. En Habakuk, die jêm in die middel, gee weereens ‘n boodskap van hoop vir die volk terwyl hulle in ‘n krisis gewikkel was tydens die Babiloniese onderdrukking. Habakuk is een van twaalf klein profete wat in die Bybel saamgevat is.
Die vraag het ontstaan: Wie was hierdie Habakuk-profeet? En waar pas hy in die geskiedenis in? Die antwoord is baie eenvoudig: Ons weet nie! Daar is absoluut niks bekend oor hom nie, buiten sy naam. Daar het stories rondgegaan dat hy ‘n tydgenoot van Daniël was, en dat hy vir Daniël kos sou gegee het terwyl hy in die leeukuil was. Hierdie is alles suiwer spekulasie! Al wat ons kan aflei uit sy boek, is dat dit geskryf is iewers tydens die opkoms van die Babiloniese ryk (625 vC) en die val van Jerusalem (586 vC).
As ons eers kyk na die sosiale en politieke omstandighede waaronder die boek geskryf is, laat dit jou beter verstaan waarom Habakuk geskryf het wat hy geskryf het. Die ou Joodse volkie het gedurigdeur in sonde verval, en die profete het hulle bly waarsku. Maar hoe harder die profete gepraat het, hoe dieper het die volk in hulle sonde weggesink. Klink dit nie bekend vir vandag se lewe nie? En dan word die volk bitter hard geslaan met ‘n reuse geloofskrisis wanneer die enigste stukkie Godsdiens wat nog bedryf was, die tempel in Jerusalem, verwoes word. Alles waarop hulle gehoop het, het verdwyn soos mis voor die son: die nalating van die groot koning Dawid, die tempel, hulle geloof - alles weg! “Is God dan regverdig?” wil die handjievol gelowiges weet. Vir húlle bied Habakuk die wonderlike troosboodskap. Hy moedig hulle aan: “Hou vas aan God, ten spyte van die haglike omstandighede. Hou vas aan julle vertroue in die Here!”
Vandag gee Habakuk steeds vir ons dieselfde wonderlike geloofsperspektief op die sogenaamde “teodiseeprobleem” - die vraag oor hoe dit dan rym dat die Heilige God kan toelaat dat die bose so ‘n verskriklike oorhand oor die wêreld kan hê? Is dit nog óóit die moeite werd om God te dien? Is Hy óóit nog in beheer? Kom ons kyk wat Habakuk hieroor te sê het!
Gebed:
Here, dankie vir ‘n onbekende profeet wat die moed gehad het om al sy vertroue in U te plaas ten spyte van al die kwellende vrae.