Die mooi jong meisie op die lande, die Moabiet, sy bly in Boas se gedagtes wanneer hy laatmiddag na Betlehem terugstap. Terug by sy ruim woning span hy uit op die koel dak, na ‘n harde dag in die son. “Vertel my van Rut”, vra hy vir ‘n diensmeisie wanneer sy vir hom ‘n beker water bring.
Sy kyk hom betekenisvol aan: “Meneer bedoel seker Naomi se skoondogter? Ja, die hele dorp gons oor haar Meneer! Sy het sékerlik baie meer moed as verstand. Waarom sou ‘n Moabitiese meisie nou na hierdie plek toe kom om hier verneder te word deur almal? Ek kry haar so jammer Meneer.” Die diensmeisie babbel aanmekaar en Boas voel amper spyt dat hy haar die vraag gevra het.
“Meneer, sy mag dalk ‘n Moabiet wees, maar sy versorg haar skoonma so goed. Sy dra haar letterlik op die hande! En sy is ook nie bang vir harde werk nie! Meneer stel nie dalk in haar belang nie? Haai nee meneer, sy is dan ’n heiden! Dit kan mos nie Meneer!”
Boas lag vir die diensmeisie se afleidings. “Nee, ek wou maar net weet van haar!” Sy slaak ‘n sug van verligting. Dit sou darem die skandaal van die jaar wees as die gesiene Boas met ‘n heidense vrou moes afhaak! Maar iewers in Boas is daar tóg iets wat sy hart net vinniger laat klop wanneer hy daardie meisie se pragtige, liefdevolle oë in sy gedagtes sien.
Die volgende oggend is Boas sommer al vroeg in sy landerye. Sy oë soek die Moabitiese meisie. Na wat hy alles van haar gehoor het, het hy nou ‘n groot bewondering vir haar moed en haar toewyding en haar liefde vir haar skoonma. Die voorman het vanoggend ‘n lang asem as hy allerhande dinge met Boas wil bespreek, maar hy sien baie gou dat Boas se gedagtes gladnie met hom is nie. Anders as gewoonlik, hoor Boas nie eers wat hy sê nie - hy is duidelik op ‘n ander planeet!
Boas gaan stap tussen die werkers deur en groet elkeen persoonlik en verneem na hulle welstand. Maar ongemerk mik hy in Rut se rigting. Wanneer hy by haar kom, buig sy diep voor hom. Sy kan maar nie verstaan dat hy, ‘n gesiene Israeliet, so goed vir haar kan wees nie. Sy het niks gedoen om dit te verdien nie. “Meneer, waarom is u so goed vir my?” wil sy weet, “Ek is maar net ‘n buitelander sonder enige regte of status?”
Dan antwoord Boas haar: “Ek weet van alles wat jy vir jou skoonma gedoen het, ek weet hoe goed jy vir haar is. Mag die Here jou beloon vir alles wat jy gedoen het.” Boas kan nie help om haar te bewonder nie, want die diensmeisie het hom ook vertel dat Rut haar gode opgegee het en dat sy nou die enigste ware God aanbid! “Ek verneem dat jy onder die vleuels van die God van Israel kom skuil het - Hy sal jou ryklik seën!”
Vir Rut is Boas se woorde soos die lafenis van ‘n koel fontein: “Meneer, u laat my so goed voel, en ek is nie eers een van u slavinne nie!”
Boas moet homself wegskeur van hierdie meisie af. Hy vat ‘n sekel en begin saam met die manne graan afsny. ‘n Warboel gedagtes maal deur sy kop. Hy kan dit steeds nie verstaan nie. En waarom het hy skielik hierdie aangetrokkenheid tot die heidense meisie?
Wanneer middagete aanbreek, soek die snyers die skadu van ‘n eensame boom op saam met Boas. Rut wou nog mik vir die skadukolletjie, maar toe sy die manne daar sien, besluit sy om eerder in die warm son te gaan sit en ontspan. Maar Boas roep haar nader: “Kom sit hier saam met ons! Hier is genoeg brood vir jou ook, en ons het juis vandag ‘n heerlike wynsous om die brood in te doop.” So lekker het Rut lanklaas gëeet. Die gebraaide koring - sy kon haar vingers afeet. Boas het gesien hoe sy daaraan smul, en toe gee hy haar dit wat oorbly om saam te vat huistoe.
Wanneer Rut terug stap na haar kolletjie waar sy are optel, roep Boas gou die manne bymekaar: “Ek voel bitter jammer vir daardie meisie”, fluister hy vir hulle, “Laat maar ekstra are val, en moet asseblief niks vir haar sê as sy dit optel nie - maak of julle dit nie raaksien nie!” Die manne knik hulle koppe betekenisvol - hulle verstaan maar al te goed......
Laatmiddag stap Rut met ‘n jubeling in die hart huistoe. Sy kan nie wág om vir Naomi alles te gaan vertel nie. Vanmiddag dra sy swaar, ‘n volle dertien kilogram graan het sy bymekaar gemaak, genoeg om hulle twee vir ‘n lang tyd aan die lewe te hou. “Die God van Israel is wonderlik!” borrel dit in haar.
Ek en jy kan ook soos Rut maar net jubel dat die Here so onverstaanbaar goed is vir ons. Wat het ons gedoen om dit alles te verdien? Alles, alles is genade! Vanoggend voel ek ook soos Rut, want ek kan net eenvoudig nie verstaan waarom Jesus vir my sondes betaal het nie. Ek kan dit maar net in groot, groot dankbaarheid aanvaar.
Gebed:
Here, dankie, dankie, dankie! Ek dink weer aan die prys wat U vir my betaal het aan die kruis, die verskrikking waardeur U moes gaan om te betaal vir my sondes. Ek het net eenvoudig nie woorde om genoeg dankie te sê nie.