Romeine 4-7
Paulus stort in hoofstuk 4 sy hart uit teenoor sy broers en susters in Rome wat hy nog nooit eers gesien het nie en in vers 7 haal hy aan uit Psalm 32: “Gelukkig is hulle wie se wettelose dade vergewe, en wie se sondes bedek is; Gelukkig is die mens vir wie die Here die sonde hoegenaamd nie toereken nie!”
Maar nou moet Paulus eers verduidelik. Is hierdie seën slegs vir Jode? Of geld dit ook vir ander mense? Dan gebruik hy Abraham as voorbeeld om te verduidelik dat dit vir almal geld. Maar daar is 'n voorwaarde, en dit is geloof. Abraham het God se vryspraak gekry omdat hy geglo het, en vandag kry ons God se vryspraak wanneer ons in Jesus glo. In hoofstuk 5:1 skryf hy dus: “Omdat ons dan nou op grond van geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus Christus.”
Maar ons moet baie goed besef dat dit niks te doen het met wat ons doen nie, maar alles is suiwer genade. Jesus het immers gesterf, nie vir goeie mense nie, maar vir sondaars, Goddelose mense! Dit is skokkend as ons só daaroor dink! Hy skryf in vers 8: “God bewys egter sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was!” Al wat Hy van ons vra is om daardie geskenk van vryspraak te aanvaar deur in Jesus te glo. Wanneer jy dit die dag aanvaar, dan kry jy volle, onvoorwaardelike vryspraak van God!
Daarmee saam kom egter 'n verantwoordelikheid. Beteken dit dat ek nou maar kan leef soos ek wil, want ek hét nou mos vryspraak? Paulus vra juis die vraag in hoofstuk 6:1: “Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly voortleef, sodat die genade kan toeneem?” En dan antwoord hy met 'n baie besliste: “Hoegenaamd nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog langer daarin bly leef?” In vers 22 plaas hy die stempel daarop: “22 Maar, noudat julle van die sonde vrygemaak is en diensbaar aan God geword het, lewer julle die vrug van heiligmaking, en die uiteinde hiervan is die ewige lewe. 23 Want die loon van die sonde is die dood; maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.”
Hierdie hele ding van die wet en sonde en vryspraak is 'n baie moeilike een om te begryp, veral vir die ou Jode wat deur eeue heen gedril is met die gedagte dat die onderhouding van die wet jou vryspraak gee. Sommige wou dit selfs só verstaan, dat as jy slegs die wet hét, dan is jy alreeds vrygespreek.
En nou kom Paulus met 'n splinternuwe gedagte, dat die wet nie nodig is vir jou vryspraak nie. Is die wet dan verkeerd? Was die ou Jode dan al die jare om die bos gelei deur die wet? Is dit dan selfs moontlik dat die wet verkeerd kan wees?
Paulus vra juis hierdie vraag in Rom 7:7 om die misverstand op te ruim: “Wat sal ons dan sê? Dat die wet sonde is? Hoegenaamd nie! Trouens, ek sou nie die sonde geken het as dit nie deur die wet was nie. Ek sou immers nie geweet het wat begeerte is as die wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer nie.”
Die gevolgtrekking wat Paulus kry uit hierdie gedagtes, is dat dit eintlik baie moeilik is om die wet na te kom. Menslik is dit onmoontlik en selfs 'n man soos Paulus, wat baie naby aan die Here geleef het, het ook maar die wet oortree. Radeloos beskryf hy hoe hy só hard probeer om reg te lewe, maar die verkeerde dinge, wat hy eintlik nie wil doen nie, dit doen hy. En die goed wat hy behóórt te doen, die dinge wat die Here van hom vra, dié doen hy nie! Dus vra hy die vraag in vers 24 wat elkeen van ons vandag met berou voor die Here kan uitsnik: “Ellendige mens wat ek is! Wie sal my tog red uit hierdie doodsbestaan? Aan God die dank – deur Jesus Christus, ons Here!”
As ons dan nou mooi gaan dink oor wat Paulus alles geskryf het oor die wet, kan ons die gevolgtrekking maak dat die wet vandag vir ‘n gelowige daar is as 'n riglyn van hoe God wil hê dat ons moet lewe. Dit beteken dus dat die wet nie daar is as 'n rigiede dokument wat ons veroordeel nie. Wanneer Jesus die wet opsom deur te sê dat die bedoeling daarvan is dat ons God en ons medemens moet liefhê, dan vervang dit ook nie die wet nie, maar dit verduidelik die ware betekenis daarvan.
As ek God waarlik liefhet, sal die natuurlike uitvloeisel wees dat ek Sy heilige Naam sal hoog hou en Hom met hart en siel aanbid. En dit kan ek alleen doen as daar 'n lewende verhouding is met Jesus. Hieruit moet ook natúúrlik vloei dat ek my medemens sal liefhê en só teenoor hom sal optree soos wat die tien gebooie voorskryf.
Die vraag gaan uiteindelik vanoggend dus nie soseer oor die wet, en hoe goed ek die wet onderhou nie. Dit gaan ook nie oor die belangrikheid van die wet nie. Dit gaan in die eerste plek oor vryspraak. Het jy al vryspraak gekry? Inderdaad bied die Here dit vir elkeen aan. Maar vryspraak is alleen moontlik as jy in 'n lewende verhouding met Jesus staan. Die natuurlike uitvloeisel van só ‘n verhouding is dan ook dat jy sal doen wat Hy van jou vra, nie uit dwang nie maar uit liefde vir Hom!
Gebed:
Here, dankie dat U my vryspraak gegee het. Ek wil só graag doen wat U van my vra, veral om liefde uit te leef op alle vlakke van die lewe!