Dink Aan Mekaar
Romeine 1:8-9
’n Tyd gelede kry ek ‘n versoek van iemand om vir hom dagstukkies te stuur. Skaars het hy die eerste een gelees of hy skryf terug dat ons sieninge van die geloof só hemelsbreed verskil, dat hy die dagstukkies liewer nie wil ontvang nie. Ten spyte van die verskille begin daar tussen ons ‘n heerlike korrespondensie wat oor etlike dae strek en ons gesels openlik oor verskeie dinge wat ons na aan die hart lê. Waarom? Al verskil ons en al ken ons mekaar gladnie, is ons steeds bloedfamilie in Jesus.
Wanneer jy vanoggend hierdie dagstukkie lees, is dit miskien al die duisendste keer wat jy dit kry. Nee, ons het seker nog nooit ontmoet nie, maar ek en jy is naby familie en baie van die lesers ken ek al baie goed omdat ek gereeld briefies van hulle kry. Is dit nie wonderlik hoe ons geloof ons saambind in ‘n hegte band nie! Dit is een van die redes wat dit vir my so heerlik maak om elke oggend die uur of twee af te staan om die brief te skryf. Dit was nog nooit vir my ‘n las nie, want so gesels ek met my familie!
Gelowiges praat met mekaar, dis ‘n uitgemaakte saak. Dit is tog só jammer dat gesprekke tussen gelowiges nie altyd so opbouend is nie. Dikwels gaan dit oor onbenullighede, soos oor ou Sannie se rok wat alweer lyk asof dit uit die wasgoedsak kom, of Piet se snor wat totaal oor sy bolip rank. Skinder is tog só lekker! Gewoonlik is dit net die lelike wat ons in mense raaksien en om daaroor te gesels maak die saak nog erger! Vir die arme slagoffer is dit dikwels ‘n pynlike situasie. Jy sal seker weet waarvan ek praat, want jy was heel waarskynlik al die onderwerp van ‘n geskinder. In Efesiërs 4:29 beveel God ons as gelowiges om oor slegs dít wat goed en opbouend is met mekaar te praat!
Gelowiges mag en móét egter oor ander se geloof praat, natuurlik in ‘n opbouende sin. So byvoorbeeld was die wêreld van die gelowiges in Paulus se tyd behóórlik aan die gons oor die feit dat daar al gelowiges was tot in Rome, die hoofstad van die heidense wêreld. Ons durf nie die wonderwerk van die voortstoom van die Evangelie miskyk nie! Jou mond val oop van verwondering as jy byvoorbeeld hoor hoe die Evangelie bloei in ‘n land soos Sjina en selfs Noord Korea waar die Christendom vir baie jare totaal verban was. Daar is tans darem redelike godsdienstige verdraagsaamheid in Sjina. Die wonderlikste verhale het hulle ook destyds in Rusland afgespeel waar Christene wreed vervolg was. Ten spyte van die vervolging het die kerk ondergronds ‘n wonderlike bloeitydperk beleef.
Saam met Paulus kan ons nie anders as om te jubel in dankbaarheid oor die wonderlike dinge wat besig is om te gebeur regoor die wêreld, ten spyte van die verskriklike teenstand wat die Christelike geloof ondervind. Ook ten spyte van die reuse verval van die kerk op baie plekke! So skryf iemand byvoorbeeld vir my van die wonderlike dinge wat besig is om te gebeur in Nieu Zeeland, een van die mees gesekulariseerde lande in die wêreld, waar die Afrikaanssprekendes oral gemeentes stig. Verskillende denominasies is daar bymekaar maar hulle hou kerk dat die biesies bewe! En dit in ‘n land waar die kerk totaal besig was om uit te sterf! Sy skryf: “Die voorreg wat ons het om in ons eie taal die Woord te hoor in ‘n vreemde land, is ‘n baie sterk band vir ons almal en dit dien terselfdertyd ook as ‘n sagte kussing vir nuwe immigrante wat hier aankom.” Is dit nie wonderlik nie!
Oral gebeur daar wonderwerke. Die ou Durban Middestadgemeente van die NG Kerk het so byna gesneuwel as gevolg van armoede en mense wat weggetrek het. Die ander gemeentes van Durban het koppe bymekaargesit en ‘n Metropoolbediening gestig. Verskeie instansies word genader en skielik kry die ou gemeente lewe. Vandag word duisende mense daar bereik met die Evangelie. Die “doellose” kerkgebou is nou feitlik dag en nag ‘n miernes van bedrywigheid. “Ek dank God vir julle, want in die hele wêreld praat mense oor julle geloof.” ( Rom. 1:8)
Paulus skryf egter ook oor ‘n ander baie belangrike saak, naamlik om vir mekaar te bid. Ons het mekaar se voorbidding so bitter nodig. Ek het al menigmale getuig dat ek hierdie dagstukkies nie uit my eie krag kan doen nie, maar dat dit van die Heilige Gees kom. Wat egter ook baie belangrik is, is die feit dat ek weet dat daar baie van die lesers is wat my gereeld dra in die gebed en daarvoor is ek innig dankbaar. Daarsonder sou hierdie skrywe doodloop. Die Durban Metropoolbediening en talle ander sendinginstansies het ons gebede só nodig! So ook die miljoene Christene wêreldwyd wat wreed vervolg word vir hulle geloof. Van jou dominee/pastoor moet jy asseblief nie vergeet nie, want sonder jou voorbidding kan hy nie optimaal sy moeilike taak verrig nie. Gebed (voorbidding) is nie alleen ons geestelike asemhaling nie, maar ook ons medegelowiges se krag en troos. Beoefen dit gereeld.
Gebed:
Here, leer en lei my asseblief om my medegelowiges te onthou in my gebed tot U!