1 Korintiërs 1:1-3
Lentebloeisels tooi die wêreld in ‘n lieflike kleurewonder terwyl Paulus by die venster uitkyk oor die hawestad Efese waar hy al die afgelope jaar of twee besig is om ‘n gemeente te vestig. Terwyl hy sy bekommerde gedagtes laat gaan oor wat besig is om te gebeur oorkant die Egeïese see, in nóg ‘n hawestad, Korinte, sit sy sekretaris gereed om sy brief aan die gemeente in Korinte te skryf. Dit is die jaar 54nC. Paulus het die afgelope ruk allerhande kommerwekkende berigte gekry uit Korinte. Die tyd het aangebreek dat hy baie ernstig met hulle praat. Dit kan net eenvoudig nie so aangaan nie.
“Van Paulus,” begin die ou man bekommerd dikteer. Die sekretaris doop sy skerpgemaakte gansveer in die potjie ink en begin pynlik netjies die woorde in sierskrif neerskryf. “wat deur die wil van God geroep is om ‘n apostel van Christus Jesus te wees.”
Slegs die krap-krap van die gansveer is hoorbaar, as Paulus se gedagtes terugdwaal na daardie dag buite Damaskus, dié dag toe hy die Opgestane Jesus ontmoet het. Watter onbeskryflike invloed het daardie traumatiese dag nie gehad op sy lewe nie! Jesus het hom persoonlik aangeraak en hom ‘n uitgestuurde, ‘n apostel gemaak. “Ons moenie van Sostenes vergeet nie”, sê Paulus vir die sekretaris, “hy het immers saam met my gedink oor hierdie brief! Voeg by dat die brief ook van die broer Sostenes kom.”
“Presies hoe moet ek die brief bewoord?” wonder Paulus. Dis ‘n sensitiewe situasie, en hy wil nie die nuwe gelowiges van Korinte wegdryf van die Evangelie af deur onsensitief te skryf nie. Aan die ander kant gebeur daar afskuwelike dinge in daardie gemeente, en hy durf dit nie maar net daar laat nie! Hy sidder by die blote gedagte aan van die berigte wat sy ore bereik het. Wat ookal die geval - daardie gemeente behoort steeds aan God! “Aan die gemeente van God in Korinte,” dikteer Paulus voort, en dan dink hy eers baie mooi voordat hy die volgende byvoeg: “wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan hom te behoort.”
“Wat ‘n wonderlike gedagte!” gesels Paulus met sy sekretaris, “Is dit nie heerlik om te weet dat ek en jy en óók die gemeente in Korinte vir ons Meester afgesonder is nie? Ons is heilig! Hy het ons Sélf, Persoonlik uit die sondige wêreld uitgehaal en ons heilig gemaak! En dit ten spyte van al ons sonde! Genade! Dis suiwer genade!
Maar die dinge wat nou aangaan in Korinte het nou net eenmaal té erg geword! Baie van hulle heul met gnostisisme. Dis 'n verfoeilike ding! Daardie misteriekultus is besig om ál die werk wat ons daar gedoen het, ongedaan te maak. Kan jy glo dat hulle werklik sou dink dat jy onsterflikheid kan kry deur die een of ander inlywingsrite?” Paulus is sommer omgekrap. “Ons moet dit baie duidelik uitspel dat hierdie sogenaamde ‘pneumatikos’ waarvan hulle praat, suiwer onsin is. Hulle wil sowaar beweer dat jy met jou liggaam kan doen nét wat jy wil, solank jy ’n ‘pneumatikos’, ’n geestelik verligte mens is, en bevry is van die liggaamlike. In kort beteken dit mos dat solank jy ’n gelowige is, maak dit nie saak hóé erg jy in sonde leef nie. Nee, dit werk nie so nie! Ons moet mos heilig lewe!”
“Ek dink jy moet vir my nog ’n sinnetjie invoeg by die aanhef: ‘En verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.’ ” Paulus sien die vraagteken op die sekretaris se voorkop. “Hierdie brief gaan opslae maak! Dalk lees baie meer mense dit as net die gemeentelede in Korinte!”
Paulus glimlag: “Ek wonder tóg hoeveel mense ooit hierdie brief sal lees? As ‘n paar honderd dit onder oë kan kry, sal ek ‘n baie gelukkige man wees! Wie weet, dalk doen hierdie brief vir die volgende jaar of drie nog steeds sy rondtes onder gemeentes. Inderdaad kan ál die gemeentes iets leer hieruit!”
Ja, min het Paulus geweet dat hierdie brief vir die volgende tweeduisend jaar nog steeds sy rondtes sal doen en baie miljoene mense dit sou lees en daaruit leer. Daardie paar honderd wat hy dalk in gedagte gehad het, het sy stoutste verwagtinge oortref! Sou hy dalk die brief anders bewoord het as hy dit geweet het? Ek twyfel!
“Kom ons sluit die aanhef af met ‘n seënwens: Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!”
Paulus peins diep: “Ek voel so jammer vir daardie arme mense wat so mislei word,” sug hy. “Die morele verval in Korinte is skokkend! Dan is daar boonop die verskriklike verdeeldheid. Daar is selfs hofsake tussen gemeentelede! Dit mag mos nie? Hoe bitter nodig het hulle nie juis nóú hierdie seënwens nie. Hoe verskriklik nodig het die arme mense nie die vrede van God nie. En natuurlik Sy heerlike genade! Dit is my innige gebed dat hulle dit werklik sal ervaar, en dat al die ander mense wat hierdie brief lees dit óók sal ervaar!”
Gebed:
Here, my hart loop oor van dankbaarheid dat hierdie brief van Paulus vandag vir ons bewaar gebly het, en dat ons steeds vandag daaruit krag en wysheid kan put. Dankie dat ons vandag U wonderlike vrede in ons harte kan hê. En bo alles, dat ons elke dag U genade kan ervaar!