Volkstelling

21 July, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Volkstelling

Lukas 2:1-7

Video

Oudio

Lukas se verhaal verskuif nou vlugtig na die anderkant van die destydse wêreld, na die swierige stad Rome. Hy vertoef nie lank daar nie, want dis van minder belang. In slegs twee kort sinnetjies skets hy die hele situasie want almal in sy tyd het geweet presies waaroor dit gaan. Ek wil egter verduidelik want ons leef in ‘n totaal ander tyd.

In die weelderige paleis van die keiser in Rome, stap 'n omgekrapte, goudbehangde man in 'n spierwit gewaad ongeduldig op en af terwyl 'n halfdosyn amptenare, óók in wit gewade al agter hom aanstap. Skielik gaan staan hy stil en in die proses veroorsaak hy so byna-byna 'n kettingbotsing van amptenare. “Ja, ek verstáán dat ons dit nie gewoonlik doen nie, maar ek wil wéét hoeveel onderdane in die ganse Romeinse Ryk is!” Hy kan nie verstaan waarom sy amptenare nie onmiddellik sy bevel kan uitvoer nie!

Die amptenare is baie ongemaklik met sy splinternuwe gier, om 'n sensus te wil hou dwarsdeur die Ryk. Besef hy ooit wat hy vra? Maar Augustus is nou eenmaal die keiser, en niemand bevraagteken die keiser nie! “Kry vir Sirenius om die ding te organiseer! Hy is immers die goewerneur van Sirië, hy sal dinge laat gebeur!” beveel Augustus, en daarmee is dit afgehandel. In sy “wysheid” besluit Sirenius dat dit ‘n briljante idee sou wees as elkeen na die geboortestad van sy voorouers gestuur word vir hierdie sensus, want dan is almal wat familie van mekaar is mos bymekaar. Dit maak dinge net soveel makliker!

Nou verskuif Lukas se verhaal na die jaar 7vC. Die plek, die relatief onbekende Betlehem, ook bekend as die stad van Dawid, in die Palestynse provinsie, Judea. In ‘n enkele sinnetjie vertel Lukas dat Josef en sy verloofde, Maria van Nasaret na Betlehem gegaan het. Klink eenvoudig, sommer net gou oorloop soontoe. Maar dit was inderdaad ‘n uitmergelende reis oor gevaarlike, onherbergsame bergpasse wat ‘n volle week geduur het.

‘n Groot menigte mense stroom die stadjie binne. In die lang tou van mense stap Josef, die timmerman van Nasaret en sy hoogswanger verloofde, Maria op ‘n donkie. Niemand slaan eers ag op hierdie twee eenvoudige mense nie.

In slegs enkele kort sinnetjies beskryf Lukas die asemrowende verhaal van die geboorte van Jesus, so asof dit ‘n alledaagse gebeurtenis is. 

Daar is egter baie, baie meer in hierdie verhaal as wat die oog tref. Eerstens die hoofspelers. Aan die een kant twee magtige politieke figure, die magtige keiser Augustus en sy handlanger Sirenius, goewerneur van Sirië. Aan die ander kant van die spektrum sien ons twee doodgewone mense sonder enige status, Josef en Maria. Augustus se mag was astronomies, en baie mense het hom selfs gesien as ‘n soort god. Josef was ‘n eenvoudige timmerman en die jong meisie Maria, se status was totaal niksseggend.

Augustus kondig ‘n wêreldwye volkstelling af. Dit was ‘n ongewone bevel van astronomiese omvang. So ‘n sensus was totaal ongehoord, want die logistieke probleme rondom só ‘n aksie was net eenvoudig te groot. Om dinge te vergemaklik moes elke inwoner na sy voorgeboortelike stad gaan, iets wat ‘n totale ontwrigting van die samelewing beteken het.

Ten spyte van die omvang van Augustus se operasie, het die gebeurtenis totaal in die vergetelheid verdwyn, en selfs in die annale van die geskiedenis word dit nie eers vermeld nie. Die parallelle gebeurtenis, die geboorte van die baba van twee feitlik onbekende mensies in die onbelangrike gehuggie Betlehem, word beskou as die grootste gebeurtenis van alle tye. 

Waarom? 

Die antwoord, in kort, is dat dit alles die werk van God is.

Die feit is dat God vir Keiser Augustus gebruik het om hierdie ongewone ding te laat gebeur, want anders sou Josef nooit, óóit vir Maria na Betlehem geneem het in haar toestand nie. Jesus móés in Betlehem, die Dawidstad gebore word sodat almal sou besef dat Hy die langverwagte Messias, die afstammeling van Dawid is. 

Tweedens was dit ook baie belangrik dat Hy in ‘n stal gebore moes word, en dat Sy eerste bedjie ‘n krip sou wees waaruit diere vreet. Só sou Hy alreeds by geboorte die lydensweg begin wat uiteindelik moes uitloop op die vryspraak en verlossing. Dáárom die volkstelling. Dáárom die horde mense sodat daar nêrens elders vir hulle plek sou wees as in ‘n vuil stal nie. Absolute Goddelike ingryping!

Baie mense wil hierdie dinge verklaar deur te sê dat dit ‘n wonderlike sameloop van omstandighede was. Nee! Die hele gebeurtenis was haarfyn deur God beplan om uit te werk tot op die sekonde en die presiese, regte plek. Elders sien ons dat selfs die sterre en planete presies reg reageer het volgens God se bevel.

Ons staar ons dikwels blind teen die Kindjie in die krip, en vergeet om die groter prent raak te sien, hoe die almagtige God alles laat gebeur het soos wat Hy dit beplan het. Om dit selfs duideliker vir ons as mense te maak, het Hy hierdie dinge in die Skrif laat opteken deur Sy profete, honderde jare voordat dit plaasgevind het. Voor só ‘n God kan ons net neerval in aanbidding.

Gebed:

Here, vanoggend staan ons in verwondering oor U almag. Ons loof en prys U grote Naam.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026