Amos 5:1-7
Toe ek kind was, het dit vir my altyd groot lekkerkry gegee om ‘n klippie in die water te gooi. Pa het my geleer hoe om ‘n plat klippie te laat hop-hop-hop oor die gladde oppervlakte van ‘n dam, en toe ek dit die dag bemeester, het ek gekraai van die lag! Maar ek was veral gefassineer oor die golwe wat veroorsaak word as jy ‘n klip in die water gooi. Konsentriese sirkels van skokgolwe kring al wyer en wyer uit, totdat hulle uiteindelik daar teen die anderkantste wal wegsterf.
Amos gebruik dieselfde effek in hoofstuk 5, met God as middelpunt, waar die klippie die water tref, en die mense se aksies wat uitkring in golwe na buite.
Ons het al agtergekom dat sosiale geregtigheid ‘n deurlopende tema in Amos is, en dit vind sy teologiese en strukturele middelpunt in hoofstuk 5. Vandag is dit steeds ‘n baie aktuele tema, wat regdeur die geskiedenis loop. Dit was sosiale geregtigheid, of dalk eerder ongeregtigheid wat die Franse rewolusie aangeblaas het. En so was hierdie selfde onderwerp al die oorsaak van menige opstand en selfs burgeroorlog.
Amos begin met die buitenste sirkel, en werk binnetoe. Hy vertel van ‘n droewige dood en begrafnis, van Israel se val. “Israel het geval en hy sal nie weer opstaan nie”, snik Amos dit uit in vers 1. Kan jy tel hoeveel keer jy al in jou lewe geval het? Dalk baie kere, maar die belangrikste is dat jy weer opgestaan het. Jy is ‘n wenner as jy een keer meer kan opstaan as wat jy geval het! Die droewige is dat Israel nie weer opgestaan het nie.
Eendag kom iemand na my Mosbolletjie toe, en hy simpatiseer oor my tragiese dood. Hy het daarvan gelees in die koerant. Mosbolletjie moes hom baie gou reghelp, want ek was steeds springlewendig. Dit is nogal ‘n skok as jy moet hoor dat jy dood is! Die doodsberig was wel vir Louis Nel, maar beslis nie myne nie. Amos maak egter nie ‘n fout as hy Israel se doodsberig aankondig nie. Ja, hulle was dalk verbaas om te verneem dat hulle gesterf het, maar vir Amos was dit ‘n voldonge feit dat Israel beslis nie sou oorleef nie. Hy sing selfs ‘n klaaglied of treurlied om te sê hoe hartseer en jammer hy is oor hulle afsterwe. Wat hierdie tragedie nog erger maak, is die manier wat Israel in die oorspronklike Hebreeus as ‘n maagd of ‘n jong meisie voorgestel word, in die fleur van haar lewe.
Daar is egter gelukkig ‘n tweede sirkel golwe wat ons tref op ons reis na die middelpunt. Hierdie sirkel se tema in vers 4 tot 6: “Soek die Here en leef!” Amos sê dat Israel moet vergeet van Bet-El, Gilgal en Berseba, van al hulle heiligdomme. Al wat Hy vra is dat hulle na Hom as Persoon toe sal kom. Hy is immers die Bron van die lewe! By Hom alleen is daar ware geluk.
Die vraag is: Hoe soek jy die Here? Deur Hom te dien! Deur aan Hom gehoorsaam te wees, Sy gebooie te onderhou. Om in ‘n intieme verhouding met Hom te leef.
Die derde sirkel handel oor regspraak. Amos wys in vers 7 die vinger na Israel: “Julle maak van die regspraak ‘n bitter saak, julle trap die reg in die grond in!” Reg en geregtigheid is vir enige gemeenskap van uiterste belang. As Amos van regspraak praat, dan verwys hy na die gebruik in daardie tyd om regsbeslissings te maak in die stadspoort. Dáár is sake aangehoor, en ‘n regverdige uitspraak moes dan gemaak word. Regspraak is natuurlik die praktiese vrug van die reg of geregtigheid, ‘n begrip wat ‘n verhouding tussen mense of tussen God en mens uitdruk.
Reg en geregtigheid is die dinge wat van ‘n gemeenskap ‘n veilige plek maak, waar jy sonder vrees kan leef. Ongelukkig het Israel regspraak in ‘n bitter saak omskep, Hy het dit vertrap! Die armes en swakkes wat veronderstel is om deur die reg gehelp te word, was juis daardeur benadeel.
Ons gelowiges word vandag ook deur Amos aangespreek in ons moderne opset. Laat ek werklik reg en geregtigheid geskied in my lewe? En nou verwys ek nie na die howe nie, maar na my persoonlike lewe. Hierdie begrip kan ek alleen waarlik uitleef as ek in die eerste plek die Here soek, soos Amos in vers 4-6 beskryf. Maar dan vra dit ook van my om prakties die wet uit te leef soos Jesus dit vir ons gestel het, om waarlik liefde uit te leef. As ek 1 Korintiërs 13 deel van my lewe maak, dan kan ek nie anders as om reg te laat geskied nie. As ek die wil van die Here soek en dit prakties uitleef, sal geregtigheid in my lewe seëvier. Ek daag jou vandag uit om in jou werksituasie en ook in jou persoonlike lewe die wil van God te soek en te doen wat reg is, al word jy self hierdeur benadeel.
Ons is nou stadig besig om die middelpunt van die sirkels te bereik. More kyk ons DV daarna.
Gebed:
Here, gee my asseblief die wil en krag om geregtigheid in my lewe te laat geskied.