Lukas 21:20-24
Al ooit gehoor van ‘n stad met die naam Aelia Capitolina? Of dalk el-Quds? As hierdie name vir jou Grieks klink, dan hoef jy nie alleen te voel nie. Albei is name wat gegee is vir die stad wat eens op ‘n tyd bekend gestaan het as Jerusalem. In die jaar 130 n.C. is daar ‘n Romeinse kolonie gevestig na ‘n besoek van die Keiser aan die vervalle stad Jerusalem. Hulle het dit herdoop na Aelia Capitolina. In 638 n.C. het die Mohammedane die stad verower en dit na el-Quds herdoop. Dis tragies dat die trotse stad van koning Dawid so in vergetelheid moes verval!
Maar dit was vir die volgelinge van Jesus nie ‘n verrassing nie, want Hy het dit alles haarfyn voorspel. Jesus se profesie oor Jerusalem het al begin tydens Sy triomfantlike intog. Jy sal onthou hoe Jesus gehuil het oor Jerusalem net voor Hy die stad binnegery het onder begeleiding van duisende singende, palmswaaiende lofbetuigers (Luk 19:41). En nou profeteer Hy wéér oor die stad en Hy vertel van leërs wat die stad sou omsingel en dat baie van die inwoners gewelddadig sou sneuwel. Ander sou as krygsgevangenes weggevoer word. Die verskrikking van hierdie aanval op Jerusalem word beklemtoon deur die gedagte dat dit veral swanger vroue en mammas was wat sou ly. Dit sou ‘n verskriklike tyd wees, nie alleen vir Jerusalem nie, maar vir die hele Judea. “Vlug berge toe”, het Jesus gewaarsku!
Waarom? Waarom gebeur sulke dinge?
Jesus gee self die antwoord: God voltrek Sy straf oor hierdie mooi stad.
Skaars veertig jaar later word Jesus se profesie woord-vir-woord waar toe die Romeine die stad beleër en gewelddadig verower. Die stad was verwoes en die Jode verstrooi - dié wat daarna nog bly lewe het!
‘n Mens wil onwillekeurig die vraag vra: “Is dit nie ‘n bietjie onregverdig van God nie? Was Jerusalem dan soveel slegter as ander stede?”
Kom ons kyk ‘n bietjie na feite, en dan kan elkeen maar vir homself besluit. Jerusalem was in die tyd van koning Dawid aan die Joodse volk gegee as ‘n trotse sieraad, gebou op die einste berg waar Abraham vir Isak moes offer, sodat elkeen die stad nie alleen as die stad van Dawid kon sien nie, maar veral as die stad van God! Baie jare later het God Sy groot genade op die mensdom uitgestort toe Hy Sy Seun, Jesus na daardie einste stad gestuur het. Hy kon as Koning daar heers vir ewig, as die inwoners, God se volk Hom net sou aanvaar. Triomfantlik het Hy die stad binnegery om Jerusalem as die Stad van God te proklameer.
Maar wat gebeur? Daar word saamgesweer teen Hom deur die stadsleiers en kerkleiers, en weldra word die ganse volk teen Hom opgesweep. Hy word belieg, bespot, gegésel en gekruisig deur die inwoners van Judea en Jerusalem - Hy, die Heilige, die Seun van God! Na regte moes die toorn van God onmiddellik die stad verteer het! Dit is net logies dat die Here daardie stad wat vir God Sélf probeer vernietig het, nét daar met die aarde sou gelykmaak! Maar dit gebeur nie, want Hy is genadig. Hy gee die inwoners, kerkleiers en stadsleiers nóg ‘n kans om te besin oor wat hulle gedoen het, en om berou te kry oor hulle verfoeilike daad. Veertig jaar lank was Hy hulle genadig. Vir veertig jaar lank het die Here Sy hand van straf oor hulle weggehou. Veertig jaar waarin eers die apostels probeer het om die mense te oortuig, en later ook al die ander gelowiges.
Wat het gebeur? Daar was manne soos Saulus wat fanaties tekere gegaan het om elkeen wat ‘n aanhanger was van hierdie Jesus te vervolg, in die tronk te stop en selfs dood te gooi met klippe, soos wat met Stefanus gebeur het. Die Jode het hulle ore toegedruk vir die Evangelie wat die gelowiges verkondig het. Hulle het hulle harte verhard en die gelowiges uit die stad uitgedryf tot in die heidense lande!
Veertig jaar later, na talle probeerslae deur volhardende gelowiges wat maar aanhou probeer en probeer het ten spyte van genadelose vervolging, het God besluit dat genadetyd uitgeloop het. Die verskrikking van die Romeinse aanslag was onbeskryflik. Selfs die pragtige tempel is met die grond gelykgemaak.
Jesus het verduidelik: “Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is.” Die Romeine het nie vir altyd daar regeer nie. En ook nie die Mohammedane wat die stad in 638 n.C. verower het nie. Ook húlle tyd het verbygegaan, nés Jesus voorspel het!
‘n Persoon wat vandag steeds vir Jesus verwerp, leef ook in genadetyd. Wanneer verwerp jy vir Jesus? As jy nie ‘n persoonlike verhouding met Hom het nie, dan verwerp jy Hom, al glo jy dat Hy werklik bestaan. (Terloops, die duiwel glo ook aan Jesus se bestaan!) Die probleem is dat God se genadetyd uitloop. Eendag is dit te laat. Daardie eendag kan enige dag kom, en dan skielik is daar géén kans meer nie. Jerusalem se einde is ‘n kinderpartytjie teen die verskrikking wat wag op diegene wat Jesus verwerp!
Gebed:
O Here, dankie vir U groot genade, en dat U selfs genadig is oor ongelowiges en hulle nog ‘n kans gee.