Genesis 3:14-24
God het die mens goed gemaak, baie spesiaal, beter as enige ander wese wat Hy geskep het. Hy het groot verwagtinge en ideale gehad vir hierdie besonderse skepping van Hom. Maar dan gaan staan en mors die mens alles op! Natuurlik is die slang ook nie onskuldig nie. Hy is immers die een wat hulle verlei het.
Nou moet ons baie duidelik besef: sonde het gevolge!
Moontlik sal jy baie gou vir my sê dat God mos genadig is en dat Hy my as gelowige se sondes vergewe het, soveel so dat hulle eintlik nie eers meer bestaan nie. Inderdaad is dit so. Daar is egter iets wat nie maklik ongedaan gemaak kan word nie, en dit is die gevolge van ons sonde. Kom ons neem ‘n voorbeeld: Sê nou jy skiet iemand dood in ‘n woedebui. Dadelik besef jy dat dit verkeerd was en jy het berou. Jy vra God om jou te vergewe. Sal Hy dit doen? Ja, natuurlik! Jou daad kan egter nie ongedaan gemaak word nie, al het jy God se vergifnis. Jy het deur dit wat jy gedoen het baie pyn en smart veroorsaak vir die persoon se familie en hulle dalk selfs beroof van ‘n broodwinner. Boonop gaan jy ook deur die gereg aangekla word en tronkstraf uitdien vir moord.
Het God die twee mense vergewe? Ja, ek glo beslis so. Hulle daad het egter ‘n vertrouensbreuk tussen hulle en God veroorsaak.
Eerstens is daar die gevolge vir die slang. Hy word verneder. Voortaan sal hy op sy pens seil en as’t ware stof eet omdat hy hom teen God verhef het. Maar nie alleen dit nie, hy het ook ander mense in die verderf gelei en bygedra tot hulle vertrouensbreuk met God. Daarom word sy straf soveel erger, en nou sal daar ook vyandskap wees tussen hom en die vrou.
Hierdie vyandskap waarna in Genesis verwys word, kan op verskillende maniere verstaan word. Eerstens ‘n fisiese vyandskap. Slange val mense aan en mense maak slange dood. Tweedens sê sommige dat dit wys op die stryd tussen die mens en demoniese magte. Die Jode van die derde eeu vC. het dit geïnterpreteer as die Satan wat die Messiaskoning wil vernietig. ‘n Vierde verduideliking is dat dit ‘n Messiaanse profesie is wat in verband staan met Jesus wat die Satan vernietig. ‘n Vyfde verduideliking is dat dit te doen het met die stryd tussen goed en kwaad.
Watter een is reg? Die hoogtepunt van hierdie vyandskap kom natuurlik wanneer die slang die nageslag van die vrou in die hakskeen sal byt maar dat haar nageslag sy kop sal vermorsel.
As ons uit ‘n Nuwe Testamentiese perspektief hierna kyk, is die hoogtepunt van hierdie stryd die dag wanneer die slang (die bose) Jesus op die oog af dodelik verwond, maar dat Hy ten spyte hiervan die oorwinning behaal oor die bose. Die bose word gebind sodat hy geen verskrikking meer inhou vir die gelowige nie.
Die vrou se lot is dat sy pynlike swangerskappe en geboortes sal beleef. Tóg sien ons God se genade hierin. Sy kan steeds haar lewensvervulling as moeder ervaar, alhoewel dit met pyn gepaard sal gaan.
Ook haar verhouding met haar man word vertroebel. Ja, sy sal steeds die hunkering na hom hê maar dit sal ‘n gebroke verhouding wees waar hy oor haar sal heers.
Wat die man betref: sy pragtige verhouding met God is lelik skade aangedoen. Voortaan sal die kos nie uit die hemel vir hom val soos in die tuin van Eden die geval was nie. Hy sal hard moet werk om kos te verdien. Buite die paradys is dit ‘n harde wêreld van onkruid en peste wat jou oeste verswelg.
Die twee mense moes op die harde manier uitvind dat sonde nie maar sommer maklik uit die weg geruim kan word deur ‘n paar eenvoudige stappe nie.
Die laaste deel van God se straf vir hulle sonde, klink vir ons na ‘n verskriklike een: hulle word uit die tuin verban. Ons wil amper vra: “Hoe kan God so hard wees met hulle?”
Ons moet egter uit die regte perspektief kyk na hierdie daad, dan sal ons sien dat dit eintlik genade is. Sien, die tweede spesiale boom is die boom van lewe. Sou hulle hiervan eet, sou hulle vir ewig lewe met hierdie las van sonde wat reeds deel van hulle lewe geword het. God wou dit verhoed, daarom verban Hy hulle en plaas ‘n wag van gerubs by die ingang van die tuin van Eden sodat daardie verskriklike lot hulle nie sou tref nie.
Maar God stuur hulle nie maar net blindelings in die woeste wêreld in nie. Eers gee Hy hulle name. Tot dusver het hulle net bekend gestaan as man en vrou. Nou kry die man ‘n persoonlike naam, Adam, “Mens” en die vrou Eva wat “Lewe” beteken. Daarna kry hulle behoorlike permanente klere wat baie meer prakties is as hulle vyeblare. Klere is belangrik, want dit verraai iets van jouself, jou status, jou persoonlikheid ens. In hulle geval wil die vyeblare iets sê oor hulle skaamte en verlore onskuld teenoor God. Hulle nuwe velklere bedek hulle skaamte sodat hulle nie meer hoef weg te kruip nie.
Dus sien ons selfs in God se straf terselfdertyd ook Sy groot genade. Hy het hulle nie uitgewis nie, maar hulle ‘n tweede kans gegee. Wat sou hulle daarmee maak?
Wat maak ek en jy met die tweede kanse wat God ons gee? Gebruik ons dit tot Sy eer?
Gebed:
Dankie dat U my ook ‘n tweede kans gegee het, Here! Help my asseblief om hierdie kans tot U eer te gebruik.