Johannes 16:16-24
Mense beweer dat ‘n man nie geboortepyn ervaar nie. Dit is louter onsin! Ek onthou nog soos gister, daardie dag, 47 jaar gelede, toe ek en my Mosbolletjie se eersteling gebore is. Eers was daar die opgewondenheid dat die dag uiteindelik aangebreek het, maar toe begin die geboortepyne. Ek weet nie wie van ons twee die meeste angs belewe het nie - sou ons ooit betyds by die kliniek aankom? Elke sametrekking het die koue sweet op my gesig laat uitslaan van pure benoudheid. Lánk voor dit werklik nodig was, het ek my kosbare aflewering reeds gedoen by die kliniek. En toe begin die pynlike wag - minute het harmansdrup-stadig soos ure verbygekruip. Met elke kramp het ek inmekaargekrimp van pyn vir my liefling. Ek het haar pyn probeer minder maak, maar ek het so magteloos gevoel!
En toe, uiteindelik, het die oomblik aangebreek, en sy word lêgemaak in die teater. En toe begin die éintlike nagmerrie! Dit het gevoel asof my binneste uitgeruk word, elke keer as sy gil van die verskriklike pyn. Angs het my aan die hart gegryp toe ek sien hoedat die are in haar gesig uitbult en sy bloedrooi word. “Weet die dokter ooit wat hy doen? Sê nou my kosbare Mosbolletjie kry ‘n beroerte - ek kan mos sien hoe skrikwekkend haar bloeddruk styg, elke keer as sy moet druk! Soveel vrouens sterf tydens geboorte gee - ek wil haar nie nou verloor nie!” Die angsgedagtes het deur my gemoed gemaal en die vrees wou my opvreet!
Toe skielik was alles verby en ons eersteling maak die mooiste geluid wat ‘n mens se ore ooit beskore is - daardie eerste gil van verontwaardiging omdat hy so ongeskik behandel was! Blou, geswel en vreklelik, is hy in ‘n doek toegedraai en vir Mamma gegee. Ons vreugde het géén perke geken nie! Wat oomblikke tevore nog angs was, was nou ongekende vreugde. In my Mosbolletjie se arms het die volmaakte klein mensie gelê en my glimlag was net gekeer deur my ore wat in die pad was!
Jesus verduidelik vir Sy dissipels dat dit nog net ‘n klein rukkie is voordat hulle Hom nie meer sal sien nie. Maar dit sal van korte duur wees, want binnekort is Hy weer terug, maar hierdie keer slegs tydelik voordat Hy vertrek na Sy Vader. Jesus berei hulle voor vir die trauma waardeur hulle sal gaan in die volgende tyd. Hy vergelyk dit met die verskriklike pyn waardeur ‘n vrou gaan tydens die geboorte van ‘n baba.
Wat ‘n wonderlike vergelyking is dit nie! Ja, inderdaad is dit Hy, Jesus, wat ál die pyn fisies beleef het en die proses moes deurmaak. Dit was wel Sý lewe wat op die spel was, maar die dissipels moes al hierdie dinge aanskou met angs wat aan hulle harte gegryp het!
Soms gebeur dit ook maar dat ‘n pa dit nie meer kan hanteer nie en dan hardloop hy weg! Net so kon Petrus dit nie meer hanteer nie en het hy die hasepad gekies, deur te sê dat hy gladnie weet wie hierdie Jesus is nie. Hy wou die verskriklike foltering nie meer aanskou nie. Ek dink daardie handjievol manne en vroue wat hardnekkig vasgeklou het aan Jesus tot op die bitter einde, het elke oomblik van Sy marteling, bespotting en kruisiging saam met Hom beleef. Die angs het hulle harte uitgeruk. Hulle droefheid het géén perke geken toe hulle Hom uiteindelik daar van die kruis moes afhaal en na die graf toe dra, om vir ewig weggelê te word nie. Nou was daar niemand meer om eers ‘n wonderwerk te doen om Hom soos Sy vriend Lasarus te laat opstaan nie. Dit was finaal verby! Al hulle drome was vernietig. Hulle was bitter bang, want nou het húlle beurt dalk aangebreek om óók vervolg te word soos hulle geliefde Meester!
Die pikswart Sabbat het gekom - ‘n Sabbat waarin hulle in sak en as gesit het!
Toe breek daardie Sondagoggend aan. Eers die skok as hulle ‘n leë graf kry. Maar dan begin die berigte instroom van alle kante af: Jesus leef! Hulle Meester het uit die dood opgestaan! Iemand het Hom hiér gesien en twee manne het Hom weer dáár gesien. Hy het saam met twee manne aandete genuttig in Emmaus. En dan die uitbundige vreugde as Hy skielik tussen hulle staan en met hulle gesprek voer!
Eers tóé besef hulle die betekenis van dit alles. Wanneer Jesus dan ‘n ruk later na die hemel opvaar, is dit nie met droefheid wat hulle van Hom afskeid neem nie, want nou besef hulle dat Hy steeds by hulle is, al kan hulle Hom nie meer fisies sien nie. Boonop gee Hy kort daarna ook vir hulle die Ander Trooster, die Heilige Gees.
Terwyl Jesus vir hulle hierdie prentjie skilder, bring Hy die saak op oor gebed. Hierdie sou vir hulle ‘n uiters belangrike vorm van kommunikasie met Hom word. Jesus maak vir hulle die deur oop na die Vader, want deur gebed kan hulle nou ál hulle behoeftes uitstort voor die Heilige God. Jesus word so ook vir my en jou die Weg na die Vader. Ons kan vandag vryelik in gesprek tree met Hom deur Jesus. “Vra, en julle sal ontvang,” sê Jesus, nie alleen vir die manne saam met Hom om die tafel nie, maar ook vir jou en my vandag, “sodat julle blydskap volkome kan wees.”
Gebed:
Almagtige Vader, dankie dat ek ook die wonderlike voorreg het om met U te mag praat deur Jesus, my Here. Dankie dat ek ook van U kan vra en dat U my blydskap volkome maak!