Lukas 10:1-24
Sowat twee weke gelede het ons gesien hoedat Jesus die twaalf apostels uitgestuur het om op hulle eie die Evangelie te gaan verkondig. Ek dink dat dit vir hierdie manne aan die een kant opwindend moes wees, want hulle word vertrou om die blye nuus te gaan verkondig! In vandag se perikoop sien ons egter ‘n ander prentjie. Jesus besluit om ‘n groot groep van die mense wat elke dag na Hom kom luister op dieselfde manier uit te stuur om prakties in die veld te gaan ervaar wat dit beteken om Jesus se opdrag uit te voer. Die blote feit dat Lukas nogal ‘n lang stuk daaroor skryf, sê vir my dat dit ‘n baie belangrike gebeurtenis was. Ons kom nou tot die besef dat dit nie net die uitgesoekte twaalf manne was wat die voorreg gehad het om die Woord te versprei nie, maar elkeen wat gewillig was, ook die doodgewone volgelinge van Jesus.
Niemand van ons kan vandag sê dat dit net die dominee, pastoor of sendeling is wat ‘n evangelis is nie. Elke gelowige het hierdie taak en opdrag van Jesus.
Iemand vertel my per geleentheid dat sy as jong meisie ‘n dame wat ‘n baie groot rugoperasie gehad het moes gaan versorg. Die vrou het plat op haar rug gelê, en kon nie eers haar kop beweeg nie. Sy moes letterlik gevoer word. Toe die meisie die eerste keer die vertrek instap, was die vrou se heel eerste woorde aan haar: “Ken jy vir Jesus? Is jy gered?” Dit het die meisie tot in haar fondamente geskud, en haar hele lewe radikaal verander. Vandag, jare later is sy sélf ‘n ywerige getuie vir Jesus. Selfs iemand wat totaal hulpeloos is, kan steeds op ‘n kragtige manier die Evangelie uitdra!
Wanneer Jesus die groep van 72 uitstuur, beklemtoon Hy dat dit beslis nie maklik sou wees nie en dat hulle soos lammers tussen die wolwe ingestuur sou word. Daar sou beslis ook mense wees wat hulle sou verwerp. Hulle moes hulle klaarmaak om nes Jesus behandel te word. Jesus was beslis nie altyd so goed behandel nie!
Jesus het ook vir hulle ‘n spesifieke gedragskode gegee wat hulle tydens hulle sending moes nakom. Hulle moes byvoorbeeld nie mooipraatjies maak of ginnegaap langs die pad nie want die boodskap was baie dringend! En hulle moes die vrede van God saam met hulle dra en uitstraal. Hulle was nie toegelaat om geld of ‘n spul bagasie saam te dra nie, sodat hulle kon besef dat hulle ten volle van God afhanklik was tydens hulle sending. Verder het Jesus mooi vir hulle verduidelik wat hulle moes doen as hulle gasvry ontvang was. Hy het egter al te goed besef dat hulle ‘n goeie kans sou staan om weggejaag te word, dus vertel Hy hulle ook wat om in so ‘n situasie te doen.
Elke persoon wat sy nek uitsteek om die Evangelie te versprei, kan verseker wees van teenstand. Ek weet - ek het dit persoonlik al ‘n paar keer ondervind. Dan voel jy seergemaak, verwerp! Jy moet dit egter in perspektief sien. Dis nie jý wat verwerp word nie maar dit is Jesus wat verwerp word en dan haal die persoon dit op jóú uit! Hy kan nie vir Jesus bykom nie! Wanneer dit gebeur moet jy letterlik die stof van jou voete afskud en jubel oor die feit dat jy dit werd geag is om vir Jesus te kon ly! Ons kan almal van die Jehovas Getuies één ding leer, dat hulle bereid is om baie slae te verduur om hulle boodskap uit te dra! Jy kan hulle maar wegjaag, maar as jy weer sien, is hulle net weer terug met nóg ‘n boekie of pamfletjie. Dit vra dikwels van my en jou om dikvellig te wees wanneer dit by die Evangelie kom! Laat die beledigings maar afrol soos water van ‘n eend se rug af en moenie dit persoonlik opneem nie.
Nadat hierdie uitgestuurdes teruggekom het, was hulle baie opgewonde, want skielik het hulle besef dat dit werk! Selfs duiwels het hulle gehoorsaam as hulle net Jesus se Naam genoem het!
Jesus se kommentaar was dat Hy die duiwel soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val het! Die feit van die duiwel se val is egter minder belangrik. Iets wat egter wél van baie groot belang is, is dat Jesus se volgelinge nou toegang tot die hemel verkry het. Hy wou die perspektief regstel dat dit die hemelse sekerheid was wat die belangrikste gevolg was van die uitvoering van Jesus se opdragte en nie die sensasionele aardse gebeure nie.
Lukas vertel hoe Jesus Sy blydskap oor die gebeure uitgejubel het omdat doodgewone, eenvoudige mense begin begryp het waaroor dit alles gegaan het. Op dieselfde manier sal Jesus en die ganse engeleskaar saam met Hom dit uitjubel wanneer ons doodgewone mense begin besef dat dit ons verantwoordelikheid en taak is om die Evangelie te versprei. Dit is nie die taak van predikante en pastore en al die hoogsgeleerdes nie. Hulle groot taak is om ons opleiding te gee. Die taak om die Woord te versprei lê egter vierkantig op my en jou skouers, want ons is die uitgestuurdes.
Gebed:
Here, maak my asseblief gewillig om U Woord dag en nag te verkondig.