Handelinge 11:27-30; 13:1-3
Die blydskap is groot in Antiogië wanneer Barnabas daar opdaag met Saulus. Die berigte oor hierdie bekwame jong prediker het hom ver vooruitgeloop. En so word hy in die groot stad aangestel as medeleraar saam met Barnabas. Uiteindelik kry hy nou die geleentheid om in sy eie gemeente te werk!
Skaars begin Saulus sy nuwe bediening, of daar kom 'n groot krisis. Daar kom 'n profeet uit Jerusalem aan, en die man is baie bekommerd. Die Here het aan hom openbaar dat daar 'n hongersnood op pad was wat die hele wêreld sou tref, en dit was veral die sukkelende gemeente in Jerusalem wat baie swaar getref sou word.
Die gelowiges wat in Jerusalem agtergebly het, het alreeds baie swaar getrek. Min van hulle het enigsins 'n inkomste gehad, want al die Jode het hulle verwerp. Tydens die bewind van Keiser Claudius in 41 tot 54nC was daar 'n hele paar ernstige droogtes. Dit het egter in 46 tot 48nC 'n piek bereik en die inwoners van Jerusalem was besig om te sterf van honger. Wat die saak nog vererger het, was die feit dat die jaar 48nC boonop 'n Sabbatsjaar was, wat beteken het dat die Jode verbied was om te plant. Al die landerye moes onbewerk gelaat word. Dit was hierdie verskriklike droogte wat die profeet uit Jerusalem, Agabus voorspel het.
Die gemeente van Antiogië is diep geraak deur dit wat hulle hoor. Sommer dadelik neem hulle 'n besluit: “Ons sal die sukkelende Jerusalemgemeente help voordat dit dalk hééltemal te laat is. En só begin 'n fondsinsameling onder die gemeentelede. Elkeen dra by na sy eie vermoë, en kort voor lank is daar 'n aansienlike bedrag bymekaargemaak. Saulus en Barnabas, die twee leraars, word afgevaardig om na Jerusalem te gaan met hierdie geld en dit daar aan die ouderlinge van die Jerusalemgemeente te oorhandig. Hierdie geld sou genoeg wees om die gemeente deur te dra totdat die hongersnood verby was.
Vandag kan ons gaan leer by daardie aan-die-brand gemeente van Antiogië. Armoede in die kerk is vandag 'n algemene ding, en ons móét dit net eenvoudig aanspreek. As gelowiges mag ons nie maar net anderpad kyk terwyl ons medegelowiges baie swaar kry nie. Maar dit is nie net in ons eie gemeente nie, dit geld vir die gelowiges buite ons gemeentegrense ook. So het ons byvoorbeeld n paar jaar gelede 'n sendinguitreik gehad na Jabula in Mosambiek, waar ons nie alleen die Evangelie verkondig het nie, maar ook vragte kos en klere vir daardie brandarm gemeente geneem het. Die blydskap was baie groot!
Daar was ook 'n nuwe gemeente gestig in 'n totaal onbereikte gebied. Daardie gemeente het van krag na krag gegaan en teen 'n groot tempo gegroei! Ons loof die Here daarvoor! ‘n Jaar later het ons wéér so ‘n uitreik gedoen met wonderlike resultate en baie dankbaarheid.
Vir 'n jaar lank werk die twee vriende saam as leraars in Antiogië. En dan staan een van die gemeentelede een dag op en verklaar dat die Heilige Gees in baie duidelike terme vir hom gesê het dat Saulus en Barnabas uitgestuur moet word op 'n “uitreik” na die heidenlande waar die Evangelie nog nie weerklink het nie.
Die gemeente is dadelik diep geraak deur hierdie uitspraak, en almal besluit om vir 'n tyd lank te vas en in ernstige gebed te verkeer, want hierdie is immers 'n opdrag wat nie ligtelik opgeneem kan word nie. Hier word nou gepraat van baie ernstige sake! Tot dusver was die Evangelie hoofsaaklik onder die Jode verkondig, maar nou gaan dit veral die heidense wêreld raak.
Daar is by die hele gemeente egter géén twyfel dat hulle twee geliefde leraars, Saulus en Barnabas die aangewese persone is om hierdie taak uit te voer nie. En só word die twee manne uiteindelik, nadat hulle die hande opgelê is, uitgestuur op hulle lang reis wat maande sou duur. Uiteindelik sou Saulus oor die volgende jare minstens 16'000km te voet aflê op sy sendingreise.
As jou gemeente vandag sou besluit om iemand op 'n sendingreis te stuur vir 'n paar maande, wie sou julle kies? Dit sou beslis nie die leraar wees nie, want hy is mos die man wat die gemeente aan die gang hou! Dit sou waarskynlik een van die ouderlinge wees wat nie so 'n groot taak in die gemeente het nie. Hier stuur Antiogië egter altwee sleutelpersone in die gemeente weg. Hulle sal intussen maar sélf regkom met die leiers in hulle gemeente. En hierdie gemeente is beslis nie afhanklik van hulle leraars nie, die gemeenteleiers is uiters bekwaam!
Is jou gemeente sending-gerig? Dit is goed as 'n gemeente gereeld vir die sendingwêreld bid of sendingorganisasies finansieel steun. Maar om gemeentelede prakties blootstelling te gee aan die sendingveld is van onskatbare waarde. Stuur veral jongmense op die een of ander sendinguitreik. Dit sal hulle vir die res van hulle lewens 'n sendinghart gee!
Gebed:
Here, ek dra vandag daardie gemeente in Mosambiek aan U op. Ek bid ook vir al ons sendelinge waarvan sommige onder haglike omstandighede werk. Maak asseblief harte vrugbaar en ontvanklik vir die Woord!