Matteus 28:16-20
In die laaste paar verse van Matteus se inspirerende boek, verkeer ons saam met die elf dissipels op ‘n berg by Galilea. Jesus het hulle daarheen gestuur en hulle kan sommer aanvoel dat hier iets baie groot sou gebeur. By hulle aankoms openbaar Jesus Homself as die Opgestane Here. Alhoewel Jesus toe alreeds etlike kere aan hulle verskyn het, kon hulle maar net nie aan die gedagte gewoond raak dat Jesus waarlik opgestaan het nie. Daar was selfs ‘n paar van hulle wat ernstig getwyfel het. Dink maar aan Thomas. Hulle was egter deeglik bewus dat Jesus die Seun van God is. Met hierdie wonderlike Godsverskyning aanbid hulle Hom dus. Kleingeloof is ‘n wesenlike gevaar vir hierdie groepie, en alhoewel hulle vir Jesus sien, glo nie almal volkome nie. Sien is nie noodwendig glo nie! Moontlik is dit eerder net mooi andersom: gló is sien en doen!
Jesus het vir oulaas ‘n laaste aankondiging vir die elftal. Dit bestaan uit ‘n volmagsaankondiging, ‘n opdrag asook ‘n belofte.
Wat Jesus se volmag betref, lees ons regdeur Matteus se verhaal talle kere daarvan, en hier kom bevestig Jesus dit maar net weer: álle mag behoort aan Hom! Dit is dus met outoriteit dat Hy hulle die opdrag gee.
Jesus se opdrag is vierledig: gaan, maak dissipels, doop en leer. In kort, die sendingopdrag. Die opdrag is dus om die wye wêreld in te gaan en wêreldwyd die Evangelie van Jesus Christus te vestig, die sakrament van die doop te bedien aan die nuwe gelowiges. Hulle moet hierdie nuwe gelowiges dan leer en sodoende opleiding gee sodat hulle weer dieselfde kan doen, asook vir God met oorgawe dien.
Wanneer Jesus sê: “maak dissipels”, is die bedoeling nie alleen om mense na Jesus te lei nie. Dit is egter baie belangrik dat hierdie bekeerlinge opgelei moet word sodat hulle ware dissipels sal word, wat op hulle beurt weer uitgaan om dissipels, oftewel werkers vir die Koninkryk te werf en op te lei.
Wanneer ons die wonderlike verhaal van Lukas, Handelinge lees, sien ons die reuse sneeubal-effek wat hierdie “maak van dissipels” gehad het, sodat die groepie gelowiges van ‘n klein handjievol gegroei het tot nie minder nie as 7000 gelowiges in ‘n baie kort tydjie. Daarna het dit totaal ontplof!
Maar terug by Matteus se verhaal, gee Jesus vir hulle boonop ‘n wonderlike belofte, dat Hy by hulle sal wees tot aan die voleinding van die wêreld.
Vandag, tweeduisend jaar later, het die Kerk baie aanslae beleef. Islam probeer baie hard om die kerk te verswelg; Hindoeïsme verkondig dat dit nie saak maak watter God jy dien nie, en Jesus kan maar saam met al die ander aanbid word; Bhuddisme sê dat jy gladnie eers ‘n God hoef te hê nie, solank jy net voorbeeldig leef. En so kan ons aangaan. Daar is meer as ‘n duisend verskillende godsdienste wêreldwyd. Ten spyte van al hierdie teenslae het Jesus Christus se kerk gegroei tot die heel grootste van al die godsdienste.
Alles het begin by elf manne wat gewillig was ten spyte van hulle ongeloof en onbekwaamheid.
Jesus het hulle egter nie so “onbekwaam” agtergelaat nie. In Handelinge lees ons dat Jesus hulle opdrag gegee het om in Jerusalem te gaan wag op die Heilige Gees. Hulle het dit gedoen, en dan gebeur die asemrowende Pinksterdag, waar die Heilige Gees in al Sy glorie uitgestort word op hulle. Hy maak hulle bekwaam om hierdie opdrag van dissipelmaking met volle oorgawe uit te voer. Die resultaat is asemrowend!
Jesus het vir hulle die nodige geloof gegee, en die Heilige Gees het hulle bekwaam gemaak. Die groot geheim was dat hulle bekeerlinge nie maar net saam kom aanbid het nie. Hulle het egter daardie opdrag met groot ywer verder geneem, toegerus deur dieselfde Heilige Gees.
Meeste Christene het vandag “lui” geword, en sit maar net soos ‘n spons en absorbeer. Jesus se opdrag om uitgestuurdes te wees, geld egter vir elke Christen. Ek en jy het vandag presies dieselfde taak as die elf manne daar op die berg, om die Evangelie uit te dra na die wêreld en dissipels te maak. Vandag het ons die wonderlikste middele om die blye boodskap te kan uitdra, internet, sms, whatsapp, radio en nog baie ander. Daar is organisasies soos Geopende Deure wat Bybels by plekke insmokkel waar die Woord verbode is. Jesus se opdrag aan jou vanoggend is om betrokke te raak.
Hoe kan ek betrokke raak? Hoe kan ek ook ‘n “uitgestuurde” word?
Stuur hierdie dagstukkies ook aan ander mense. Raak betrokke by ‘n sendingorganisasie soos Geopende Deure, die Masedonië Projek, die Christelike Seemansorganisasie of waar die Gees jou ookal lei. Leef Jesus se liefde uit in jou daaglikse lewe. Raak betrokke in jou eie gemeente. Spoor jou gemeente aan om betrokke te raak by sendingwerk. Wees kreatief! As jy gewillig is, sal die geleenthede en deure vir jou oopgaan.
Gebed:
Here Jesus, ek stel myself vandag tot U beskikking. Wys my asseblief waarheen U my wil stuur of waar U my wil gebruik. Dankie vir daardie wonderlike belofte dat U by my is vir ewig en altyd.