Lukas 2:8-20
Maria lê in haar hooi-bed met ‘n salige glimlag op haar gesig, haar Baba aan die bors, terwyl Josef ‘n riel doen in die stowwerige stal van pure opgewondenheid. Hulle vreugde ken géén einde nie! Hulle baie spesiale Baba is gebore sonder komplikasies. Maria is sielsgelukkig maar totaal uitgeput, en sy wil net slaap. Josef het vir hulle Baba ‘n bedjie geprakseer in ‘n krip, met hooi uitgevoer en ‘n sagte kombersie om dit darem ‘n bietjie meer gemaklik te maak.
Maar ‘n rustige nag is hulle nie beskore nie, want skaars maak Josef homself gereed vir die bed, of hulle hoor ‘n klomp baie opgewonde stemme bo in die huis. En dié manne is op pad af in hulle stal in! Josef wil nog probeer groet as die klomp skaapwagters deur die opening peul, maar hulle kyk nie eers in sy rigting nie, hulle pyl reguit op die Baba af. Sy hart klop in sy keel. Hy wil nog probeer keer, maar dan val die manne in verwondering voor die krip neer.
“Wat is hier aan die gang?”
Maar dit kekkel en kloek deurmekaar, en die manne is baie opgewonde.
Uiteindelik draai een van die manne na Josef en Maria, wat oopmond die petalje aanskou. En hy begin vertel. Vroeër die aand het hulle nog rustig om hulle vuurtjie gesit by hulle skape hier naby Betlehem, toe daar skielik iets asemrowend met hulle gebeur. “Toe ons weer sien, staan daar ‘n engel voor ons. Ons het onsself boeglam geskrik!” vertel die man, sy oë so groot soos pierings.
Maria bars amper uit van die lag as al die manne nou gelyk hulle storie probeer vertel.
“Terwyl ons staan en bewe van skok, vertel die engel ons van die Verlosser wat gebore is, Christus die Here, en dat ons Hom in Betlehem sal kry waar Hy in doeke toegedraai lê in ‘n krip. Ons kon nie glo wat ons sien en hoor nie. Maar dit was nog maar net die begin: Skielik is dit asof die ganse hemel oopskeur reg rondom ons, en ‘n groot skare van engele om ons staan. Hemelse musiek van die magtige engelekoor het die mooiste lied gesing wat seker nog óóit gehoor is! Ons het daar net staan en luister na die grootste en aangrypendste kooruitvoering van alle tye terwyl ‘n Goddelike glans om ons skyn. En toe skielik is alles verby! Ons het dadelik ons skape nét so gelos en reguit hierheen gehardloop!”
“En toe kry ons dit hier in die stal presies nes die engel gesê het!” sluit een van die manne die verhaal af.
Al babbelende is die groepie skaapwagters later die aand daar weg, en Maria lê en glimlag tevrede toe sy hulle dáár onder in die stowwerige straatjie nog steeds hoor babbel. “Ja, nou weet die hele Betlehem!” mompel Josef as hy homself uitgeput op die hooi neervly.
Die volgende paar dae moet Josef rondskarrel. Daar is die registrasie vir die Romeine se volkstelling, en hy moet gaan soek vir ‘n priester wat klein Jesus se besnydenis kan hanteer wanneer Hy sewe dae oud is. “Is dit die Baba waarvan die skaapwagters vertel het?” wil die priester weet.
‘n Paar dae na Jesus se besnydenis, is daar groot opgewondenheid in Betlehem toe daar ‘n hele karavaan kamele opdaag met ‘n groep baie belangrike Oosterlinge. “Ons soek die Koningsbaba!” beduie die welgeklede manne. Iemand beduie vir hulle in die rigting van die stal – dis immers wat die skaapwagters vertel het. “Is daar nie dalk waarheid in hulle fabelagtige storie nie?”
Josef en Maria skrik hulleself yskoud wanneer die groep vreemde manne die stal binnekom. Josef deins ongemaklik terug van hierdie heidene. Maar dan, tot sy groot verbasing gaan kniel die manne by die krip en aanbid hulle Baba. Dan draai die manne na Josef en Maria en begin hulle verhaal vertel. “Ons is ‘n groep magiërs,” verduidelik hulle, “en ons is veral geïnteresseerd in die sterre.” Dan vertel hulle hoedat hulle oor die afgelope paar jaar ‘n wonderwerk in die hemelruim aanskou het, en dat die planete een-vir-een begin oplyn het. “Dit kon net beteken dat daar ‘n baie magtige Koning gebore sou word,” verduidelik hulle. Die finale stempel op die voorspelling was, toe hierdie uiters vreemde bewegende ster van oos na wes sy pad deur die hemelruim gebaan het. “Ons móés net eenvoudig die ster volg! Dit was ons teken, en dit het ons reguit hierheen gelei.”
Toe bring die manne sakke vol geskenke na vore, peperduur goue voorwerpe en kosbare speserye soos wierook en mirre. Maria se mond hang onbeskaamd oop van verwondering en verbasing!
In haar hart het Maria al hierdie dinge bewaar. Sy het nie verstaan wat besig was om te gebeur nie, maar vol verwondering het sy haar daarby berus. Maar alles was nie pluis nie, en daar wag nog ‘n groot skok op haar.
Vandag kan ons ook maar net vol verwondering oor en oor luister na hierdie wonderlike verhaal. Ons wil graag by die krip vashaak, maar daar is ook die kruis wat op die horison wag. Soos die wyse manne, kan ons ook maar net in aanbidding neerval voor ons God wat alles so wonderlik beplan het.
Gebed:
Here, ons aanbid U met alles in ons. In verwondering hoor ons die asemrowende verhaal van die herders, die engele, die wyse manne en die gebeure by die krip. Dankie dat U neergedaal het na ons, eenvoudige mense!