Lukas 7:18-23
Het jy al ooit getwyfel in jou geloof? Het die gedagte al ooit deur jou kop geflits, dat hierdie hele “Godsdiens-storie” dalk net iets in ons koppe is? Ek lees eendag ‘n beriggie van ‘n nuwe gier in Engeland om jou te laat ont-doop. Mense wat besluit het dat hulle niks met die Christengeloof te doene wil hê nie, maar deur hulle ouers laat doop is, wil hulle op hierdie manier distansieer daarvan. Mense verlaat die kerk omdat hulle nie meer wil glo nie. Ek het geril toe ek dit lees! Hoe kan énigiemand dan net eenvoudig sy geloof prysgee?
Tóg moet ek bieg dat die twyfelgedagtes my ook al getref het, en dan wou ek myself skop dat ek my gedagtes vir ‘n oomblik aan die duiwel uitgeleen het! Elke dag beleef ek God se genade en wonderdade intens! Hoe kan ek óóit ophou glo?
Maar ek troos my daaraan dat ek nie alleen staan in hierdie stryd nie. Selfs die grootste van die profete het al in dieselfde bootjie gery. Een so ‘n voorbeeld is Johannes die Doper: skielik het twyfel hom begin oorval oor Jesus. Nie lank voor hierdie episode nie, was Johannes die een wat Jesus gedoop het. By daardie geleentheid het hy nog vir Jesus gesê dat hy onwaardig was om Jesus te doop. Met sy eie oë het hy aanskou hoe die Heilige Gees daardie dag op Jesus neergedaal het. Met sy eie twee ore het hy die stem van God uit die hemel gehoor. In Johannes 1:29 lees ons dat Johannes die doper na Jesus verwys het as die Lam van God wat die sonde van die wêreld sou wegneem. Nogtans begin Johannes só twyfel dat hy boodskappers na Jesus stuur om Hom te vra of Hy werklik die Messias is!
Lukas skryf dat Jesus juis op daardie tydstip besig was om ‘n klomp siekes gesond te maak. Natúúrlik moes Johannes mos hierdie wonderwerke van Jesus beleef het of ten minste daarvan gehoor het. Jesus se antwoord aan Johannes was dan ook dat hy maar net moes kyk na alles wat gebeur het - die blindes wat skielik weer kon sien, die lammes wat kon loop en selfs dooies wat weer lewendig geword het. Was dit nie al klaar genoeg vir Johannes om enige twyfel uit sy gemoed te kry nie? “Gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie,” het Jesus vir Johannes se volgelinge gesê, en daarmee het Hy hulle teruggestuur na Johannes.
As jy ooit begin om twyfelgedagtes te kry, dink maar net aan die talle wonderwerke wat dag-vir-dag rondom ons gebeur. Maak jou oë oop hiervoor, en sien hulle raak. Die paramedikus, Hans Hartmann se verhaal kom skielik in my gedagtes op. Jy onthou sekerlik nog van die Mighty Men konferensie waar Oom Angus Buchan die hartaanval gekry het? By die spesifieke geleentheid het Hans die taak gekry om siekes by die konferensie by te staan. Met die voorbereiding tref talle teenslae hom, maar hy bly steeds vertrou. En dan vertel hy van wonderwerk op wonderwerk wat hom uiteindelik in staat gestel het om na 200’000 mans om te sien. Hy is ook die persoon wat ontbied was toe Angus onder die verhoog inmekaar gesak het. In sy verslag beskryf hy Oom Angus se simptome, en dat dit beslis ‘n hartaanval was. Dan, nadat ‘n skare mense vir hom gebid het, kom die verslag later van die hospitaal dat daar niks met Oom Angus verkeerd was nie - absoluut niks wat daarop gedui het dat hy óóit ‘n hartaanval beleef het nie! Is dit nie ‘n wonderwerk nie? En dis maar een van talle wat daagliks plaasvind!
Jesus se antwoord aan Johannes se dissipels maan ons om Hom te aanvaar vir wie Hy is. Nie alleen het Hy siekes gesond gemaak nie, maar ook die Evangelie aan armes verkondig (v.22). Ons soek graag die skouspelagtige wonderwerke van Jesus, maar vergeet gerieflikheidshalwe die wonder van doodgewone mense - sondaars - vir wie die skille skielik van hulle oë afgeval het, en hulle vir Jesus vir die eerste keer kon raaksien. Daardie wonder het waarskynlik al met jouself gebeur, die dag toe Jesus jou uit die modderpoel van verlorenheid geruk het en jou die ewige lewe gegee het. Dieselfde wonder speel hom dag-vir-dag af waar mense Jesus ontmoet. Wonderwerke ontvou voor ‘n mens se oë wanneer jy sien hoedat mense verander wanneer Jesus deel van hulle lewens word.
Ek sélf kan maar net oor en oor getuig van die wonder wat hom elke dag in my lewe afspeel, wanneer ek, eenvoudige mens, ‘n dagstukkie voortbring. Ja, die Here het my die talent gegee om te kan skryf, maar sonder die wonderlike inspirasie wat ek elke dag van die Heilige Gees beleef, sou hierdie stukkies nooit, óóit kon gebeur nie. Géén skrywer kan elke dag, week na week, jaar na jaar voortgaan en aanhou skryf nie! Ek hoor dikwels hoe gróót skrywers vertel hoe hulle soms vir maande lank nie ‘n woord kan skryf nie. Slegs ‘n wonder van die Heilige God kan dit bewerkstellig dat ek nooit sonder inspirasie is nie!
Wanneer daar dus ‘n twyfelgedagte dreig om my te kom piets, dan dink ek aan al die wonderwerke wat ek beleef. Ons aanbid ‘n almagtige God vir wie absoluut niks onmoontlik is nie!
Gebed:
Here, U is groot en goed en almagtig! Aan U wonderdade is daar geen einde nie!