Twee Seuns

18 October, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Twee Seuns

Genesis 4:1-7

Daar is baie wanopvattings oor Genesis 4. As jong seuntjie is ek in die Sondagskool geleer van Kain en Abel, en toe is ek vertel dat Abel se offerrokie kiertsregop getrek het tot in die hemel en Kain s’n het so grondlangs gewarrel.

Maar kom ons gaan kyk wat die Bybel hieroor sê. Sondagskoolonderwysers kan ook soms die kluts kwytraak!

Moontlik moet ons by die eerste sin begin wat vertel van Kain se geboorte. Na die bevalling roep Eva uit: “Ek het ‘n man in die wêreld gebring met die hulp van die Here!” Eintlik is hierdie vertaling nie heeltemal korrek nie, want daar staan letterlik: “Ek het ‘n man geskep, die Here.” Wat presies het sy daarmee bedoel? Dit wil amper lyk asof dit ‘n uiters arrogante ding is wat sy sê. Eerstens sê sy hiermee dat sy ‘n kind geskep het, soortgelyk aan God se skepping van Adam. Tweedens wil dit lyk asof sy hierdie “man” wat sy geskep het met God vergelyk.

Eva is baie trots op hierdie eersteling van haar, en die kind was vir haar baie belangrik. ‘n Ruk later word daar egter ‘n tweede kind gebore, ook ‘n seuntjie. Nou is die opgewondenheid van ‘n eerste baba verby en die tweede kind kry die naam “Abel.” Hy was nou nie juis vir Eva so belangrik nie, en sy naam weerspieël dit baie duidelik. Abel se naam beteken: “Nietigheid.”

Eva was dus die eerste persoon wat daarvoor geval het om een kind bo die ander voor te trek. Kain word aan God gelyk gestel terwyl Abel maar net ‘n nietigheidjie is. Vandag, duisende jare later gebeur dit steeds. En dit is nie net die geval by kinders nie, op alle terreine kry ons dit dat die een persoon bo die ander bevoordeel word. In die skool is daar die “witbroodjies” en in die werkplek die een wat bevordering kry sonder die kwalifikasies. Hierdie is dan ook een van die probleme in die lewe wat hierdie verhaal vir ons in perspektief wil stel.

Die twee broers het opgegroei, elkeen met sy eie belangstelling. Abel s’n was veeboerdery terwyl Kain eerder die landerye wou bewerk en graan saai.

Dan sien ons ‘n verrassende element in die verhaal. Ten spyte daarvan dat Adam en Eva hulle rug op die Here gekeer het in die Paradys, blyk dit dat die twee seuns albei hulle Godsdiens uitleef en dat hulle ‘n verhouding met die Here het. So gebeur dit dan ook dat albei seuns besluit om offers te bring aan die Here, Abel van die vet van die eerstelinge van sy kudde en Kain van die opbrengs van sy saaiboerdery. Ons moet dit duidelik verstaan dat die een offer nie bo die ander geag was nie. Beide seuns het gegee wat hulle gevoel het reg is.

Maar dan lees ons dat die Here Abel se offer aangeneem het maar nie dié van Kain nie. En net hier kom baie probleme vir ons, want nêrens lees ons in die eerste plek hoe Kain geweet het dat sy offer aanvaar is nie. Die storie van die rook wat verskillend getrek het is ‘n mite. Al wat ons weet is dat Abel aanvaar is en Kain nie. Hoe het Kain dan geweet? Ons weet net eenvoudig nie.

Die tweede kwelpunt is, waarom die Here dan nie Kain se offer aanvaar het nie? Ek het al dikwels gehoor dat daar gesê word dat Kain nie opreg was toe hy geoffer het nie, en daarom het die Here sy offer weggewys. Die vraag is dus: het Abel met ‘n opregte hart geoffer en Kain nie? Nee, dit word ook nie hier gesê nie, en dit sou dus verkeerd wees om so ‘n afleiding te maak. Ons moet eerder sê dat die rede vir God se keuse nie gesoek moet word by die twee seuns nie, maar by God se regverdigheid in ‘n bepaalde situasie.

Die sleutel tot hierdie verhaal moet ons dalk gaan soek by die feit dat Eva vir Kain voorgetrek het en Abel gering geskat het. Volgens die kommentaar in Die Bybellennium kan ons dus sê dat God moontlik hier ‘n “regstelling” gemaak het deur nie die broer wat die hele tyd bevoordeel was te aanvaar nie, en die offer te aanvaar van die broer wat deur sy ma verontreg is.

Vandag wil hierdie verhaal vir ons vertel hoe God optree wanneer onreg gepleeg word. Die oumense het ‘n spreekwoord gehad: Die wiel draai stadig, maar hy draai! Ek moet ook baie deeglik besef dat die oordeel of wraak my nie toekom wanneer ek verontreg word nie. Ek moet dit aan God oorlaat. Op Sy regte tyd en manier sal Hy dit hanteer.

Verder moet ons ook besef dat die Here nie vir Kain gestraf het deur nie sy offer te aanvaar nie. Kain het in die eerste plek niks verkeerd gedoen nie. Dit was bloot ‘n regstelling omdat Kain bevoordeel was. Dit kan moontlik wees dat die Here hierdeur vir Kain beproef het om sy reaksie te toets, soos wat Hy Adam beproef het met die boom in die tuin.

Die vraag is dan ook hoe Kain hierop sou reageer? ‘n Gelowige reaksie kon dalk een van teleurstelling wees, maar terselfdertyd berusting in God se keuse. Kain reageer egter met woede en hy loop met ‘n wrok in sy hart rond. Alhoewel sy broer totaal onskuldig is, is Kain se woede op Abel gerig. Die Here het dit dadelik raakgesien en met hom daaroor gepraat. Hy waarsku vir Kain om nie die sonde vatplek te gee nie.

Hoe reageer ek as dinge vir my skeefloop? Meeste mense reageer soos Kain. God toets ons dikwels op so ‘n manier om ons geloof sterk te maak en ons nader aan Hom te trek. Eintlik moet ons vir Hom dankie sê wanneer dit ons tref. Dit bevestig dat Hy ons innig liefhet.

Gebed:

Here, dankie vir die beproewinge ‘n my lewe. Help my asseblief om hulle in die regte lig te sien.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026