Daniël 8:1-8
Vir die volgende klompie oordenkings gaan ek mildelik gebruikmaak van ‘n uitstekende kommentaar oor Daniël deur Ds. Wouter ten Haaf met die titel: “Gewaarborgde Oorwinning.”
My seun Jaco wys my ‘n foto wat hy van die volmaan geneem het met elke krater in fyn detail. Dieselfde aand sien ek egter ‘n foto wat NASA se nuwe $500miljoen satelliet kamera geneem het van die landingsplek van die destydse maanlanding 40 jaar gelede. Op die foto kan jy duidelik die landingsplatform, ‘n kamera en selfs die Amerikaanse vlag sien wat hulle daardie tyd geplant het.
Wanneer jy Google Earth aanskakel, sien jy ‘n foto wat die hele aarde in al sy glorie wys. Begin jy egter inzoem dan begin jy die fyner detail sien - eers die kontinente, dan lande, en dan die berge en damme. So goed is die detail, dat jy selfs jou eie huis op die foto’s kan herken! En as jy baie mooi kyk sien jy vir Wagter op die stoep lê!
Hierdie visioene van Daniël werk amper soos Google Earth. In die eerste visioen het ons die hele aarde gesien - hy het ‘n wye oorsig oor die wêreldgeskiedenis gegee. In die tweede visioen zoem hy so ‘n bietjie in en dan sien ons slegs ‘n deeltjie van die geskiedenis. Hy fokus as’t ware op die botsing tussen die Ooste en die Weste wat die pad oopmaak vir die groot vyand van die volk van die Here.
Hierdie gesig van Daniël het twee jaar na die eerste plaasgevind. Hierdie keer was dit egter nie in ‘n droom soos die eerste nie, maar helder oordag, terwyl hy wakker was. In die visioen bevind hy hom in die vestingstad Susan, ook bekend as Susa by die Ulairivier. Hierdie stad bestaan vandag nog, en is geleë in die weste van Iran, naby die grens van Irak. Kyk jy na die stad op Google Earth, dan sien jy onder andere daar ‘n foto van die graf van Daniël. Die “Ulairivier” is eintlik nie ‘n rivier in die ware sin van die woord nie, maar ‘n mensgemaakte waterkanaal wat twee riviere verbind wat parallel weerskante van die stad verbyloop. In Daniël se tyd was Susa ‘n redelik onbelangrike stad, maar later, onder die Medo-Persiese ryk, word dit die wêreldhoofstad. Volgens Gen. 14 was die Elamprovinsie waarvan Daniël vertel, al in Abraham se tyd ‘n berugte gebied. Ons lees ook in Hand. 2:9 van mense van Elam wat in Jerusalem die Pinksterwonder beleef het. Die Christendom het 1800 jaar later daarheen versprei, en die Bybel is selfs in Persies vertaal sodat die inwoners dit kon verstaan. Die opkoms van Islam het dit later egter baie moeilik gemaak en Christene is genadeloos vervolg - soveel so dat daar op ‘n stadium meer as 300 kerke in moskees verander is.
Daniël se visioen begin met ‘n skaapram wat hy sien staan by die Ulairivier. Hierdie ram het twee geweldige groot horings gehad. Die een het ná die ander uitgekom, en die laaste een het groter as die eerste geword. Die kleinste horing wys op die ryk van die Mediërs, en die grote op dié van die Perse. Die ram stoot in drie windrigtings, en vernietig in sy dolle woede almal wat hom teenstaan. Die Medo-Persiese ryk van daardie tyd het alles en almal ingepalm - Babilonië, Sirië, Klein Asië, Armenië, en selfs so ver suid as Egipte en Etiopië. Slegs die Verre Ooste was buite sy magsreik.
Dan kom die tweede deel van sy visioen, wanneer hy ‘n bokram sien aankom uit die weste. Só vinnig kom hy aangestorm, dat sy pote nie eers grond raak nie. In een woedende sprong verpletter hy die skaapram. Hierdie bokram het egter net een horing tussen sy oë gehad, amper soos die mitologiese Eenhoring. Dit sinspeel op die berugte Alexander die Grote - eerste koning van Griekeland. In sy visioen sien Daniël hoedat Alexander (die bok) die Medo-Persiese Ryk (die skaap) by die Ulairivier vernietig. Interessant is die feit dat die Perse juis by ‘n rivier, die Granicus finaal verpletterend verslaan is. Binne slegs tien jaar het Alexander die Grote - ‘n geniale strateeg - die hele bekende wêreld van sy tyd, selfs tot in Indië verower. Inderdaad het hy die pad van die bokram gevolg, en nie alleen suksesvol nie, maar baie arrogant en oormoedig geword. Dit was die eerste keer in die wêreldgeskiedenis dat ‘n wêreldmag uit die Weste suksesvol kon opkom. In die einste stad Susa het Alexander ‘n reuse fees gehou wat die verbroedering van Asië met Europa moes bewerkstellig.
Alexander was slegs 33 jaar oud toe hy dood is, en daarmee het die doodsklokke vir sy magtige ryk gelui. Die groot horing het afgebreek, en in sy plek het vier horings uitgekom wat na die vier windstreke toe wys. Alexander die Grote se ryk is verdeel in vier ryke met vier heersers.
‘n Mens kan maar net in verwondering kyk hoedat diktators en tiranne hulleself verhef en groter as God wil stel. Net om te moet uitvind dat hulle ook maar ‘n baie verganklike ou lewetjie het. Dis onseker waaraan Alexander dood is, maar die een teorie is dat dit malaria was. Dit sou dan beteken dat die magtige strateeg wat talle veldslae oorleef het deur ‘n piepklein goggatjie doodgebyt is! Vandag kan ek en jy ook maar net met belangstelling kyk na die wêreldheersers wat oormoedig raas en blaas, en dan kan ons weet dat ook húlle tyd van afrekening sal kom. God is getrou en regverdig. Ek en jy is veilig in Sy hande!
Gebed:
O Here, dankie dat ons ook uit die geskiedenis kan leer dat selfs die magtigste tiran soos klei is in U hande!