Twee Muntstukkies

12 November, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Twee Muntstukkies

Lukas 21:1-4

VIDEO OUDIO

Hulle ou huisie was maar bitter klein, nie eers geverf nie. Daar was nie ‘n kraan in die kombuis wat jy kon oopdraai vir water nie. Hulle het water gaan haal vir skottelgoed (die ou bietjie wat hulle gehad het) in ‘n eendedammetjie naby die agterdeur. Vir drinkwater moes hulle ‘n bietjie verder loop tot waar die fonteinwater nog redelik skoon was om darem die eendemis vry te spring.

Ek was maar ‘n seuntjie in die laerskool toe hierdie verslonsde gesin hulle intrek geneem het in ‘n ou klein huisie op die buurman se plaas. Ek glo nie dat hy hulle ooit huur laat betaal het nie, want hulle het niks gehad nie. Die pa het sy werk op die spoorweë verloor, en toe kry hy kanker. Die verskriklike siekte het sy kakebeen weggevreet, en die dokters kon niks vir hom doen nie. Die ma het haar hande vol gehad om die spul kindertjies aan die lewe te hou.

Ek het ‘n paar keer vir hulle gaan kuier, en dan het die tannie vir ons kinders elkeen ‘n sny tuisgebakte brood gegee met varkvet en sout vir die smaak. Dit was al wat sy gehad het, maar die ou bietjie wat sy kon bekostig het sy met ander gedeel.

Skielik een dag was hulle net weg. Waarheen, weet ek nie. Vandag wil ek huil as ek dink aan die arme mense, en daardie vrou wat ten spyte van haar haglike omstandighede altyd geglimlag het en steeds vrygewig was al het sy absoluut niks gehad om te gee nie.

In die vorige gedeelte het Jesus gewaarsku teen die Skrifgeleerdes met hulle deftige klere. Hierdie hoogdrawende menere het al die aandag wat hulle gekry het ingedrink, en daar was altyd ereplekke vir hulle gereserveer omdat hulle darem baie belangrik was! Hulle het almal baie duidelik laat verstaan presies wie en wat hulle was. Skynheilige spul, want terwyl hulle in die openbaar lang, indrukwekkende gebede aframmel, het hulle die arm weduwees wat niks in die lewe het nie besteel. Die ou bietjie wat die weduwees nog gehad het om van te lewe, was uit hulle uitgewurg!

Hierdie uitspraak van Jesus oor die Skrifgeleerdes het die toneel opgestel vir ‘n byna onopgemerkte ou voorvalletjie, iets wat niemand anders eers raakgesien het nie. By die ingang van die tempel het ‘n pragtig-versierde houtkis gestaan. Hierin het mense hulle offergawes gegooi. Terwyl Jesus en sy dissipels staan en kyk het, het daar ‘n stroom van mense verbygeloop, en elkeen het sy bydrae gelewer. Sommige skatryk Jode het met groot vertoon ‘n sak vol munte in die kis gegooi, terwyl hulle baie seker gemaak het dat almal kon sien hoeveel hulle gee!

Ongemerk hetn brandarm vroutjie tot by die kis geloop. In haar handpalm was twee klein muntstukkies. ‘n Traan het oor haar wang geloop want sy het geweet dat hierdie haar laaste geld was. Waar sy verder kos vandaan sou kry, het sy nie geweet nie. Maar sy het vertrou, want die Here sou voorsien. Toe die twee muntstukkies in die kis val, word sy met minagting aangekyk. “Dink die ou vrou nou rêrag dat haar ou bietjie geld ‘n verskil sal maak?” ‘n Ou suurknol skud sy kop vererg as hy haar vol minagting aangluur.

Toe die vroutjie wegstap, kyk Jesus haar met groot deernis aan. “Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander”, het Hy vir Sy dissipels gesê terwyl hulle Hom met ‘n groot vraagteken op die voorkop aankyk.

Wat sou die Meester dan nou met so ‘n opmerking bedoel? Al wat sy ingegooi het is twee nikswerd ou muntstukkies wat nie eers ‘n brood kan koop nie!”

Jesus het die vraagteken op hulle gesigte gelees en toe verduidelik Hy dat die rykes wat met soveel vertoon hulle skatte daar kom ingooi het, eintlik maar net ‘n ou klein krieseltjie van hulle rykdom gegee het. Wat lyk na ‘n sak vol geld, maak nie eers ‘n duik in hulle bankbalans nie. Vir hierdie vrou het dit seergemaak om haar muntstukkies te gee, want dit is al wat sy gehad het!

Ek was al dikwels die vraag gevra: hoeveel moet ek gee? Verwag die Here dat ek ‘n tiende van my salaris vir die kerk gee? As ons hierop “Ja” wil antwoord, dan raak ons wetties, nes die Fariseërs. In die eerste plek wil die Here nie ons geld hê nie, maar ons lewens. Hy wil hê dat ons ‘n lewende verhouding met Jesus moet hê. Wanneer dit die dag gebeur, gee ek nie omdat die wet sê dat ek ‘n tiende moet gee nie, maar ek gee uit dankbaarheid terug aan die Here sonder om te tel. Ek help iemand wat in die nood is en gee my tyd vir diens aan die Here. En as ek geld in oorvloed het, gee ek in oorvloed sonder om ‘n vertoon daarvan te maak. Wat ek gee is ‘n saak tussen my en die Here, en niemand hoef daarvan te weet nie. Ek basuin nie uit soos die Skrifgeleerdes van ouds, dat ek soveel tyd aan gemeenskapswerk spandeer en soveel duisende vir liefdadigheid gee nie. Dit is natuurlik belangrik om te onthou dat my gemeente ook deel is van die werk van die Here, en dat ek daar ook my deel sal gee om die werk in stand te hou!

Gebed:

Here, gee asseblief vir my ‘n oop hand wat nie sal skroom om te gee nie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026