Genesis 14:17-24
Wanneer Abram vir Koning Kederlaomer en sy bondgenote verslaan om sy nefie Lot te bevry, is daar twee konings wat reageer op die oorwinning. In vers 17 lees ons dat die koning van Sodom Abram tegemoet gegaan het. Ongelukkig is dinge nie altyd soos wat hulle lyk nie. Hierdie koning was inderdaad gladnie vriendelik nie. Die woordjie “tegemoetgaan” word hier gebruik in die sin van ‘n koning wat optrek teen ‘n vyand. Dalk het hy vir Abram gesien as die nuwe bedreiging, of dalk was hy maar net geïnteresserd in die buit wat Abram saamgebring het. Dalk het hy gedink dat Abram se “leër” nou moeg en uitgeput is van die groot geveg, en dat dit dalk nou die tyd is om hom te verslaan terwyl hy op sy swakste is. Wat ookal die geval, hy het baie dreigend nadergestaan. En wat hy daar gesien het, het hom briesend gemaak, want by Abram en sy manne was nie alleen hope besittings wat uit Sodom afkomstig is nie, maar ook ‘n klomp krygsgevangenes. Meeste van hulle was sy soldate se vrouens en kinders wat deur Kederlaomer gebuit is. Daardie goed wil hy terughê ten alle koste.
Voordat hy egter vir Abram kon aanval, daag daar ‘n ander persoon op: Melgisedek. Dalk het Sodom se heerser ‘n heilige vrees gehad vir Melgisedek, want hierdie was ‘n uiters misterieuse figuur.
Ten spyte van al die misterie en die dreigemente, tree Abram egter op met groot waardigheid, en hy staan sy man. Baie gou laat hy die Sodomiet baie duidelik verstaan dat hy gladnie belangstel in die krygsgevangenes nie, en nog minder in die oorlogsbuit uit Sodom. Abram het natuurlik die volste reg gehad om al die mense te hou as sy slawe, en om al die buit vir homself te hou. Die oorwinnaar het volle besitreg gehad oor sy buit. “Ag, gee asseblieftog net my mense vir my terug,” pleit die koning by Abram. “Hou maar die res vir jou!” Maar Abram besluit dat hy nie eers ‘n garingdraad of ’n skoenveter vir homself sal hou nie. Die koning van Sodom kan alles terugkry.
Ons sou dalk verwag dat haierdie koning in dankbaarheid voor Abram sou neerval. Nêrens lees jy egter enigiets van eers ‘n “dankie” nie. Daar word nie vir Abram ‘n verwelkomingspartytjie gereël nie. Daar word nie lofliedere gesing oor sy heldhaftige oorwinning nie.
Maar soos ons reeds gemeld het, het daar ‘n tweede persoon op die toneel verskyn, Melgisedek, die koning van Salem. Waar is hierdie stad, Salem? Ons weet nie! Met die verloop van jare se oorvertellings van die verhaal, het mense begin aanvaar dat dit dalk Jerusalem moes wees. In Psalm 76:3 word Jerusalem dan ook die naam “Salem” genoem. Jerusalem was natuurlik nie altyd ‘n Joodse stad nie. In die tyd van koning Saul het dit nog aan die Jebusiete behoort, maar toe Dawid koning word het hy die stad ingeneem en dit sy hoofstad gemaak. Hy het terselfdertyd ook die heiligdom daarheen verskuif, sodat dit nie alleen die politieke hoofstad was nie, maar ook die Godsdienstige hoofstad. Dit net so terloops.
Oor Melgisedek weet ons bitter min. Daar is baie teorië oor hom. In die boek Hebreërs word hy as ‘n prototipe of voorganger van Jesus beskryf. Anders as die arrogante koning van Sodom, sien ons hier ‘n vriendelike mens wat waardering het vir Abram se heldhaftige poging. Hy bring vir Abram kos en wyn om sy dank te bewys, en boonop bid hy God die Allerhoogste se seën af op Abram. Abram antwoord hierdie gebaar van goedgesindheid deur aan hom ‘n tiende van die oorlogsbuit te gee.
Daar is ‘n paar tergende vrae oor Melgisedek: Wie was hierdie koning werklik? Hy was nie alleen koning van Salem nie, maar ons lees ook dat hy terselfdertyd die priester was van God die Allerhoogste - dus ‘n priester-koning. Dit laat die vraag ontstaan, of Abram dan nie die unieke draer van die Godsdiens was nie? Het Melgisedek dan ook die God van Abram aanbid? Ons kan maar net spekuleer want ons weet net eenvoudig nie.
Tweeduisend jaar later word daar ‘n Baba gebore uit die nageslag van Abram. Hierdie Baba is later gekroon as Koning van die heelal en Hoëpriester by uitstek. Melgisedek het op ‘n baie beskeie manier vooruitgewys na hierdie Priester-Koning van alle tye.
Melgisedek het liefde bewys aan Abram deur lewegewende kos en wyn vir hom te gee. Die groot Priester-Koning gee aan almal wat in Hom glo die kos en wyn van die ewige lewe.
Abram het lof gebring aan Melgisedek deur aan hom ‘n tiende van die buit te gee. Die groot vraag is: wat is ek en jy bereid om aan die groot Priester-Koning te gee uit dankbaarheid vir die lewe wat Hy vir ons gegee het?
Psalm 110 besing die lof van hierdie Priester-Koning volgens die orde van Melgisedek. Kom ons maak vandag ‘n loflied ter ere van Hom wat was en wat is en wat kom. Kom ons bring Hom ere deur liefde te lewe soos wat Hy vir ons die voorbeeld gestel het.
Gebed:
Here, God, Almagtige, ons bring vandag al ons dank en lof en aanbidding aan U alleen vir alles wat U vir ons gedoen het.