Twee Blindes

15 August, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Twee Blindes

Matteus 20:29-34

Jesus se bediening word nou op die spits gedryf wanneer Hy uit Jerigo uitgaan. Die héél laaste been van Sy reis op aarde breek aan wanneer Hy die steil, dorre bergpas van Jerigo na Jerusalem aandurf. Jesus word gevolg deur ‘n reuse skare opgewonde mense. Kan hulle dalk aanvoel dat hier nou iets baie groot gaan gebeur? Die vraag is: wat wíl hulle hê moet gebeur? Die vorige insident, toe Jesus se intieme groepie van twaalf nog steeds nie kon begryp wat Jesus hier kom doen het nie, lê nog vars in die geheue. Dit laat jou wonder of hierdie klomp mense ooit die ware Jesus raakgesien het? Sien hulle nie dalk hier die Groot Leier wat hulle nou in die politiek sal voorgaan nie – dalk die Messias? Alle aanduidings is dat hulle wél vir Jesus sien as ‘n politieke Kandidaat wat hulle uit Rome se kloue sou red. Daarom volg hulle Hom met groot opgewondenheid. Hy het so pas die triomfantlike intog in Jerusalem begin, moontlik om die stad te verower!

Maar dan is daar ‘n oponthoud, iets wat hulle baie beslis nie nou op hierdie kritieke oomblik wil hê nie. Twee simpele blindes wat juis nóú Jesus se aandag soek. “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!” kerm hulle. “Bly stil! Kan julle nie sien dat Hy op pad is na Jerusalem toe nie? Daar is nou báie belangriker dinge om te doen as om twee kermende blindes te woord te staan! Ons gaan Jerusalem verower!Die blindes word summier stilgemaak. Maar die twee manne laat hulle nie só maklik afsit nie. Hierdie is hulle laaste kans en hulle skree al harder sodat Jesus asseblieftog net moet hoor: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!” Hoe harder die mense probeer om hulle stil te maak, hoe harder skree hulle. Hulle is desperaat - Jesus is hulle enigste redding. As Hy nou hier by hulle verbygaan is dit dalk vir ewig te laat! Hy is hulle laaste en enigste hoop. “Vorentoe! Vorentoe! Jerusalem wag!” is al wat in die skare se opgeklitste gedagtes kook. “Hierdie manne het immers 'n volle drie jaar gehad waarin hulle Jesus se genesing kon opsoek! Hoekom juis nóú? Waarom op hierdie kritieke oomblik? Nee wat, hulle kan beslis maar wag!

Jesus gaan staan. Hy draai om na die twee patetiese figure en tot groot frustrasie van almal wat Hom aanstoot na Jerusalem, vra Hy:Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?Sy houding spreek van groot deernis. Hy voel innig jammer vir hulle, want die samelewing het hulle verwerp. “Dat ons oë sal oopgaan Here.....” Jesus beur 'n pad deur die skare tot by hulle. Hy raak aan hulle oë. Dan gebeur die wonderwerk: hulle kan skielik sien! Tussen Sy “besige skedule” om die finale treë te gee na die redding van die ganse mensdom, maak Jesus tyd om aan twee blindes se oë te gaan vat. Terwyl die skare wil mal word van opgewondenheid, en voortbeur na Jerusalem om Jesus Koning te gaan maak, gaan staan Hy stil om aandag te gee aan twee miserabele uitgeworpenes.

En hulle het Hom gevolg.

Ek wil glo dat hierdie twee Jesus gevolg het om ‘n totaal ander rede as die res van die skare. Hulle volg Hom uit dankbaarheid vir wat Hy vir hulle gedoen het. Hulle volg Hom omdat hulle Hom waarlik sien as die Seun van God wat hulle gered het uit die duisternis. Hy het immers vir hulle die lig gegee! Hulle was anders as die skare, wat Jesus eintlik nie gevolg het nie, maar Hom eerder meedoënloos voortgedruk het na Jerusalem.

Wie en Wat is Jesus vir jou? Dalk sal jy sê dat ‘n mens mos nie so ‘n arrogante vraag kan vra nie! Jesus ís mos Koning! Inderdaad, maar dikwels wil ons Jesus anders probeer maak as wat Hy is. Nét soos wat daardie skare Jesus wou misbruik om hulle politieke aspirasies te bereik, probeer ons óók dikwels vir Jesus misbruik!

O, natuurlik kan en móét ek na Jesus gaan in my uur van nood, en Hom vra vir uitkoms. Inderdaad móét ons besef dat ons hele lewensbestaan afhanklik is van Hom. Maar so dikwels probeer ons ook vir Jesus manipuleer om sekere dinge te kry. In ‘n selfsugtige gebed probeer ons Hom dikwels in ‘n sekere rigting indwing, en sal ons soms selfs soos daardie skare op die blindes langs die pad trap om Jesus te kry waar ons Hom graag wil hê!

Ons moet onthou dat ons hele lewensbestaan as kinders van God moet wentel rondom die begrip van ‘n lewe van dankbaarheid. Jesus het die hoogste moontlike prys betaal om vir my en jou die geskenk van die ewige lewe te kon gee. Juis daarom moet dit vir my nie gaan om wat ek nóg van Jesus kan kry nie, maar eerder oor hoe ek Hom beter kan dien. Wat kan ek vandag vir Jesus doen om dankie te sê? Hoe kan ek my lewe inrig om waarlik vir die Here te wys dat ek Hom liefhet bo alles en almal? Elke gawe wat na ons kant toe kom moet ons sien as suiwer genade, en dit moet ons maar net aanspoor tot ‘n meer intensiewe dankbaarheidslewe. Boonop moet ons elke oomblik van die dag ons totale afhanklikheid van Hom besef, soos daardie twee blindes gedoen het.

Gebed:

Here Jesus, ek wil vanoggend bely dat ek U al so dikwels probeer misbruik het. Vergewe my asseblief daarvoor, en maak asseblief vandag my oë oop sodat ek die geleenthede kan raaksien om U beter te kan dien. Maak my gewillig om in U diens te staan, en maak my elke oomblik van die dag dankbaar vir alles wat U vir my doen.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026