Matteus 19:1-12
Ek sit eendag so in die Laeveld op die stoep, die aktiwiteite van ‘n Rooibek Neushoringvoël en dophou. Ons het mieliepitte en ‘n bietjie oorskietkos voor die stoep uitgegooi, en Meneer Neushoring het dit ontdek. Met klokslag-reëlmaat vlieg hy elke vyf minute om ‘n pit of twee op te tel. Dan vlieg hy daarmee reguit na sy nes, waar Mevrou en die kroos in ‘n gat in ‘n boomstam toegemessel sit. Daar is net ‘n klein skrefie waardeur hulle gevoer kan word. Uur-na-uur werk hy onverpoosd voort totdat die son sak. Môre vroeg, so kort na hanekraai, is hy alweer op sy pos, en hy stop selde om eers sélf ‘n happie te eet. Daar is net één saak op sy agenda: Vroulief wat vir hom sit en wag.
Sou daar miskien ‘n ander neushoringdoedie verbykom, sal hy nie eers in haar rigting kyk nie, want vir hom is die belangrikste ding in sy lewe sy maat. Hy pas haar soos goud op, en hy is baie versigtig om nie die geheim van haar nes te verklap nie, vir ingeval iemand met ‘n groot vleislus dalk om ander duistere redes in haar sou belangstel. Hy vlieg dus nooit reguit nes toe nie, maar hy maak eers ‘n draai om doodseker te wees dat niemand hom sien nie, voordat hy sy sóveelste pakkie kos gaan aflewer.
En sy? Wat is háár aandeel in hierdie verhouding? Sy laat haar vrywilliglik toesluit in ‘n beknopte spasietjie, en offer haar hele lewensbestaan op vir haar maat en hulle kleintjies. Die twee se onselfsugtige, alles-opofferende liefde vir mekaar en die passie waarmee hulle aan hulle “huweliksbande” werk maak my skaam dat ek dikwels so selfsugtig en onsensitief is teenoor my maat.
En dan dink ek onwillekeurig aan iets totaal anders: ‘n trop bobbejane. Hoe verskriklik anders is hulle nie! Daar is gedurigdeur ‘n oor en weer skelm gevryery, nes die grootbaas sy kop draai. Van “huweliksreinheid” is daar by hulle g’n sprake nie, en dikwels laat hulle jou bloos oor hulle eksplisiete seksmanewales. Dis erger as om ‘n pornografiese fliek te kyk!
Jesus word gekonfronteer met die vraag oor egskeiding. Wat hierdie gedeelte so moeilik maak, is nie soseer om te begryp wat daar staan nie, maar om dit in verband te bring met ons eie leefwêreld van vandag. Ons leef in ‘n wêreld waar buite-egtelike verhoudings en egskeiding so verskriklik “normaal” geword het. Dan klink Jesus se uitsprake hieroor so vreeslik outyds! Die feit is egter dat ek die pyn en smarte dikwels sien, wat ‘n derde persoon in die huwelik veroorsaak. Ek kry dikwels briewe van mense wat stukkend is omdat iemand anders hulle huwelik kom vernietig het.
Natuurlik wou die Fariseërs Jesus maar net probeer uitvang met hulle vraag, maar soos gewoonlik trap Hy nie in hulle strik nie. Hulle wou Hom vastrek met wetspunte, maar Jesus kom onmiddellik na vore met die kern van die saak. Dit gaan nie hier oor wat die huwelikswette sê nie, en hoe die regsgeleerdes die saak ontrafel en knoop om by elke omstandigheid aan te pas nie. Dit gaan egter oor die wil van God. God het van die begin af die huwelik bedoel as ‘n permanente verbintenis tussen een man en een vrou. Dit is Persoonlik deur God saamgevoeg, en niemand mag hierdie verbintenis verbreek nie. (Lees maar weer Mat. 19 vers 5 en 6). Daar is dus nie ‘n plek vir egskeiding binne God se wil nie.
Tog hou Jesus rekening met die gebrokenheid van ons wêreld, en Hy sê: “behalwe oor owerspel.” Beteken dit nou dat ‘n mens MOET skei as daar owerspel in jou huwelik betrokke was? Nee, beslis nie! Jy is nie verplig om dan te skei nie, maar in God se groot genade word jy vrygelaat om dan te skei. Ware berou en vergifnis kan egter selfs in só 'n geval 'n egskeiding verhoed. Ek weet van verskeie gevalle waar selfs hierdie verraderlike huweliks-ontrou nie die einde was van die huwelik nie. Egskeiding is nooit 'n oplossing nie - dit bly steeds téén die wil van God. Dit mag egter in bepaalde gevalle deur die gelowige met berou en rou as 'n uitweg aanvaar word.
As die huwelik dan so vol slaggate is, is dit nie dalk beter as ‘n gelowige nooit trou nie? Paulus het immers sélf gesê dat dit beter is om nie te trou nie (1 Kor. 7). Ons moet besef dat die huwelik in diens van die Koninkryk van God is en dat dit dus ondergeskik daaraan is. Die mens se hoogste roeping is egter om God voluit te dien. Daarom mag iemand wat besluit om sy hele lewe aan God alleen te wy, wel kies om nie te trou nie, soos in Paulus se geval. In Paulus se lewe sou 'n huwelik nooit uitwerk nie, want hy het sy hele lewe êrens op die pad deurgebring, besig om die Evangelie te versprei. As hy sou trou, sou hy nooit sy volle aandag so voluit aan God kon gee nie. Boonop sou dit sy huweliksmaat se lewe gedurig in gevaar stel, want Paulus het etlike male die dood net-net vrygespring. Dit is egter 'n groot genadegawe om so ongetroud te bly, en bitter min mense kan dit doen. Die punt is, dat daar niks verkeerd is daarmee om te trou nie, maar dat daar tóg mense is wat God beter kan dien deur ongetroud te bly.
Gebed:
Here, dankie vir my huwelik, en dankie vir die lewensmaat wat U my gegee het. Help my om haar altyd te koester en my liefde op haar uit te stort.