Tirus

6 August, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Tirus

Jesaja 23

Laaste aan die beurt in die reeks oordeelsuitsprake, is die Fenisiese kusgebied noordwes van Israel, met die hoofstad Tirus.

Die stad Tirus het 'n baie interessante geskiedenis, en dit is een van die oudste stede ter wêreld wat aaneen bewoon was. Dit bestaan reeds sedert 2750vC. Die bewoners was by uitstek handelaars wat wêreldwyd met hulle skepe handel gedryf het, tot so ver as Tarsus, die stad waarheen Jona wou vlug van die Here af. Terloops, Tarsus was waarskynlik in Spanje.

In die tyd van Jesaja het die stad Tirus uit twee dele bestaan. Die antieke stad was op die kontinent, en 'n tweede deel op 'n eiland 'n entjie van die kus af. Hierdie eilandstad was omring deur ondeurdringbare mure, en was uiteraard onaantasbaar. Elke vyand wat dit probeer inneem het, het bedroë daarvan afgekom.

Na Jesaja se verdoemende uitspraak oor hierdie land, het Nebukadnesar hulle binne geval en beslissend verslaan. Maar aan die eilandstad kon hy nie raak nie. 250 Jaar later kom Alexander die Grote egter aan bewind, en hy stel sy visier op Tirus. Natuurlik het die inwoners vir hom gelag, want hulle is onaantasbaar op die eiland. Maar Alexander was woedend, toe bou hy 'n brug na Tirus deur die see op te vul met klippe. Die inwoners was nie opgewasse teen hierdie aanslag nie, en in 332vC neem hy die stad in. In sy woede laat Alexander 8’000 burgerlikes vermoor, meeste vrouens en kinders, en 30’000 mense word as slawe verkoop.

Alexander se brug het deur die jare al breër geword, sodat dit vandag 'n skiereiland vorm wat deel van die groot stad is.

Jesaja begin 'n droewige verhaal vertel in die eerste twee verse: “Huil, bemannings van die skepe wat op pad is na Tarsis toe, want julle moederstad is verwoes. Julle het dit gehoor toe julle van Kittiërland af gekom het. Julle moet stil wees, inwoners van die eiland, julle wat handel dryf met Sidon, julle wie se rykdom oor die see aankom!” Kittiërland wat hier genoem word, is die eiland Siprus.

Jesaja sê vir die handelaars van Tirus dat hulle moet huil, want hulle moederstad is verwoes. Moederstad verwys hier na die deel van die stad op die kontinent. Hulle kom te hore van hierdie tragedie wanneer hulle op pad terug van Tarsus by Siprus aandoen. Natúúrlik is Tirus se handelsvennote almal erg ontsteld om te hoor van die ramp wat hulle getref het. Sidon, vandag een van die grootste stede in Libanon was 'n belangrike vennoot, en so ook Egipte, wat graan uitgevoer het uit die vrugbare gebiede rondom die Nyl. Egipte veral was baie ontsteld. Hulle skrik wanneer hulle hierdie berig ontvang oor hulle handelsvennote wat al hulle graan uitvoere behartig.

Dan sê Jesaja vir hierdie handelaars dat hulle maar kan omdraai en terugvaar na Tarsis, al die pad Spanje toe. Hierdie stad waar hulle altyd kon feesvier, en wat al soveel duisende jare bestaan, is vernietig. Dan vra hy die vraag: “Wie was eintlik verantwoordelik vir hierdie vernietiging?”

Moontlik het hulle gedink hulle weet wat die antwoord is, maar Jesaja maak dit duidelik dat hulle verkeerd is. “Die Here die Almagtige het dit besluit,” gee hy sélf die antwoord is vers 9.

Dan verduidelik hy waarom dit met hulle gebeur het, waarom die Here toegelaat het dat Tirus vernietig word. “Hy breek die trots, Hy maak die hoogmoed tot niks, Hy verneder dié wat oor die hele aarde geëer word!” Hierdie mense was hoogmoedig. Hulle het hulleself op 'n verhogie geplaas en gemaak asof hulle beter is as enigiemand anders. Hulle was tog immers die handelaars wat die hele wêreld aan die draai gehou het!

Maar iemand wat dink dat hulle só belangrik is, moet rekening hou met God. Hy kan selfs groot koninkryke skud en tot 'n val bring. Hy spreek slegs 'n woord, en die magtige stede van die Fenisiërs word vernietig. Selfs Sidon wat totaal onoorwinlik skyn te wees, sal vernietig word. Waar die mense nou nog vrolik feesvier, sal dit alles op 'n einde kom.

Jesaja sê verder vir hulle, dat dit nie eers sal help om te vlug nie. Hardloop hulle na Siprus toe, sal dit puur verniet wees, want daar is g’n rusplekkie vir hulle nie. En by die magtige Galdeërs sal dit ook nie help om te skuil nie, want ook húlle is van die gesig van die aarde afgevee, nadat die Assiriërs hulle land 'n puinhoop gemaak het.

Tirus sal wél weer uit die as verrys na sewentig jaar, simbolies die leeftyd van 'n koning. Maar van die ou glorie sal daar niks oorbly nie. Al die vrolikheid en feeste sal in die vergetelheid verdwyn.

'n Hoë boom val die hardste! Hoogmoed kom maklik tot 'n val. Jesus het die voorbeeld kom stel van wat nederigheid waarlik beteken. Hy vra vandag ook van my en jou om nederig en in volle afhanklikheid van God te leef.

Gebed:

Here, hou my asseblief nederig!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026