Tien Melaatse Manne

20 October, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Tien Melaatse Manne

Lukas 17:11-19

VIDEO OUDIO

Lukas herinner ons weereens daaraan dat Jesus en sy volgelinge steeds op reis was na Jerusalem. Hy sê nie presies hoe lank dit geduur het nie, maar dit voel vir ons asof hierdie paar kilometer vir ewig aangehou het. Het dit dalk so stadig gegaan as gevolg van die groot aantal mense wat gedurig Jesus se aandag gesoek het? Hy het deurentyd die mense geleer oral waar Hy gekom het, en daar was stringe siekes wat Sy aandag geverg het.

Lukas beskryf ‘n droewige prentjie toe hulle by een van die dorpies kom. ‘n Groepie van tien baie bedremmelde mans het op ‘n afstand gestaan en skree vir Jesus: “Jesus, Here, ontferm U oor ons!” Hierdie arme manne was verstotelinge uit die samelewing. Hulle was gedwing om buite die stad in die veld te bly en hulle durf nie met enige mens kontak gemaak het nie. Hulle was melaats!

Dit was ‘n hopelose en troostelose situasie. Hulle het seker al lankal van Jesus gehoor en hulle het geduldig sit en wag totdat Hy by hulle dorpie sou aandoen. Nagte deur het hulle het hulle gesprekke gegaan oor die moontlikheid dat hierdie Jesus eendag op hulle pad sou kom. Een van hierdie manne was anders as die ander - hy was ‘n Samaritaan. Nou weet ons mos ook al dat Samaritane nie gemeng het met Jode nie. Hulle verskriklike siekte het hulle egter só saamgebind dat hulle selfs hierdie Samaritaan in hulle midde verdra het!

Daardie oggend heers daar ‘n groot opgewondenheid in die groepie. Hulle het gehoor dat Jesus in hulle rigting op pad was. Dan merk iemand doer onder in die vlakte ‘n beweging - nie maar net een of twee mense wat aangestap kom nie, maar die ganse vallei is in beweging van duisende mense bymekaar! Die man met die baie sere op sy lyf skree opgewonde vir sy makkers: “Kyk! Hy is op pad!”

“Wat gaan ons doen?”

“Saamstaan manne, saamstaan sodat Hy ons net eenvoudig móét raaksien.”

Die ure sleep traag verby terwyl die stoet in die vlakte op ‘n slakkepas naderskuifel. “Hoe lank nog? Hoe lank nog!” Die manne raak ongeduldig “Waarvoor beweeg hulle dan so stadig?”

Amper ‘n dag later kom Jesus en sy gevolg uiteindelik by die dorpie aan. Die skare om Hom deins onwillekeurig terug as die tien melaatses skielik hulle pad versper. Soos een man smeek die tien Jesus om hulp. Hulle is aan die einde van hulle kragte. By ons as lesers het hier nou al ‘n reuse spanning opgebou, want hier gaan iets gebeur. Hier móét vandag ‘n gróót wonderwerk plaasvind! Dit is half ‘n antiklimaks as Jesus doodeenvoudig vir die manne sê: “Gaan wys julleself vir die priesters!”

Die priesters was die enigste instansie wat iemand wat aan melaatsheid gely het weer rein en gesond kon verklaar. Nie eers ‘n mediese dokter (soos Lukas) kon hierdie verskriklike siekte gesond diagnoseer nie. Soos een man spring die spul daar weg en hardloop na die priesters toe. Terwyl hulle hardloop, gebeur die wonderwerk - hulle sere verdwyn!

Een van die manne, nogal die Samaritaan, steek egter viervoet vas. Skielik is daar vir hom iets baie belangriker as om by die priesters uit te kom om rein verklaar te word. Hy draai om en hardloop terug na Jesus toe en val voor Sy voete neer. “Dankie Here, dankie, dankie, dankie!” Trane van dankbaarheid rol oor sy wange. Hy is borrelend van blydskap en hy loof God hardop vir die wonderwerk wat met hom gebeur het!

“En die ander nege?” wil Jesus weet. “Wat het van hulle geword?”

Hierdie Samaritaan - hy is nie eers ‘n Jood nie - het met sy omdraai en dankbaarheid homself persoonlik aan Jesus verbind. Nie slegs omdat hy gesond geword het nie, maar omdat hy in Jesus Iemand baie meer as net ‘n Wonderdoener sien. Ons hoor nooit weer van die ander nege nie!

Ek het oor die jare al talle briewe gekry van mense wat vra hoe hulle ‘n Christen kan word. Vir elkeen van hulle het ek die evangelieboodskap uitgestippel. Slegs enkeles van al hierdie mense het ooit teruggekom en vertel dat hulle werklik vir Jesus ontmoet het en hulleself aan Hom verbind het. Wat het van al die ander geword? Het hulle ook maar in die niet verdwyn soos hierdie nege manne? Daar moes sekerlik duisende mense gewees het wat deur Jesus gesondgemaak was, maar net ‘n klein handjievol van hulle het hulleself persoonlik aan Hom verbind, en Hom gevolg tot die bitter einde. Hierdie ou paartjies het uiteindelik die kern van die kerk geword wat soos ‘n veldbrand oor die wêreld versprei het.

As jy die evangelieboodskap gehoor het en Jesus se wonderlike verlossing beleef het, kan dit net eenvoudig nie anders nie, dat jy blom in jou dankbaarheid teenoor Hom. Om jou liefde jubelend uit te leef teenoor God en jou medemens, moet eenvoudig ‘n natuurlike reaksie wees. Die vraag is: hoe beleef jy jou Christenskap? Soos die nege wat verdwyn het? Of soos die dankbare Samaritaan?

Gebed:

Here, ek wil vanoggend opnuut in dankbaarheid voor U neerval. Dankie vir alles wat U vir my gedoen het. Leer my om my dankbaarheid ten volle uit te leef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026