Johannes 2:13-22
Jesus en Sy dissipels het na Jerusalem toe gegaan om Paasfees te gaan vier. Wanneer presies dit in die kronologie inpas, is nie baie seker nie. Wanneer ons vandag geskiedenis neerskryf, dan maak ons seker dat dit in die korrekte kronologiese volgorde is, maar vir die Jode was dit nie belangrik nie. Wat egter wél belangrik was, was om die regte boodskap op die regte plek neer te skryf. Volgens ander evangelies het hierdie gebeurtenis eers reg aan die einde van Jesus se bediening plaasgevind. Ons moenie ons koppe breek oor die volgorde nie - die boodskap is die belangrikste! Johannes het nie geskiedenis geskryf nie maar hy wou die boodskap tuisbring!
Moontlik moet ons eers die agtergrond van die gebeure verduidelik om te kan verstaan wat werklik gebeur het.
Mense het baie ver gereis om in Jerusalem in die tempel te kom offer. Hulle moes op donkies ry of dikwels selfs te voet daar kom, en dan neem dit dikwels ‘n week of langer. Om so ‘n reis aan te pak met ‘n skaap of twee, of dalk ‘n paar duiwe, was alles behalwe prakties. En as jy dit nog sou doen, dan het hierdie offerdiere maar bitter vaal gelyk aan die einde van jou reis. En daar het die wisselaars ‘n nis in die mark gesien. Vaal diere is omgeruil vir mooi blinkvet diere wat aanneemlik sou wees vir offer - teen ‘n prys natuurlik! Of jy kon daar reg in die tempelplein vir jou ‘n offerskapie koop.
Geld was ‘n ander kwessie: Romeinse geld was totaal verbied in die tempel, want daar was ‘n beeld op, nogal dié van die keiser en die wet sê duidelik dat jy nie vir jou ‘n “gesnede beeld” mag maak nie. Dit moes dus omgeruil word vir Joodse geld - teen ‘n prys, natúúrlik. En selfs met die Joodse geld was daar ‘n probleem, want die metaal in die munte was nie altyd so suiwer nie omdat smelterye in daardie jare maar primitief was. Slegs suiwer munte was aanneemlik om as offergeld gebruik te word. En weereens moes die arme mense maar betáál om hulle munte om te ruil!
Intussen word die wisselaars ryk uit ander mense se probleme. Ons kan maklik sê dat hulle maar net ‘n besigheid bedryf het. Die probleem was egter dat geld hulle afgod geword het, en dat hulle mense in nood uitgebuit het. Dit wil voorkom asof hulle buitensporige winste gemaak het! Hulle was mense wat in die tempel gewerk het, en wat as sulks geassosieer was met God. Vir hulle het die klem egter verskuif van God af na geld toe. Ons moet baie duidelik besef dat bymotiewe absoluut géén plek het in jou aanbidding nie. As dit die geval is, dan moet jy jou verhouding met God ernstig herbesin.
Dit is dáárom dat Jesus met ‘n sweep onder hulle ingeklim het. Hy het hulle tafels omgekeer en hulle diere uit die tempel uitgejaag. Hieroor was die Jode woedend en volgens die ander evangelies was hierdie insident die laaste strooi vir die Joodse Raad om Jesus gevange te neem en te laat kruisig.
Ons kan egter baie meer lees in hierdie handeling as slegs die fisiese dinge wat daardie dag gebeur het. Johannes beskryf ‘n uitspraak wat Jesus daar gemaak het omtrent die tempel wat Hy in drie dae sou opbou as dit afgebreek sou word. Ons weet natuurlik dat Hy met die tempel sy eie liggaam bedoel het. As ons dan Jesus se tempelreiniging in hierdie lig sien, dan is daar ‘n baie dieper betekenis in die handeling.
Die Jode moes in die tempel gaan offers bring. Daarvoor het hulle geld of offerdiere nodig gehad. Jesus het egter die geld uitgesmyt en die offerdiere uit die tempel uitgejaag. Nou het die Jode niks meer gehad om te kon offer nie want hulle hele offerstelsel het in die gedrang gekom. Dit was so goed as om vir hulle te sê: “Julle hoef nie meer Tempel toe te kom nie!” Ons moet besef dat dit ‘n simboliese handeling was om aan te toon dat Jesus nou die nuwe, volmaakte Tempel sou word. Die tempel was gesien as die woonplek van God. As jy dus by Jesus is, is jy by God (die nuwe Tempel). By Hom is al hierdie offers nie meer nodig nie. Hulle is uitgedien, omdat Jesus reeds die finale offer gebring het. Al die Joodse gebruike en kultus is dus nou oorbodig.
Vandag maak ons dikwels ook ‘n baie groot fout, om God in ‘n kerkgebou te wil sien. Dikwels word daardie gebou vir ons heilig soos wat die tempel vir die Jode heilig was. Maak ons dan nie dalk ook ‘n afgod van daardie gebou nie?
Uit wat ons hier bo gelees het, sien ons dat Jesus nie net die offers vervang het nie, maar ook die tempel. Dáár waar Jesus is, dáár is die tempel. Ons weet ook dat Jesus in Matteus 28:20 gesê het dat Hy altyd by ons is. Ons is dus te alle tye by hierdie Tempel en ons kan Hom aanbid nét waar ons is. Dit is nie nodig vir spesiale tye en spesiale plekke en spesiale omstandighede nie. Baie gelowiges spandeer byvoorbeeld hulle rytyd soggens werk toe in gesprek met Jesus, in plaas van om te kla oor die verkeer.
Gebed:
Dankie Here, dat ek my oggend kan begin in gesprek met U, en dat ek ook kan weet dat U die hele dag lank my Gespreksgenoot is.