Paulus was ‘n baie ernstige man. Dis nie dat hy nors of onvriendelik was nie, maar ernstig in die dinge van die Evangelie. Vir hom was daar net één manier, en dit was die regte manier, volgens Bybelse riglyn. Hy was egter nie sonder sy bietjie humor nie. ‘n Tikkie daarvan slaan deur as hy die dwaalleraars aanvat. Paulus het gevoel dat dit suiwer dwaasheid was om te roem op enige menslike mylpale in jou lewe. Roem en eer is wêrelds! Maar nou ja, as die dwaalleraars dan kan roem in groot dinge, dan kan hy mos maar ook vir een slag ‘n dwaas word en roem. Hy kan immers op baie meer dinge roem as hulle! As hulle kan grootpraat - hy kan dit baie beter doen! Maar eers wil hy dit in perspektief stel: hy praat beslis nie sulke grootpratery goed nie want dit is nie iets wat van God kom nie.
Paulus “spog” dat hy ‘n Jood is in murg en been, vólbloed, met ál die nodige geslagsregisters en fieterjasies van ‘n rasegte Jood.
Dis egter nie ál waarop Paulus kon roem nie. Oor die aller-verskriklikste ontberinge wat hy deurgemaak het, kan ons maar net die kop skud en sê: “Foei-tog! Arme man!” As daar darem nou één mens is wat van swaarkry geken het, dan was dit Paulus! By vyf geleenthede het die kerk hom onskuldig gestraf deur hom 39 houe te slaan. Deuteronomium 25 skryf voor dat iemand wat in ‘n hofsaak skuldig bevind is op die grond moet gaan lê, en met ‘n gésel geslaan word. Hy mag egter nie meer as veertig houe kry nie. Uit vrees dat hulle dalk die voorskrif kon oortree, het die Jode slegs 39 houe toegedien, net vir ingeval iemand dalk per ongeluk verkeerd getel het. Hierdie was ‘n wrede straf, en die arme man was half-dood geslaan, want die owerhede het nie gespeel nie!
Boonop het Paulus ook ’n steniging oorleef. By so ’n geleentheid word jy nie met klein klippies gegooi nie, maar gróót klippe wat bedoel was om dood te gooi. Stefanus is op so ’n gruwelike wyse doodgegooi. Paulus het egter weer daar opgestaan en nie opgehou om te preek nie!
En dan was die openbare vervoer van daardie jare nou nie juis veiliger as vandag se minibus taxis nie! By drie geleenthede het die skip waarop hy geseil het gesink. Eenmaal moes hy vir ’n dag en ’n nag in die oop see aan ’n wrakstuk vasklou voordat hy gered is.
Paulus se reise oor land was dikwels nog erger. Rowers, riviere in vloed, bittere koue, versengende hitte en wilde diere was ‘n alledaagse, en dikwels moes hy snags in die veld slaap. Sy ergste gevaar was egter die mense. Jode sowel as heidene wou hom uit die weg ruim!
Maar asof dit nie genoeg was nie moes Paulus dikwels nagte deurwerk om aan die lewe te kon bly sodat hy bedags die evangelie kon verkondig. Dikwels moes hy honger ly. By geleenthede het hy byna verkluim in die bittere koue winter, sonder enige skuiling. En deur al hierdie swaarkry waar hy hom afgesloof het vir die mense aan wie hy die Evangelie gebring het, het sommige van hulle nog teen hom gedraai ook.
Paulus vertel egter nie van al hierdie verskriklike ontberinge sodat ons hom moet jammer kry nie. Inteendeel, hy beskou dit bloot as deel van die lewe. Ten spyte van dit alles, loop hy oor van dankbaarheid en blydskap. Hierdeur sê hy ook dat daar persone is wat juis met opset sulke swaarkry deurmaak sodat mense hulle moet jammer kry en vereer.
Vandag hoor ons dikwels van mense wat die verskriklikste gevare deurmaak bloot om hulle name in groot opskrifte in die nuus te kan sien. Eie eer! Of diegene wat deur die allerverskriklikste lyding gaan om God se guns te probeer wen, soos die mense wat in Suid Amerika gedurende Paasfees hulleself loop en gésel totdat die bloed van hulle afstroom. Of erger nog, wat soos Jesus gekruisig word.
Paulus gee ál die eer aan God alleen. Dit gaan nie oor sy swaarkry nie, maar juis dat God hom deur al die swaarkry en gevare steeds staande gehou het, ten spyte van sy eie swakhede. Paulus was bereid om sy hart totaal vir die Here oop te maak, en die Here het hom nie teleurgestel nie. Toe hy en Silas met seergeslaande, bebloede lywe in ‘n vuil tronk vasgeketting lê, het hulle nie daar gelê en huil van selfbejammering nie, maar hardop lofliedere gesing! Dit is wat gebeur as jy jouself onvoorwaardelik in God se hande oorgee. Jou ganse lewe word gevul met ‘n blydskap wat net eenvoudig oorborrel, al is jou omstandighede ook hóé haglik.
As die ellende jou tref het jy twee keuses: jy kan kies om jouself aan die ellende oor te gee, en miserabel op 'n hopie te sit en huil en jouself bejammer. Of jy kan kies om al jou sorge aan die Here oor te gee, en Hom te loof en dank vir Sy genade, en so boonop 'n praktiese instrument te word in die hande van God om die boodskap van Sy liefde en genade uit te dra.
Gebed:
Here, ek dank U vir die swaarkry in my lewe. Leer my om dit te gebruik tot U eer.