Matteus 8:23-27
Om te preek is harde werk! Dit klink dalk baie snaaks, as jy dit nog nie gedoen het nie. Maar glo my, ek wéét! Alhoewel ek nie ‘n dominee is nie, kry ek dikwels die geleentheid om in die klein dorpies in Zoeloeland te preek. En elke keer is ek na die preek sopnat gesweet en totaal uitgeput. En dit is maar net na een enkele uurtjie! Jesus het vroegoggend begin en tot kort voor donker gepreek vir dae aaneen.
Vir Johannes was dit nie eers snaaks toe sy Meester vir hulle laat daardie middag aansê om Simon se skuit in die water te stoot nie. Hulle móés net eenvoudig wegkom van hierdie uitmergelende skare wat meër en meër wou hê. Hy vra dat hulle na die oorkant moes vaar na die land van die Garaseners, waar feitlik niemand nog van Hom gehoor het nie. Suiwer heidense wêreld daardie! Johannes kry eintlik koue rillings net aan die gedagte van waarheen hulle op pad is. Wat wil die Meester dan nou daar gaan maak? Hy het al van sy skuit af die troppe varke daar sien wei. Hy ril weer.
Rondom die see van Galilea is daar etlike berge en klowe. Dikwels vorm daar kort, sterk winde wat in hierdie klowe afstroom, amper soos deur ‘n tregter, en dan veroorsaak dit baie skielike en hewige storms op die meer. Johannes voel nie baie gerus nie, daar is iets in die lug! Hy hoop nie hulle kry vannag so ‘n storm nie!
Skaars is hulle in die skuit, of Jesus gaan vly Homself op ‘n bankie neer, en minute later slaap Hy. Johannes kyk Hom aan met ‘n glimlag om sy moendhoeke, Hy moet sekerlik uitgeput wees na nóg ‘n marathon-dag van preek, siekes gesond maak, duiwels uitdryf en vertrap word deur die skares van mense wat almal by Hom wou uitkom. Mense kan darem verskriklik veeleisend wees!
Dan gebeur dit: daardie gevreesde skielike stormwind! Eers is dit net ‘n rukwind, sommer so uit die niet. Johannes se hart klop in sy keel, dis nie die eerste keer dat hy in ‘n storm beland nie, hy weet hoe dit werk! Binne minute loei die wind en hulle moet inderhaas die seile laat sak. Die golwe raak al groter en groter, totdat woeste branders keer op keer oor hulle brose skuitjie breek en dreig om alles uitmekaar te slaan. Die manne is doodsbenoud, hulle klein skuitjie word minagtend soos ‘n dobbertjie in die groot oseaan rondgeslinger. Hulle sien al hoe hulle die dieptes insink.
Jesus slaap rustig voort.
Johannes kan dit later nie meer hou nie. Hy skud Jesus wakker. “Meester, ons sink! Ons vergaan! Word wakker!”
Johannes kyk toe hoedat sy Meester rustig regop gaan sit, so asof daar nooit enige krisis bestaan nie. ‘n Enkele woordjie van Hom laat die woeste wind en golwe bedaar sodat daar plotseling ‘n doodse stilte en kalmte kom.
“Kleingelowiges!” Jesus verwyt die manne oor hulle ongeloof. Vir die afgelope tyd sien hulle elke dag die wonderwerke wat Hy doen, sien hulle die mees ongelooflike dinge gebeur. Die water in wyn, Simon se skoonma, die man met die verdorde hand. Maar die oomblik as dit hulle eie basse begin raak, dan begin hulle twyfel oor presies waartoe Jesus in staat is. Hulle het duidelik nog ‘n baie lang pad om te loop voordat hulle gereed is om die leiding van die kerk oor te neem.
Johannes voel soos ‘n wurm. “Wie is Hy dan tog?” Hy en sy maters het nog nie eers begín om te begryp wie hierdie Rabbi is wat al die wonderlike dinge laat gebeur nie.
Die vraag is of ek en jy mooi verstaan presies wie Jesus nou werklik is? Ek dink dat, nes Johannes en sy maters, ons nie aldag werklik besef met wie ons te doene het nie. In die eerste plek dink ek dat ons ou verstandjies net eenvoudig te klein is om ‘n begrip van Hom te kan kry, want Sy almag en alwetenheid en alomteenwoordigheid is baie groter as wat ons kan verwerk. ‘n Man sê eendag vir my dat hy nie aan God kan glo nie, want hoe is dit ooit moontlik vir iemand om tegelyk op baie verskillende plekke te wees? Ja, hy is reg! Ons verstand kan nie sulke dinge begryp nie, want dit pas nie in ons verwysingsraamwerk in nie.
Tóg is die bewyse oorweldigend. Dit lyk absoluut onmoontlik vir iemand wat dodelik siek is om eensklaps blakend gesond te wees. Medies is dit nie moontlik nie. Nogtans gebeur dit, en dan moet die dokters dikwels net hulle koppe in ongeloof skud. By God is absoluut niks onmoontlik nie.
Dit is egter nie nodig dat ons die wonderwerke ervaar en moet sien nie, al die bewyse is alreeds daar. Maar hierdie dinge moet ons aanspoor tot aanbidding van Hom wat oor alles heers en vir Wie niks onmoontlik is nie. Besef ons ooit nog wie God werklik is? Kom ons raak vandag diep onder die besef van Wie ons aanbid, en ons gee Hom die lof en eer wat Hom toekom.
Gebed:
Here, vanoggend val ek voor U neer in aanbidding, want ek is maar net ‘n stoffie voor U groot almag.