1 Timoteus 4:10-16
Wat ‘n wonderlike voorreg is dit om te kan dien as Christenleier! Dis egter nog ‘n véél groter voorreg as iemand jou vra: “Hoe word ek ‘n Christen?” Dit is seker die grootste vreugde wat jy ‘n Christenleier kan gee, om hom so ‘n vraag te vra want dit gee hom die geleentheid om die heerlike boodskap van Jesus se verlossing met daardie persoon te kan deel. Ek het my hoop ten volle op die lewende God gevestig, nie uit my eie krag nie maar omdat Hy my genadig was en vir my daardie hoop gegee het. Nou het ek die voorreg en geleentheid om dit ook met ander te kan deel, want Paulus stel dit baie duidelik in vers 10 dat Jesus die Verlosser is van alle mense en dit beteken ook van Moslems, Hindoes en selfs ateïste! Die voorwaarde is dat hulle eers in Jesus glo! “Van almal wat glo.” sê Paulus (v.10).
My pleidooi by jou as Christenleier is dan ook dat jy jou daarop sal toelê om in die héél eerste plek die wonderlike boodskap van verlossing met almal met wie jy in aanraking kom te deel. Die boodskap is eenvoudig en dit bring soveel borrelende vreugde, nie alleen vir die persoon met wie jy dit deel nie maar ook vir jouself, jou medegelowiges en selfs die engele in die hemel!
Moontlik wil jy wal gooi met: “Nee, ek is te jonk; te onervare; te oud; te wat-ookal!” Timoteus was ook maar ‘n jong kêreltjie van iets in die dertig toe hy as leraar van Efese aangestel is. Vir daardie jare was dit ongehoord dat iemand só jonk sou leiding neem, wat staan nog om ‘n hele gemeente te lei! Vir hom om die vertroue van die gemeente te wen, was ‘n byna onbegonne taak. Vir séker sou die gemeente baie skepties gewees het of hierdie mannetjie ooit die mas sou kon opkom.
Hoe maak jy om hulle vertroue te wen? Paulus se goeie raad aan Timoteus was om in ‘n toenemende mate daarop te konsentreer om ‘n voorbeeld te stel. Dit beteken nie dat hy só moes leef dat die ouer mense met hom tevrede moes wees nie, maar dat hy die voorbeeld van ’n gelowige se lewe moes uitleef. Nie volgens die verwagtinge van ander mense nie, maar met toewyding aan God. Deur in opregtheid jou geloof uit te leef, word jou persoonlike lewe mettertyd ook ’n voorbeeld vir wantrouige medegelowiges om na te volg.
Selfs al is jy dalk baie jonk kan jy steeds as Christenleier die egtheid van jou geloof uitleef deur selfopoffering, vertroue op God en ‘n lewe volgens die riglyne van die Bybel (woord, gedrag, liefde, betroubaarheid, reinheid – v.12 - 2020 vertaling).
Die vraag ontstaan: Waarop moet ‘n Christenleier hom dan toelê? Wat is werklik belangrik?
Jy kan ander se vertroue wen deur die aandag te verskuif van jou persoon na jou roeping. Dit is nie Timoteus waarvan die lidmate in Efese moet weet nie, maar hulle moet weet wie God is. Dit is nie Louis Nel wat belangrik is in hierdie dagstukkie nie, maar die boodskap wat die Here hierdeur gee. Timoteus word dus in vers 13 deur Paulus opgeroep tot “voorlesing, bemoediging en onderrig”. Hy was wel jonk, maar hy het die gawes daarvoor gehad en dus moes hy dit gebruik. Ons het nie almal die gawes wat Timoteus gehad het nie, maar die Here vra van my en jou om die gawes wat Hy ons wél gegee het te gebruik tot Sy eer.
As die Here ons geroep het vir ‘n sekere leierskapstaak, dan kan ons ook vertrou dat Hy ons die nodige toerusting daarvoor sal gee. Toe Hy my geroep het vir die taak om dagstukkies te skryf, het ek viervoet vasgesteek: “Here, maar ek is mos nie ‘n skrywer nie!” Ek het alkante toe probeer uit hierdie tameletjie kom. Toe ek egter eers begin skryf, kon ek net nie ophou nie! Dis heerlik! Hy het my die toerusting gegee wat ek só nodig gehad het. Kyk gerus ‘n bietjie na die gawes van kundigheid wat die Here vir jou gegee het. Gebruik jy dit tot Sy eer? Ek daag jou vandag uit: Lê jou daarop toe om daardie gawes voluit vir die Here te gebruik! Wanneer jy jou gawes gebruik, word hulle geslyp en gepoleer totdat hulle naderhand seepglad loop. Gebruik jy hulle nie, dan begin hulle kwyn totdat hulle naderhand totaal verdwyn.
Mense mag jou dalk wantrou, maar as jy volhard in ‘n Bybelse benadering, jou gawes gebruik, hard werk en jou bekwaamheid oefen, sal jy mense oortuig dat jy inderdaad tot hulle voordeel in God se diens staan.
Ten slotte kom Paulus weer by die primêre doel van die gemeente van 1 Tim 2:3,4, naamlik om diensbaar te wees aan God se plan sodat alle mense gered kan word. Elke Christenleier moet hierdie doel najaag! In die eerste plek moet jy fokus op jou eie lewe en seker maak dat dit in ooreenstemming is met God se Woord en vir Hom aanneemlik is. Jou loon is die wonderlike genade van Hom oor Wie alles gaan. Nie alleen kry jy redding nie, maar so ook almal wat jou boodskap van verlossing hoor en aanneem. Wat ‘n wonderlike voorreg is dit om te kan dien as Christenleier!
Gebed:
Dankie Here, dat U so wonderlik genadig was om my deel te maak van U span wat werk in U Koninkryk!