Gister het ek geskryf oor die sonneblomland. Maar ek wil hê dat ons weer ’n slag teruggaan daarheen. Ek wil jou graag iets opwindend wys! Kyk ’n slaggie mooi na een van hierdie sonneblomsaadjies. Wat sien jy? ’n Vaal, swarterige, onaansienlike pitjie wat nou nie juis veel om die lyf het nie. Maar gaan begrawe hom, en kyk net wat gebeur! As hy die dag ontkiem, dan gebeur daar ’n asemrowende wonderwerk. Daardie eerste ou brose blaartjies wat hulle koppies deur die harde grond uitsteek laat jou al klaar snak na jou asem. Wat gaan van hierdie klein plantjie word? En jy soek verniet na die oorspronklike saadjie wat jy geplant het. Al wat daarvan oorbly is ’n leë doppie. Die klein plantjie groei in ’n relatief kort tydperk tot ’n groot plant. En dan blom hy! En wat ’n blom! Goudgeel, so groot soos ‘n bord, en gelaai met ryk saad wat skitter in die son. En die sonneblom hou altyd sy gesig gerig op die helder son. As jy probeer om hierdie manjifieke plant te vergelyk met die oorspronklike dooie saadjie, dan staan jy verwonderd. Hoe is dit moontlik dat daardie vaal ou korreltjie so ‘n mooi plant kon word?
Paulus vra: “Hoe word dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle hê?” (1 Kor 15:35). “Dom vraag!” sê Paulus. Maar eintlik is dit gladnie so ‘n dom vraag nie, want dit word baie dikwels gevra. Ja, ons sal dalk nie hardop vra nie, maar heimlik wonder elkeen van ons hieroor. Hoe gebeur dit? Kry ek ooit weer ‘n liggaam? Vergaan my ou liggaam nie maar die dag wanneer ek sterf nie? Natuurlik doen hy! Maar word ek dan maar net ‘n gees? Gaan my ou geraamte dalk eendag met die wederkoms weer vleis en vel aan kry? En wat daarvan as my liggaam veras is en die assies in die see gestrooi is?
Paulus verduidelik dat daar diskontinuïteit is wanneer jy sterf - jou ou liggaam vergaan. Tóg is daar terselfdertyd ook kontinuïteit, want jou gees bly lewe. In ‘n sekere sin bly ons dieselfde, want presies dieselfde mens wat sterf, leef steeds voort. Sien, die werklike jy is eintlik gees, en jou liggaam is net ‘n dop wat jou gees huisves. Maar dan gebeur die wonderwerk: soos wat daardie sonneblomsaadjie skielik totaal van vorm verander, so verander ons ook. Soos wat die lewenssap van die saadjie eenvoudig oorgaan en die kern vorm van die splinternuwe sonneblomplant, so gaan jou “lewenssap”, jou gees oor in die splinternuwe liggaam, ‘n verheerlikte liggaam.
Jesus het dit vir ons kom demonstreer ná Sy kruisiging. Toe Hy die dag uit die graf opstaan, was hy in sekere opsigte nog presies dieselfde. Sy wese het nie verander nie, en Hy het met Sy vriende gesels. Tóg was Hy tegelyk ook baie anders, want Hy het byvoorbeeld in ‘n vertrek ingekom terwyl die deur nog gesluit was. Hy was nie meer gebonde aan die gewone ou natuurwette nie. Hy was steeds herkenbaar, en selfs die gate in Sy hande was steeds daar, waar daar enkele dae tevore rowwe spykers deur Sy vleis geskeur het. Tóg was dit nie meer rou wonde nie, maar sigbare tekens van die duur prys wat Hy moes betaal vir ons sonde. Ja, Thomas kon sy ongelowige vingers deur die gate druk om eerstehands te ervaar dat Jesus ‘n werklikheid is. Eenders, tóg báie anders!
My ou aardse liggaam is tog só kwesbaar! Ek besef dit dikwels baie deeglik wanneer my brose liggaam nie lekker wil saamwerk met my gees nie. Maar eendag, as hierdie ou lyf die dag totaal uitgedien is, dan gaan ek ook so ‘n wonderlike verheerlikte liggaam kry. Dan gaan hy ook soos Jesus s’n, nie meer gebonde wees aan die natuurwette nie. Hy gaan onverganklik wees en siektes sal absoluut geen uitwerking op hom hê nie. Dit gaan ‘n volmaakte, perfekte liggaam wees!
Die vraag is egter of ons dan almal eenders gaan lyk? Kom ons gaan weer terug na die landerye toe. Ek plant ‘n sonneblompit, ‘n mieliepit en ‘n grondboontjie langs mekaar. Gaan die nuwe plante eenders lyk? Natúúrlik nie! Hulle gaan hemelsbreed van mekaar verskil, al is hulle al drie “opstandingsplante”. Paulus verduidelik dit deur te verwys na die sterre. Al die goeters daar bo in die lug is immers hemelliggame, maar die son en maan is totaal verskillend, en so ook die sterre. Paulus het nie ‘n teleskoop gehad nie, maar ek dink hy sou verstom staan as hy boonop deur so ‘n ding na die sterre sou kon kyk en sien dat daar feitlik nie twee sterre is wat eenders lyk nie. Sommige “sterre” is selfs galaksies of gasnewels.
Daar kom ‘n dag wanneer trompetgeskal sal weerklink oor die wêreld (1 Kor 15:52). Dit sal die wederkoms van Jesus aankondig. Op daardie oomblik sal almal wat reeds gesterf het ‘n splinternuwe liggaam kry, en diegene wat dan nog lewe se liggame sal verander word om onsterflik te word. Almal sal splinternuwe klere kry om Jesus, die Koning te ontmoet.
“Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal,” jubel Paulus. “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” (1 Kor 15:54,55)
Gebed:
Here, ek sien opgewonde uit na daardie dag wanneer ek ook ‘n splinternuwe opstandingsliggaam gaan kry.