Amos 4:4-5
Hoor ek toe mos eendag iemand sê: “Ek is baie godsdienstig!” en toe wonder ek wat dit nou eintlik beteken om baie godsdienstig te wees? Inderdaad was ek jare gelede as jong man ook baie godsdienstig. Daar het nie ‘n Sondag verbygegaan nie waar ek minstens twee keer op die dag kerk toe gegaan het. Ek was ‘n voorbok in die jeugvereniging en ek het selfs betrokke geraak by die gemeente se sendingaksie. Ek was die jongste lid van die kerkraad, en baie trots op dié feit. As diaken het ek my plig getrou nagekom, en gereeld elke maand by al my wykslede uitgekom. Ek het in die kerkkoor gesing, en my godsdiens ten volle uitgeleef.
Maar daar was ‘n probleempie, en ek kon net eenvoudig nie my vinger daarop lê nie. By ‘n geleentheid vra die leraar ‘n vraag, en ek gee ‘n briljante antwoord daarop. Ek was so trots op my antwoord, want ek het nie gedink dat daar soveel wysheid in my steek nie. Maar die opmerking van die leraar het my sprakeloos gehad: “Hier is die Heilige Gees aan die werk”, het hy gesê, “want daardie antwoord kom nie van ‘n mens nie!” Ek was onmiddellik smoorkwaad vir die leraar. “Hoe kan hy sommer my slim antwoord so aan die Heilige Gees toeskryf? En ek kry nie eers erkenning daarvoor nie!”
Een ding in my lewe wat ek nie kon verwerk nie, was dat baie van my kerk-maats so verskriklik “heilig” voorkom. Hulle bid dinge wat ek nie verstaan nie, en dikwels klink hulle gebede “soetsappig”, en ek wens dat hulle darem nou sal ophou bid. Sulke dinge pla my, en ek bedryf my godsdiens met meer vuur om die kwellinge weg te werk.
Eers ‘n paar jaar later ontdek ek waar die probleem gelê het: Sien, ek het godsdiens probeer bedryf sonder om Jesus daarin toe te laat! Een mooi dag in 1974 het alles totaal verander, toe Hy in my lewe gekom het. Skielik het die skille van my oë afgeval, en het ek besef dat my godsdiens absoluut niks werd was nie.
“Kom na Bet-El toe as julle wil sonde doen, na Gilgal as julle nog meer sonde wil doen”, sê Amos vir die volk. Bet-El en Gilgal was vir Israel heilige plekke waar hulle God aanbid het. Jerusalem en die tempel was vir Israel ontoeganklik, omdat dit in Juda se grondgebied was. Israel en Juda het nie langs dieselfde vuur gesit nie, alhoewel albei Joodse volke, bloedbroers was. “Bring maar julle offers en tiendes,” sê Amos baie sarkasties. Hierdie mense het hulle godsdienstige verpligtinge baie getrou nagekom, selfs uit hulle pad gegaan om méér te doen as wat van hulle verwag was. Nie alleen hulle verpligte offers nie, maar ook vrywillige offers het hulle getrou gebring.
“Baie mooi!” sou ons wou uitroep, maar die Here was beslis nie hiermee tevrede nie. Waarom nie? Dit was gedoen met die verkeerde gesindheid. “So hou julle mos daarvan”, kap Amos sarkasties, want hy besef maar ál te goed dat die Here dwarsdeur hulle godsdienstigheid sien. Dit gaan nie oor die Here nie, maar hulle doen dit om mense te beïndruk, of om hulleself aanvaarbaar te maak by mense. Hulle vrywillige offers is met groot fanfare gebring sodat almal kon sien hoe vrygewig hulle is. Die probleem is dat wanneer dit gebeur, dan is dit nie meer GODSdiens nie, maar MENSdiens. En dan is dit sonde! Die Israeliete het ál die regte geluide gemaak om totaal die verkeerde rede, en sodoende met ‘n vroom gesig in die kerk gesit en sondig. Dit laat mens dink aan Jesus se gelykenis van die Fariseër wat op die straathoek staan en bid het sodat almal kon sien hoe godsdienstig en vroom hy was!
Amos praat ook vandag met my en jou as gelowiges. Ons word opgeroep om ‘n slaggie baie mooi te gaan kyk na die manier waarop ons godsdiens bedryf, en te fokus op die gesindheid waarmee ons dit doen.
Die eerste vraag wat ek myself moet afvra, is of die dinge wat ek doen ter wille van God is, en of ek dit bloot vir myself doen? Ek het al beleef dat wanneer ‘n nuwe leier ouderling gekies moes word, dit vooraf gegaan is deur stemme-werwery en ‘n gekoukus, want hierdie is ‘n posisie wat jou baie groot status gee. Dit gaan beslis nie oor die status nie, maar eerder om ‘n diens te lewer ter ere van God. Maar dan moet ek myself ook die vraag afvra: waarom gaan ek kerk toe? Is dit omdat dit my plig is? Dalk omdat ek bang is dat mense gaan skinder as ek nie daar is nie? Of is dit omdat ek daar wíl wees, want dit is my afspraak met God, wat ek vir niks wil verruil nie? Waarom lees ek die Bybel? Is dit bloot uit pligsbesef of gewoonte? Of is dit omdat ek waarlik die wil van God daarin soek en die wonderlike beloftes daarin opgesluit wil indrink? Amos dwing ‘n mens om biddend te gaan introspeksie doen.
Gebed:
Here, vanoggend moet ek bely dat my motiewe nie altyd so suiwer is nie. Vergewe my asseblief.