Handelinge 5:1-11
Sê iemand eendag toe mos vir my: “Nee, ek gaan nie kerk toe nie, want kerkmense is ‘n skynheilige klomp. Sondag sit hulle daar met hulle vroom gesiggies en mooi praatjies in die kerk, en Maandag is hulle die duiwel se kinders. Nee, met sulke skynheiligheid kan ek my nie vereenselwig nie!”
Met skynheiligheid het baie Christene al baie meer skade berokken aan die kerk as wat blatante ongelowiges ooit kan droom om te doen. Skynheiligheid beteken om voor te gee dat jy ‘n vreeslike heilige lewe lei, maar agteraf knyp jy die kat in die donker. Sondagoggend is jy die voortreflike, vroom Ouderling of dienende Sannie wat ‘n voorbeeld van selfbeheersing en goeie maniere is, maar deur die week skel en vloek jy op jou werknemers daar in jou werksituasie waar die kerkmense jou nie sien nie. Dan is jy ‘n totaal ander mens! Nee, dit is nie ‘n ongewone situasie nie, dit is ‘n baie algemene ding!
Lukas vertel die rillerverhaal van Ananias en sy vrou Saffira. Net gister het ons gelees van die hegte band wat daar ontstaan het in die Jerusalemgemeente, en hoe die mense vir mekaar omgegee het. Dit was werklik die voorbeeld van mededeelsaamheid, en niemand in die gemeente het gebrek gely nie, want daar was altyd iemand wat vir jou sou sorg. Maar alles was nie heeltemal pluis nie, sommige mense het voorgegee dat hulle vreeslik vrygewig was, maar agteraf het hulle gekonkel. Waarom sou hulle dit doen? Moontlik om hulleself voor te doen as baie meer heilig as wat hulle werklik is. Ananias het eiendom besit, en toe hy sien watter aansien ander gelowiges verdien wat hulle eiendom verkoop om geld te genereer vir behoeftiges, besluit hy en sy wederhelf dat dit nét die ding is wat hulle in die lewe nodig het. As hulle nou hierdie ou stukkie grond verkoop en hulle gee die geld vir die kerk, dan sal hulle mos in die voorste gestoeltes wees. In sy gedagtes sien Ananias al hoedat hy as kerkleier verkies word. Hy is immers die man wat sy swaarverdiende grondjie vir liefdadigheid opgeoffer het. Saffira begin al droom van die aansien wat sy skielik onder die vroue sal hê.
Die eiendom word verkoop, en Ananias kom by die huis aan met ‘n sak vol geld en opgewondenheid wat oorborrel. Hulle maak die sak leeg op die tafel. “Sjoe! Ek het nog nooit so baie geld bymekaar gesien nie!” hyg Saffira. “Ons kan tog nie so ‘n klomp geld vir die kerk gee nie!”
“Nou wat dan?” wil Ananias weet, “Dis mos waarvoor ons die grond verkoop het!”
“Kom ons hou party vir onsself,” koer Saffira, “niemand sal tog weet nie. Almal sal dink dat ons die volle bedrag gegee het. Dis mos nie steel nie, dis ons eie geld?”
En so val Ananias in die pad met ‘n jubeling in sy hart, ‘n stewige bedraggie in sy beursie en ‘n halwe sak geld vir die kerk. “Ek het my swaarverdiende grondjie verkoop,” vertel hy vir Petrus. “Hier is die opbrengs van die transaksie, gebruik dit maar waar dit nodig is.”
Petrus lees die man soos ‘n boek, en in sy hart weet hy onmiddellik dat Ananias lieg. Hoe kan ‘n waardevolle stukkie grond soos die een van Ananias dan so min geld oplewer? “Is dit ál wat jy vir jou grond gekry het?” vra hy.
“Ja, my broer, dit is alles, tot die lááste sent. Alles wat ek gekry het gee ek vanoggend vir die saak van die Here!”
“Ananias,” vra Petrus met ‘n swaar hart, “waarom het jy jou deur die Satan laat omhaal om vir die Heilige Gees te lieg?”
Die res van die verhaal is bitter tragies, want daar voor almal slaan die arme Ananias morsdood neer. Dieselfde lot tref Saffira slegs drie ure later.
Moenie met God mors nie!
Ek skryf hierdie dagstukkie met siddering in my hart, want ek sien Ananias en Saffira so dikwels in my eie lewe. Ja, ek is maar sélf dikwels skynheilig - doen my soms voor as baie heiliger as wat ek werklik is. Vir wie flous ek nou eintlik? Die gemeente by wie ek so ‘n groot aansien het? Almal wat die dagstukkies lees en dink dat ek so ‘n heilige, geleerde teoloog is? (Terloops, ek is nie eers ‘n predikant nie, maar net ‘n doodgewone lidmaat!) Nee, deur te wil voorgee dat ek is wat ek nie is nie, probeer ek eintlik vir God lieg. Maar dit is totaal onmoontlik! God ken my deur en deur! Hy weet van elke klein sonde in my lewe. Hy vra net van my om dit met Hom te kom deel en vir Hom te sê dat ek jammer is daaroor. Hy wil hê dat ek eerlik moet wees met Hom.
Om saam te vat: wees altyd eerlik met almal met wie jy in aanraking kom. Maar dit is ook baie belangrik om eerlik te wees met jouself. Die héél belangrikste van alles is egter dat ons eerlik sal wees met God!
Gebed:
Here, so dikwels probeer ek dinge vir U wegsteek - probeer ek my voordoen as iemand wat ek nie is nie. O Here, vergewe my!