Hebreërs 10:1-18
Op ‘n streep stap die groep toeriste agter die gids aan in die grot - stalagmiete en stalaktiete gevorm deur duisende jare se waterwerking doem oral op in die mees bizarre vorms. Blink watertjies wat uit die dak sypel, maak van alles om ons ‘n sprokiesparadys. Dan stop die gids en almal bondel om hom saam. Die ligte word afgeskakel en skielik is dit angswekkend, voelbaar donker. Hy skakel ‘n enkele lig aan agter een van die formasies: die skaduwee van ’n afskuwelike draak verskyn teen die oorkantste rotswand. Hy skakel die lig af en ‘n ander lig neem sy plek: nou verander die skaduwee in ‘n wulpse Marilyn Monroe. Die gids speel met die ligte om elke keer ‘n totaal ander beeld te vorm van dieselfde rotsformasie, gevolg deur “Oeee’s” en “Ahhh’s” van ‘n waarderende gehoor. Na ‘n fantasievlug van skadubeelde skakel die gids weer die hoofligte aan. Ek bekyk die stalagmiet wat vir hierdie wonderlike vertoning verantwoordelik was, maar al wat ek sien is ‘n ruwe klip.
In 1 Korintiërs 13:12 praat Paulus ook van raaisels en skadu’s: hy sê dat ons nou net ‘n raaiselagtige beeld in ‘n dowwe spieël sien, maar dat ons alles eendag sal sien soos dit werklik is. Ja, ons sien vandag baie dinge slegs as skadu’s, en dan is dit baie ver verwyder van die werklikheid. Sou dit nie wonderlik wees as ons alles kon sien soos dit werklik is nie? Sou dit nie verruklik wees as ons skielik al die kwelvrae en onduidelikhede klokhelder kon verstaan nie? Sou dit nie fantasties wees om skielik helderheid te hê oor die dinge waaroor ons as gelowiges al soveel eeue stry nie? Ag, dis maar net ‘n versugting, maar eendag sal ons alles wél weet!
Die wet van Moses was een van daardie skadubeelde, wat oorspronklik ‘n baie edel bedoeling gehad het, naamlik om heen te wys na Jesus en die groot verlossing wat sou kom. Ongelukkig is hierdie wet gekaap deur godsdiensleiers wat die lig só daarop laat skyn het, dat die eens mooi skaduwee verander het in ‘n drogbeeld. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is wat die Fariseërs van die wet gemaak het. Dieselfde wet wat moes dien as ‘n riglyn oor hoe om God te dien en vir jou medemens lief te wees, het hulle gesmee in wreedaardige kettings wat mense bind en lewens verwoes. Rondom die heerlike, bevrydende Sabbatswet het hulle ‘n magdom wette opgetower om te keer dat iemand nie per ongeluk die wet oortree nie. Sodoende is mense aan bande gelê en is die helder vlam van geloof uitgedoof tot ‘n smeulende, rokende lamppit.
Deur die eeue het die sonde keer op keer die Evangelie probeer kaap. Die wreedaardige kruistogte van die middeleeue, waar duisende mense doodgemaak is in die naam van die Evangelie, is ‘n liederlike klad op die naam van Christene. Op die slagveld van die kerkgeskiedenis lê daar talle liggame besaai - mense wat dikwels totaal onskuldig gesneuwel het - alles in die naam van die Evangelie. Hoe verskriklik is dit nie dat juis dít wat bedoel was om mense te red, hulle ondergang beteken het. Vandag vlam die humeure steeds baie hoog op, juis oor presies dieselfde onderwerp. Die Evangelie is die middelpunt van ‘n verwoede geveg binne die kerk, waar sommige geleerdes die opstanding van Jesus, en alles wat daarmee gepaard gaan bevraagteken!
Alles gaan oor sonde. Die Hebreër-skrywer sluit in hierdie perikoop sy argument af oor offers uit die ou bedeling en Jesus se offer. Dit is nie diereoffers of graanoffers, brandoffers of sondeoffers waarin God belangstel nie. Ons sou vandag dalk kon byvoeg dat dit ook nie die formele aspekte van ons doop, Nagmaal, sang, erediens of kerklike etos is wat God behaag nie. God stel belang in gehoorsaamheid. In Heb 10:9 sê Jesus dat Hy gekom het om die wil van God te doen. Daarmee word ook geïmpliseer dat ek en jy die wil van God moet doen in navolging van Jesus. Dit is die “offer” wat ons vir Hom moet bring. Ons as gelowiges is immers afgesonder vir God deurdat Jesus die finale offer gebring het.
Ou testamentiese offers is oor en oor gebring, en dit het nooit die sondes volkome weggeneem nie. As ek en jy vandag oor en oor moes boetedoening doen vir ons sondes om sodoende ‘n moderne offer te bring, sal dit steeds nie genoeg wees nie, want terwyl ons nog “offer”, is ons klaar weer besig met die volgende sonde. Jesus se enkele offer het vir eens en altyd ons sondes weggevee.
Omdat ons dus nou vrygespreek is, is ons nie meer gebonde aan wettiese reëls nie. Beteken dit dat ons nou totaal wetteloos is? Beslis nie! In plaas van rigiede reëls wat nagekom moet word, raak die wet nou ‘n hartsaak. Nou is dit nie meer: “Ek mag nie doodslaan nie”, maar “Ek het my naaste lief”.
Vryspraak beteken ook dat al die liederlike goed uit my verlede totaal vergete is, en dat ek met ‘n splinternuwe, silwerskoon bladsy in my lewe begin. “Aan hulle sondes en oortredings sal ek nooit meer dink nie”, sê die Here in Heb. 10:17. Wat ‘n wonderlike gedagte - ál die skadu's van die verlede is weg!
Gebed:
Here, ek kan U nie genoeg loof en dank en prys vir die vryspraak wat ek so onverdiend gekry het nie!