Lukas 6:20-26
Daar sak ‘n doodse stilte neer oor die skare wanneer Jesus sy beroemde bergpreek begin. Die dinge wat Hy sê is so anders as wat hulle enige van die ander Skrifgeleerdes al hoor preek het. Oopmond hang hulle aan Jesus se lippe om elke woordjie in te drink. Die eerste gedeelte van sy preek is ‘n parallelisme, waar Hy vier versies seën uitspreek en dan drie versies ellendes voorspel oor die teenoorgestelde toestand.
Jesus praat eers met die armes. Die meeste van Sy hoorders val in hierdie klas. Petrus en sy maters het byvoorbeeld vrywillig ál hulle karige aardse besittings nét so gelos om vir Jesus te volg. Hierdie manne het eers waarlik hulle volle afhanklikheid van God begin besef, die dag toe hulle hierdie stap neem. Skielik was daar nie meer die inkomste wat hulle uit hulle vissersbedryf gekry het nie, en hulle moet ander mense in die oë kyk vir kos. Armoede en swaarkry is dikwels nodig in jou lewe om jou totale afhanklikheid van God te besef. Die teenoorgestelde is dikwels ook waar, dat rykdom gevaarlik kan wees, in dié sin dat jy vergeet van jou afhanklikheid van God. ‘n Ryk persoon moet baie harder werk aan sy geestelike lewe as ‘n arme, want dit is soveel makliker om selfversekerd en egosentries te wees. Ons moet hierdie uitspraak van Jesus oor die Koninkryk van God in die wydste sin verstaan: Die redding van God neem ook armoede weg. Dit beteken dat Hy ten volle moet heers oor alle aspekte en omstandighede in jou lewe. Hy moet nie alleen in beheer wees van jou geestelike lewe nie, maar ook jou besittings.
Die volgende parallel raak so baie van ons: Jesus herinner ons daaraan dat wanneer ons honger is, of hartseer, dat ons steeds nooit, óóit deur God vergeet word nie. In die wêreld van Jesus is die sosiale strukture oorheers deur diegene met baie besittings. Niemand het iets verniet gekry nie, en dikwels het mense honger gely. Vandag is dit steeds so, en honger mense is steeds baie pertinent met ons. Ek het al sélf honger geken in my lewe, maar ek het in daardie tyd die liefde van Jesus so geweldig intens ervaar.
En wanneer droefheid dreig om jou te verswelg, moet jy weet dat Hy elke oomblik daar is vir jou. Ek het al so dikwels gesien by die begrafnis van ‘n geliefde, dat die persoon se lewensmaat vir baie jare, kan glimlag en nie uitmekaar geskeur word deur droefheid nie, bloot omdat sy God se wonderlike nabyheid en troos ondervind. Ek gesels eenmaal met 'n bejaarde dame wat net die vorige dag haar lewensmaat verloor het. Met 'n gesig wat straal van blydskap, vertel sy my trots dat hulle 61 jaar getroud was.
Jesus praat ook met diegene wat verstoot is deur die samelewing, dikwels uitgeskel en selfs vermy soos iets wat sleg is. ‘n Baie goeie voorbeeld hiervan sien ons ‘n bietjie later in Jesus se bediening, wanneer Hy sit en gesels met ‘n Samaritaanse vrou. Haar reputasie was haglik, en sy moes wag tot almal by die put weg was voordat sy kon gaan water haal, uit vrees vir die skewe, spottende kyke en verwyte. Ja, sy het in sonde geleef, en dit was dalk haar eie skuld. Maar toe ontmoet sy vir Jesus, en Hy keer alles onderstebo.
Nadat sy van Hom af weg is, het sy die wêreld aan die brand gehad toe sy nie kon ophou om vir dieselfde mense wat haar so vermy het, te vertel van die wonder van Jesus nie. Hierdie verstote vrou was die oorsaak dat talle mense uiteindelik vir Jesus ontmoet het. Jesus kan steeds vandag jou omstandighede so totaal omkeer as jy Hom net wil toelaat om dit te doen.
In hierdie parallel gaan dit egter meer oor iemand wat verstoot word as gevolg van sy verbintenis met Jesus, en ook dáár kan wonderwerke gebeur wanneer jy die dag besef dat dit nie oor jou as persoon gaan nie, maar oor God. Jesus sê hier ‘n baie waar ding: “Wees bly op daardie dag en spring rond van vreugde!” As jy beledigings of ‘n koue skouer begroet met ‘n opregte borrelende vreugde, sal jou teenstanders nie weet wat hulle getref het nie. Daardie vreugde moet egter nie aangeplak wees nie, maar diep uit jou hart kom. Paulus het dit prakties so wonderlik uitgeleef. Toe sy rug stukkend geslaan is en hy en Silas vasgeketting in die tronk hulle wonde sit en lek, het hulle gedoen wat hulle die beste kon doen: om lofliedere tot God te sing. Die resultaat was absoluut verstommend! En later toe hy vir jare in die vuil, stinkende Romeinse gevangenis ingekerker is, was hy steeds ‘n bondel borrelende vreugde.
Jesus is die Een wat al die verskil maak. Iemand wat Jesus nie het nie, sal in die beste omstandighede nooit ware vreugde kan ondervind nie. Vir die gelowige is die wonderlikste vreugde beskikbaar. Dit verg egter ook iets van jou kant af: Jy moet dit jou eie maak! Besef vandag dat Jesus jou die potensiaal gee om daardie borrelende vreugde te ondervind, en leef dit prakties uit. Die verskil in jou lewe sal absoluut verstommend wees!
Gebed:
Dankie Here, dankie vir ‘n wonderlike lewensvreugde wat U my gegee het. Help my aseblief om vir geen oomblik daarvan te vergeet nie.