Saamwerk

1 June, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Saamwerk

Titus 3:8-15

Ons het aan die einde gekom van Paulus se brief aan Titus, maar ook aan my en jou! Die vraag is nou: wat word van ons as gemeente verwag? Wat moet ons prakties doen?

Ál te dikwels is ‘n gemeente se siening soos dié van ‘n perd met oogklappe. Hy het net ‘n baie beperkte ou gangetjie waardeur hy sien. Dit het tyd geword om daardie oogklappe af te haal sodat jy die volle panorama kan kry. Kerk is vir die oorgrote meerderheid van gelowiges om Sondae na die erediens te gaan en vir ‘n uur na die dominee te luister en darem ook ‘n bietjie te sing en bid. Dit is alles goed en wel, maar al wat werklik daar gebeur is dat jy ‘n geestelike ervaring het en slegs geestelik gevoed of verryk word. Selfs Bybelstudies en bidure doen nie veel meer nie. Natúúrlik is hierdie dinge belangrik en baie goed, maar hierdie is slegs dinge om ‘n gelowige tot groter hoogtes aan te spoor.

Kerkwees behels baie meer as net die geestelike ervarings. In vers 8 beklemtoon Paulus die belangrikheid van goeie werke. Hy sê vir Titus dat hy met groot nadruk moet getuig, sodat gelowiges, oftewel die gemeente hulle op goeie werk kan toelê. Wat is goeie werk? Dié dinge wat goed en nuttig is vir mense (Paulus se woorde, nie myne nie!) Die kerk moet met ander woorde in die gemeenskap betrokke en diensbaar wees. ‘n Gemeente wat net met homself gemoeid is, is ‘n kwynende gemeente. Om uit te reik na buite, gee lewe en groei in daardie gemeente. Dit is dus dan nie alleen die gemeenskap na wie hy uitreik wat baat nie, maar die gemeente sélf gaan ook daarby baat.

n Eenvoudige voorbeeld is ‘n projek in ons eie gemeente: ‘n paar mense het besluit om Saterdae pannekoek te bak vir ekstra fondse. Dit was lekker om so saam te werk, en weldra het meer mense daarby aangesluit. Vandag, ‘n paar jaar later, is hier nou ‘n hele paar spanne. Daar word ‘n baie gewilde diens aan die gemeenskap gelewer. Boonop bind dit die betrokkenes saam tot ‘n hegte eenheid, en kom mense tot ‘n besef dat dit heerlik is om saam te kan werk. Die fondse gaan lankal nie meer slegs om die gemeentekas aan te vul nie, maar help met Bybelverspreiding en sending. Deur opbouende betrokkenheid in die gemeenskap maak gemeentes dit duidelik dat die geestelike verhouding met God baie meer behels as slegs kerktoe gaan. Dit het ook ‘n praktiese betekenis vir die lewe van elke dag.

Vervolgens gesels Paulus ‘n bietjie oor die seer kwessie van strydvrae. Om in strydvrae betrokke te raak is iets wat totaal nutteloos is in ‘n gemeente. Al wat dit veroorsaak is ‘n getwis en stryery. Daar is seker niks wat ‘n buitestaander meer afsit as wanneer mense wat beweer dat hulle verhouding met God reg is, onderling met mekaar rusie maak oor dikwels ‘n totaal onbenullige saak nie. So bitter baie kosbare energie, wat elders baie nuttig aangewend sou kon word, word vermors.

Gelowiges moet leer om onduidelikhede oor interpretasies van die Bybel en verskille in standpunte reg te kan hanteer. Die belangrikste is dat jy sal leer onderskei watter sake in die Bybel kernsake is en watter kantlynsake is. Die Bybel is baie duidelik oor alle sake wat direk met mense se redding te doen het. Hierdie sake is vir my nie onderhandelbaar nie, en as iemand daarmee ‘n probleem het sal ek dit baie heftig verdedig.

Daar is egter baie ander sake waaroor die Bybel nie ‘n eenhonderd persent duidelike antwoord gee nie. Kyk, daar is niks mee verkeerd om hierdie onderwerpe te bestudeer en vir jou ‘n opinie daaroor op te bou nie, maar as jy toelaat dat jy oor sulke sake in ‘n heftige debat betrokke raak, dan is jy besig om onnodige energie te verspil. Omdat ek hierdie dagstukkies na mense van alle kerkdenominasies stuur, is ek al dikwels aangevat oor sulke kantlynsake, maar ek verkies om nie daarby betrokke te raak nie.

As jy Romeine 14-15 lees, sal jy sien hoe belangrik dit werklik is om mekaar as gelowiges te aanvaar ten spyte van verskil van menings. As gelowiges is ons immers almal kinders van God, en daarom moet ons mekaar so aanvaar en nie ons opinie op ‘n mede-broer probeer afdwing nie.

Ten slotte kan ek opmerk dat ons dikwels soos uitlanders in ons eie land voel as ons die gruwelikhede rondom ons sien gebeur. Paulus se brief het troos gebring aan Titus en die gelowiges van Kreta wat sulke dinge ervaar het. Ons moet onthou dat ons altyd vriende in die geloof het, maak nie saak waar jy is nie. Duisende mense lees vandag saam met jou hierdie dagstukkie, en word deur God gemotiveer. Nee, ons ken mekaar dalk gladnie, maar ons is een in geloof, en ons jaag dieselfde beginsels na.

Mag die genade wat Paulus die Kretense toewens ook vandag kennelik met jou wees!

Gebed:

Here, ek kan U nooit genoeg bedank vir medegelowiges wat soveel omgee en deel van my lewe is nie, selfs al ken ek hulle nie eers nie.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026