1 Samuel 8
Vir baie jare was Samuel ‘n ware vader vir die volk. As priester het hy vir die volk diens gedoen en het hy hulle verteenwoordig by die Here. As profeet het hy die boodskap van God aan die volk oorgedra. As regter moes hy al hulle regsake hanteer en dan was hy boonop hulle rigter wat op politieke gebied die volk moes lei..
Samuel het egter begin oud raak. Sy twee seuns, Joël en Abia het stadigaan by hom begin oorneem om die leiding te neem. Maar daar was ‘n probleempie: nes Eli se twee seuns het altwee sy seuns ook die pad begin byster raak! Daar was allerhande sprake van korrupsie. Dit was omkoopgeskenke en regspraak wat verdraai is, en die mense het begin moedeloos raak met hierdie twee se streke. Omdat Samuel al ‘n stokou man was, kon hy nie meer by alles uitkom nie.
Waarom gebeur dit so dikwels dat die dominee se kinders so van die spoor afdwaal? Is dit dalk omdat hy só besig gehou word met ander mense se probleme, dat hy nie behoorlik by sy eie gesin kan uitkom nie? In Samuel se geval wil dit dalk wél so lyk, want kyk net hoeveel hooi het hy op sy vurk gehad! Hy was omtrent by elke ding betrokke!
Op ‘n dag besluit die volksleiers dat genoeg genoeg is, en dat hulle tot ‘n aksieplan moes oorgaan. Só stuur hulle ‘n afvaardiging na Rama om die ou profeet te gaan spreek.
Dis half ‘n ongemaklike saak, en hulle begin deur vir die ou profeet te verduidelik dat hy nou baie oud geword het en dat sy twee seuns nie die volk lei soos wat hý dit al die jare gedoen het nie. En nou het hulle net gewonder: al die ander volke wat hulle ken, het konings wat oor hulle regeer. Israel is die enigste wat maar so op hulle eie voortsukkel sonder ‘n koning. “Dis eintlik die hele volk wat die versoek rig dat Israel ook ‘n koning kry om oor ons te regeer,” pleit hulle by die ou man.
Samuel het hierdie ding sien kom! Hy het gehoor hoe fluister dit in die wandelgange, maar hy het dit uit sy gedagtes probeer skuif. Nou het dit amptelik geword. Hy is nie meer goed genoeg vir Israel nie! Na alles wat hy vir hierdie volk gedoen het, wil hulle hom nie meer hê nie! Sy maag trek op ‘n knop en hy kan voel hoe die stres hom wil opvreet!
Met ‘n pikswart gemoed wat soos ‘n omgekrapte donderwolk oor hom hang, stuur Samuel die manne daar weg. “Hulle het my verwerp! Israel, die volk van God het my verwerp! Dit is nie regverdig nie!”
Nadat die manne daar weg is, doen Samuel die enigste ding wat vir hom nog sin maak in die lewe: hy bid! Sy twee seuns het die pad byster geraak; die volk het hom verwerp, nou is dit nog net die Here wat oorbly, met Wie hy kan praat. En dan stort hy sy hart voor die Here uit. “Samuel My kind, wees rustig! Dit is nie vir jóú wat hulle verwerp nie, dit is vir Mý, die Koning van alle konings! Dit gaan al so van die dag toe Ek hulle uit Egipte gered het. Laat hulle gerus maar begaan! Doen wat hulle van jou vra en gee vir hulle hulle koning. Maar verduidelik vir hulle baie mooi wat ‘n koning van hulle gaan eis!”
Nou voel Samuel beter. Hy besef nou dat hierdie hele ding eintlik ‘n opstand teen die Here is, en dat hy maar net die pion is. Dan laat roep hy weer die leiers bymekaar.
“Besef julle wat julle vra?” Hy wys sy krom vinger vir hulle. “Julle dink natuurlik dat dit skielik maanskyn en rose sal wees? Maar ek sê vandag vir julle dat ‘n koning sy pond vleis van julle gaan eis! Julle gaan sy slawe wees en julle gaan dúúr belastings betaal! Is dit wat julle wil hê? Moenie sê ek het julle nie gewaarsku nie! En moenie dan by die Here gaan kerm nie, want Hy sal julle nie eers antwoord nie!”
“Toemaar, ons wéét wat ons doen!”
Hierdie volk het ‘n ding in hulle koppe gekry, en soos ‘n steeks donkie beur hulle skoon dwars in hulle eie rigting in. “Ons wil óók soos die ander volke wees! Ons koning moet oor ons regeer en ons wil hê dat hy ons lei om oorlog te gaan voer teen die ander nasies!”
Samuel het homself verskoon en in die stilte van sy kamer in gesprek getree met die Here, soos hy al sovéél keer in sy lewe gedoen het.
“Samuel, gee vir hulle hulle koning!” kom die Here se duidelike antwoord ‘n tweede keer aan die ou man.
Wanneer Samuel weer die vertrek binnestap, kyk almal hom met groot afwagting aan. “Toe, gaan julle nou maar huistoe. Die Here sal vir julle ‘n koning gee!”
Skielik sak daar ‘n groot rustigheid oor Samuel toe. Hy het gedoen wat hy moes doen, verder los hy dit nou maar in die bekwame hande van die Here. Hy sal wél voorsien op die regte tyd en op die regte manier.
O, hoe blitsig tref kommer ons nie dikwels nie! “Wat gaan ek maak?” het ek myself al só dikwels bekommerd afgevra. En dan bid ek. En wanneer die antwoord kom, moet ek net weereens besef dat ek my puur verniet bekommer het!
Samuel het óók verniet so gestres! Die oomblik toe hy dit in die bekwame hande van die Here laat, kom die antwoord. Waarom gaan ons nie in die eerste plek na die Here toe nie, voordat ons stres oor ‘n saak. Kom ons plaas vandag ons volle vertroue in Hom. Hy weet die beste!
Gebed:
Here, Ek wil vandag my volle vertroue slegs in U plaas. U is die enigste wat ‘n antwoord het!