Rut 2:1-4
Naomi en haar skoondogter Rut het die langpad aangedurf terug na Judea. Wanneer hulle nog ver aankom, wys een van die vrouens in haar rigting: “Is dit nie Naomi wat daar aangestap kom nie?”
“Dis onmiskenbaar sy! Naomi is terug! Naomi is terug!”
“Maar wie is die vreemde meisie daar saam met haar? En waar is Elimelek dan?”
Die blydskap is baie groot om hulle vriendin en familielid weer na soveel jare in die vreemde by hulle te hê. Dit lag en huil, dit soen, omhels en babbel deurmekaar. En vir eers word Rut totaal geïgnoreer. Dan vra iemand die vraag: “En wie is dit hierdie saam met jou? Stel jy ons nie voor nie?”
“Dis Rut, my skoondogter. Sy is ‘n Moabitiese meisie.”
‘n Ongemaklike stilte sak toe oor die groepie vroue. Niemand weet mooi hoe om hierdie situasie te hanteer nie. Sy is dan ‘n Moabiet! Die vyand!
Naomi besef baie deeglik dat daar vir haar en Rut nog ‘n baie moeilike pad voorlê. “Moenie my meer Naomi noem nie. Noem my liewer Mara – Bitterheid,” sê sy vir haar vriendinne.
Later, wanneer hulle in hulle huisie ingetrek het, vertel Naomi vir Rut van die wet van Moses, dat ‘n weduwee koring of gars are mag optel waar die manne dit laat val het tydens die oes. Vroeg een oggend is Rut dus weg, met ‘n huppel in haar stappie en ‘n lied in die hart, hoopvol na Betlehem se landerye. Daar tref sy die werkers aan, besig met hulle sekels om die geil gerwe graan af te sny. Sy merk dat die manne nie buk om die verlore graan op te tel nie, dit word net so laat lê.
Gretig stap sy nader, maar dan tref die antagonisme van die Jode haar. Die manne maak allerhande ongemaklike aanmerkings oor haar, en die vrouens wat agter die snyers aanloop om are op te tel, is haar baie vyandiggesind. “Wat soek jy hier?” wil hulle weet. “Hier is nie plek vir heidene nie!”
Rut wil nog probeer verduidelik dat sy ook nou die God van Israel aanbid, maar hulle wil nie eers luister nie. Dit staan lewensgroot oor haar geskryf: “Hierdie is ‘n Moabiet!” Rut is in trane wanneer sy laatmiddag by Naomi aankom, sonder ‘n enkele graankorreltjie om te wys vir haar dag se werk.
Hoe lyk ons gasvryheid? “Maar natúúrlik is ek gasvry!” Ons gasvryheid strek egter gewoonlik so ver as ons familie en vriende, of dalk selfs ‘n vreemdeling, solank hy darem nie te veel van my verskil nie. As iemand egter anders as ek is, dan raak ek baie kriewelrig!
Jesus het niemand verwerp nie, nie eers die gehate Samaritane en tollenaars nie. Hy verwag dieselfde van jou en my. Ware gasvryheid is een van die moeilikste maniere om ware liefde uit te leef!
Naomi probeer Rut moed inpraat en sê vir haar dat sy die volgende dag na haar familielid, Boas se koringland moet gaan. Wanneer Rut die volgende oggend by Boas se graanlande aankom, klop haar hart in haar keel. Sy weet nie mooi wat om te verwag nie. Haar verstand sê vir haar om nou hier om te draai en weg te hardloop solank daar nog tyd is. Maar haar hart sê: “Byt vas!” Sy stap bewerig nader.
Eenkant staan ‘n man wat lyk asof hy in beheer is van die werkers. Haar knieë voel lam as sy na hom toe stap: “Meneer, mag ek maar are optel?”
Die man glimlag vriendelik vir haar: “Natuurlik! Kies maar vir jou ‘n plekkie waar daar nog nie ander weduwees besig is om op te tel nie.”
Huiwerig kies Rut koers na ‘n oop kol waar niemand are optel nie. Sy sorg dat sy ver wegbly van die ander vroue af, en dat haar kopdoek laag oor haar oë hang, net vir ingeval iemand haar dalk kan herken. Sy is verbaas hoe roekeloos die snyers are laat val het. Daar is oorgenoeg vir haar om bymekaar te maak.
Laat daardie middag, nadat die snyers hulle sekels vir die dag opgepak het, hardloop ‘n moeë Rut so vinnig as wat haar bene haar kan dra terug na haar skoonma. In ‘n sakkie het sy genoeg graan om ten minste vir ‘n week vir die twee van hulle van brood te voorsien. Sy hoor nie eers die snedige aanmerking wanneer sy by ander vroue verby hardloop nie. Sy is borrelend gelukkig, want uiteindelik is sy ook deur iemand aanvaar as ‘n mens. Sy kan nie help om te wonder waarom die mense wat vir Boas werk dan so anders is as die ander Israeliete nie. Hulle lyk sommer gelukkig in hulle werk, en deurentyd hoor jy hoe die manne vrolik liedjies sing terwyl hulle oes. Het dit dalk iets met hulle baas te doen?
As jy ‘n werkgewer is, hoe lyk die gemoedstoestand van die mense wat vir jou werk? Is hulle werklik gelukkig, en geniet hulle dit om vir jou te werk? Is jy die “baas” of is jy een van hulle? Onthou, die liefdesopdrag wat Jesus gegee het eindig nie by my familie en vriende nie. Dit gaan baie verder, ook na my werknemers en selfs vreemdelinge.
Liefde en nederigheid gaan boonop hand-aan-hand. Om nederig te wees, beteken onder meer dat ek myself nie eers sal verhef bo my werknemers nie. Onthou, Jesus het selfs Sy dissipels se vuil voete gewas!
Gebed:
Here, help my om U liefde uit te straal, ook in my werkplek, sodat almal wat saam met my werk U liefde sal ondervind.