Rut is Opgewonde!

7 November, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Rut is Opgewonde!

Rut 2:17-19

Die stowwerige paadjie terug na Betlehem is daardie middag vir Rut gans te lank. Sy kan nie wág om by die huis te kom om vir Naomi alles te vertel nie! Vanmiddag het sy haar hande behóórlik vol, dis die geurige gebraaide rys wat oorgebly het, ‘n fles wynsous, en op haar skouers balanseer sy die swaar sak graan wat sy die dag opgetel het.

Rut voel skaars die swaar sak op haar skouers as sy die laaste ent na Betlehem hardloop. Vir die mense wat haar aanstaar, lag sy en groet hulle met ‘n vrolike “Shalom!” Die vroue skud die kop meewarig as hulle haar agterna staar. “Wat het sy tog om oor te lag en vrolik te wees? Arme ding!”

By die huis is Naomi besig om aandete voor te berei. Sy bak ‘n garsbroodjie van die graan wat Rut die vorige dag daar aangebring het. Sy sien vir Rut daar onder in die stofstraatjie aangehuppel kom, en van ver af sien sy sommer dat daar iets groot gebeur het in haar liewe skoondogter se lewe. Dit huppel en dans en lag wanneer sy die nou straatjie afkom. Naomi glimlag betekenisvol - hier kom ‘n ding!

Mamma, bêre maar die broodjie vir môre - ek het vir ons aandete saamgebring: heerlike gebraaide koring en ‘n lekker wynsousie daarby!”

Naomi probeer haar ongeërg hou, sy maak asof sy gladnie Rut se opgewondenheid opmerk nie. Baie sedig vra sy: “En waar het jy vandag graan opgetel? Het dit darem beter gegaan vandag?” Sy maak asof sy nie dwarsdeur alles kan sien nie, maar sy bars van opgewondenheid want die vrolike Rut van ouds is weer terug. Naomi brand van nuuskierigheid, maar sy hou haar in, want sy wil dit uit Rut se eie mond hoor.

Ek was by Boas se landerye,” straal Rut, en Naomi kan sommer sien dat hier iets baie groter agter haar antwoord skuil. Dan borrel Rut in ‘n stortvloed van woorde, en sy vertel van hierdie wonderlike man wat haar selfs uitgenooi het om saam met hom middagete te kom nuttig, en hy het vir haar kos saamgegee om huistoe te neem, en watter wonderlike baas is hy vir sy werksmense, en hy werk net so hard as hulle, en hy is so gaaf en hy............ Naomi se ore tuit behóórlik as Rut voortbabbel sonder om asem te skep. Maar intussen wil sy bars van opgewondenheid en blydskap.

Vertel my asseblief meer van Boas,” por Rut haar skoonma, “hy het gesê dat ek saam met sy werkers moet bly totdat die oes klaar afgehaal is. Ek verstaan gladnie, hy is nie soos die ander grondeienaars nie. Hy wéét tog dat ek ‘n Moabiet is, maar dit lyk asof dit hom gladnie pla nie. Wat is dit wat hom anders maak? Waarom is hy so goed vir my?”

Naomi se kop draai, Rut vra twintig vrae gelyk, en sy kan mos net een op ‘n slag antwoord! “Rut, jy moet verstaan dat die familiebande in Israel ‘n baie ingewikkelde ding is, en dat dit ‘n geweldige belangrike deel van ons hele menswees is. Familie staan deur dik en dun bymekaar. Die band wat families aanmekaar bind, is ‘n baie sterk band.”

Sy gaan voort om te verduidelik dat familie nie maar slegs ‘n pa en ma en kinders is nie, maar dit sluit al die neefs en niggies en ooms en tantes in om ‘n groot, uitgebreide “gesin” te vorm. En hierdie gesin sorg vir mekaar sodat niemand ooit gebrek lei nie. Maar dit gaan ook verder, want die verskillende stamme van Israel is afstammelinge van die twaalf seuns van Jakob. So is Juda byvoorbeeld ook eintlik een reuse gesin, dus staan hulle ook almal bymekaar.

In teorie moet almal dus na mekaar omsien, en selfs ook weduwees sal versorg wees, want die uitgebreide gesin, oftewel die hele gemeenskap moet help om hulle te versorg. Maar omdat mense maar feilbare mense is, werk dit in die praktyk nie altyd so nie,” verduidelik Naomi. “Daarom moes Moses ander planne in werking stel om te sorg dat weduwees nie in ellende verval nie.”

Sedert Rut se tyd, het alles nog verder agteruit gegaan, en vandag het die familiebande in meeste gevalle totaal verkrummel. Families gee nie meer vir mekaar om nie, en dikwels word ‘n “afvallige” familielid totaal uitgesmyt. Kinders vergeet selfs totaal van hulle ouers. Oumense word nie meer deur kinders versorg nie, en hulle beland in ouetehuise, waar hulle dikwels heeltemal vergeet word en totaal vereensaam. Dikwels moet sulke oumense in haglike omstandighede op ‘n karige pensioentjie probeer oorleef.

Ek en jy wys verniet vinger na sulke kinders! Onthou, omdat ons gelowiges almal kinders van God is, maak dit ons bloedfamilie van mekaar! Daardie eensame ou tannie is dus ook bloedfamilie van my, en dit is my plig om haar ten minste ‘n bietjie liefde en aandag te gee. Vrolik haar dag op deur ‘n paar mense bymekaar te maak en vir die eensames in die ouetehuis te gaan kuier. Vat ‘n kitaar saam, en sing lekker-onthou liedjies saam met hulle. Vat koekies saam en hou lekker partytjie. Kom ons gee weer nuwe hoop vir die oumensies wat al alle hoop verloor het.

Gebed:

Here, ons staan almal skuldig, want ons vergeet gerieflikheidshalwe van die bejaardes. Vergewe ons, en gee ons die ywer om na hulle om te sien.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026