Ruiter op die Wit Perd

3 July, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ruiter op die Wit Perd

Openbaring 19:11-21

‘n Ruiter op ‘n perd het my verbeelding aangegryp toe ek ‘n jong seun was. Ek het die wonderlikste verhale gelees van helde wat tydens die Anglo-Boereoorlog, onverskrokke op hulle perde teen die magtige Britse Ryk opgetrek het. Vandag word die heldemoed van manne soos De la Rey, onlosmaaklik van sy troue perd, steeds triomfantlik besing, en dan sweep dit reuse skares mense op om patrioties saam te staan en op te staan. As die Kakies nie vuil gespeel het, en begin oorlog maak het teen die vrouens en kinders nie, sou die uitslag van die oorlog moontlik héél anders gewees het!

Ja, die ruiter-held op sy perd is natuurlik baie ge-romantiseer, en talle fiktiewe karakters het die lig gesien in mense se verbeelding, soos byvoorbeeld die Ruiter in die Nag en al sy tydgenote, almal figure wat ons kinders oopmond met verwondering gelaat het. ‘n Triomfantlike ruiter op ‘n trotse perd, verkieslik ‘n spierwitte, is ‘n gesig wat groot gesag afdwing.

Dit is dus géén wonder dat hierdie beeld ook deel van Johannes se visioen uitmaak nie. Met hierdie triomfantlike beeld van die Ruiter op die wit perd word die laaste reeks visioene ingelei. Die laaste keer dat ons Jesus sien ry het op die rug van ‘n rydier, was dit ‘n nederige donkie waarop Hy Jerusalem binnegery het. Dit was op die vooraand van die grootste krisis ooit in die mensegeskiedenis, en Jesus was die hoofrolspeler. Kort na Sy triomfantlike intog was Hy gemartel, verneder, gespot en aan ‘n vloekhout vasgespyker. In hierdie visioen is die prentjie egter totaal anders. Nou is Hy die triomfantlike Ruiter op die spierwit perd wat heers en wat oordeel, ook diegene wat Hom destyds so wreed veroordeel het met hulle bloeddorstige gille: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!”

Wanneer hierdie Ruiter op die wit perd uit die Hemel te voorskyn tree, boesem Hy vrees in, want Sy oë vlam soos vuur, en die baie heerserskrone simboliseer Sy onbeperkte mag, majesteit en heerskappy. Die skerp swaard wat uit sy mond gaan, vul elkeen wat teen Hom te staan kom verder met vrees en bewing. Sy wit klere is reeds met bloed bevlek van die verskriklike oordeel wat voltrek word. Wat dit nog meer vreesaanjaend maak is die reuse leër wat saam met Hom uit die Hemel optrek, almal geklee in skitterwit klere. Hierdie hemelse leër is engele en martelare wat saam met Christus optrek, en ook húlle ry op wit perde. Dit is egter slegs die ongelowiges, die draak en sy meelopers wat nodig het om te vrees. Die gelowiges kan jubel en juig, en na Hom kyk met verwondering, want dit is immers Hy wat ons kom verlos het. Inderdaad is ons reeds beoordeel, en op grond van Sy groot soenverdienste is ons regverdig verklaar.

By die son sien Johannes ‘n engel staan. Dáár kan almal hom sien. Hy nooi al die roofvoëls uit om te kom deel in die feesmaal om die vleis van die goddeloses te eet. Hierdie gruwelike maaltyd staan in skrille kontras met die bruilofsmaal van die Lam. As jy al ooit gesien het hoe aasvoëls ‘n karkas verslind, dan sal jy verstaan hoe afgryslik die gesig moet wees van roofvoëls wat die lyke van die bose konings en heersers en al hulle meelopers uitmekaar skeur en verslind. Hierdie oproep kom op die vooraand van die groot slag, die grootste veldslag van almal, wat sal plaasvind. Die konings en heersers is alreeds besig om hulle leërs te mobiliseer vir hierdie moeder van alle oorloë!

Dan word die dier, oftewel die Antichris, asook die vals profeet gevange geneem. Hulle word lewend in die vuurpoel gegooi wat met swael brand. Dink maar hoe dit sou lyk as jy in ‘n aktiewe vulkaan inkyk! Hierdie is die plek van ewige straf, oftewel die Hel. Die res van die goddeloses word deur die oordeel van God wat uit die ruiter se mond uitgaan doodgemaak, en die roofvoëls vier lustig fees, totdat hulle dik gevreet is. Met hierdie beeld word die volledige oordeelsvoltrekking van God oor die goddeloses uitgebeeld.

Dit is gru-beelde wat vir ons geskets word, en as ons hierdie perikoop op sy eie lees, kan ons só maklik die prentjie kry van ‘n God van wraak en wreedheid. As ons dit egter lees teen die agtergrond van die res van Openbaring, sien ons ‘n gans ander prentjie – die beeld van ‘n genadige God wat oor en oor en oor kans gee, soebat en smeek dat mense hulle tot Hom bekeer. Hierdie finale en gruwelike oordeel is slegs oor diegene wat volstrek geweier het om gehoor te gee aan God se dringende pleidooie.

In ons volgende oordenking sien ons DV ook hoedat die duiwel finaal die onderspit delf, en dan volg die groot dag waarop alle gelowiges al so lank gewag het - die nuwe Jerusalem!

Maar nou loop ek die verhaal mos vooruit!

Gebed:

Dit is met groot ontsag dat ons vanoggend U almag en heerskappy aanskou, Here, en ons aanbid U want U is genadig. U oordele is reg en regverdig.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026