Paulus Voor die Hof Gesleep

1 June, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Paulus Voor die Hof Gesleep

Galasiërs 6:11-18; Handelinge 18:12-18

VIDEO | SPOTIFY

Paulus se sekretaris het dalk gedink dat hierdie sommer 'n gewone ou briefie sou wees wat binne 'n uur of twee klaar geskryf sou wees, maar hy het hom deeglik misgis met Paulus! Dag-vir-dag moet hy sit en skryf totdat sy hand naderhand lam word. En daar is net géén einde aan Paulus nie. Hy stoomroller voort tot donker elke aand, en dan gaan preek hy eers vir die gelowiges.

Na 'n volle week se harde werk, besluit Paulus dat hy nou sy hart uitgepraat het. “Gee vir my,” vra hy die sekretaris, en beduie na die perkament. “Ek wil baie graag persoonlik die slot skryf.”

Paulus sukkel om te fokus as hy die gansveer neem: “Kyk met watter groot letters skryf ek nou vir julle in my eie handskrif!” begin hy pynlik stadig skryf. Nou begin hy eers werklik besef van watter onskatbare waarde hierdie sekretaris vir hom was. Vir een laaste keer plaas hy die stempel op sy dringende betoog dat die mense wat daarop aandring dat die gelowiges besny moet word, dit slegs doen om 'n indruk te maak, en nie ter wille van Jesus nie. Die besnydenis kan géén verskil aan jou geloof maak nie!

Dan sluit hy die brief af: “Die genade van ons Here Jesus Christus bly met julle gees, broers! Amen.”

Paulus gee 'n groot sug van verligting dat die lywige brief uiteindelik klaar is. Nou moet dit verseël word, en dan moet hy iemand kry wat bereid sal wees om die lang reis aan te pak om die brief te gaan aflewer in Antiogië. En wanneer die gemeente dit daar klaar gelees en behoorlik deurgewerk het, dan moet dit na die volgende gemeente geneem word, totdat almal dit uiteindelik onder oë gehad het. Elke gemeente moet maar sélf iemand kry om dit vir hulle oor te skryf, sodat daar 'n afskrif daarvan in elke gemeente sal wees. Sodoende kan hulle gedurig herkou aan die waarhede daarin opgeteken.

Daar val 'n swaar las van Paulus se skouers af. Nou kan hy sy volle aandag aan die gemeente in Korinte gee.

Maar hier in Korinte is dinge óók nie baie lekker nie. Dit is die jaar 51nC, en Keiser Claudius het so pas vir Gallio aangestel as goewerneur in Korinte. Die beswaarde Jode besluit dat hierdie nou hulle kans is om Paulus by te kom. Met die vorige goewerneur kon hulle nie juis hond haaraf maak nie. Hulle span saam, en dan reël hulle 'n opstand, en hulle sleep vir Paulus voor die hof. “Hierdie man probeer die mense beïnvloed om God te dien op 'n manier wat in stryd is met ons Joodse wette!” kla hulle teenoor die goewerneur.

Paulus is dadelik gereed om homself te verdedig, want hierdie aanklag is onregverdig. Maar hy word nie die kans gegun nie, want voordat hy nog kan praat snou Gallio die Jode toe: “Julle mors my tyd! As dit gegaan het oor 'n onreg of 'n misdaad, dan was dit my plig om na julle te luister. Maar hierdie is net 'n geredekawel oor woorde en name en julle eie wette. Julle moet hieroor maar sélf beslis! Oor sulke dinge wil ek nie regter wees nie!” En daarmee jaag hy die hele spul uit sy hof uit!

Die Jode is woedend! Iemand moet die skuld kry vir die gemors, en die ongelukkige Sostenes, die hoof van die sinagoge is die een wat dit moet ontgeld. Nét daar, reg voor die regbank van Goewerneur Gallio rand hulle die arme man aan. As dit nie so tragies was nie, was dit eintlik 'n komieklike situasie!

Nou ontstaan daar skielik 'n totaal nuwe situasie, want vir die eerste keer sedert Paulus sy bediening begin het, is die Jode wat hom ál die jare soveel gas gegee het, se monde gesnoer. Hulle durf nie boe of ba sê nie, want dan is hulle in die sop by die goewerneur. En só gebruik die Here hierdie man, wat eintlik 'n ongelowige heiden is om vir Paulus en sy medewerkers die vryheid te gee om die Evangelie ongestoord te kan verkondig.

Die gevolg van dit alles is dat Paulus-hulle vir 'n volle agtien maande rustig in Korinte kan werk sonder enige vrees van vervolging.

Is dit nie wonderlik nie?! Die Here kan in Sy almag enige situasie en enige persoon gebruik om Sy wil tot uitvoer te bring, en dit kan selfs 'n ongelowige, of 'n ateïs wees!

Elke goeie ding kom egter die een of ander tyd tot 'n einde. Op 'n dag begin Paulus besef dat sy werk hier in Korinte nou omtrent afgehandel is. Hy deel sy gevoelens met sy twee goeie vriende, Akwila en Priscilla: "Die tyd het aangebreek dat ek weer 'n slag 'n draai moet gaan maak in Antiogië in Sirië."

Akwila en Priscilla het vir geruime tyd al daaroor gepraat om na Efese te verhuis. Omdat Paulus juis by Efese moet aangaan op sy reis na Antiogië, besluit die twee dat dit nou die ideale geleentheid is, en dat hulle dan sommer saam met Paulus tot in Efese sal gaan. Paulus is ingenome met die gedagte, en dadelik begin hulle die nodige reëlings tref.

Die afskeid in Korinte is baie groot. Paulus het diep in die harte gekruip van hierdie gemeente in die jaar-en-'n-half wat hy daar gewerk het. Hy en sy reisgenote vertrek na die hawestad Kenchree waar hulle aan boord van 'n skip sal gaan.

Gebed:

Here, dankie dat U wil geskied ten spyte van mense se teenstand. En dankie dat ek kan besef dat U enige situasie of persoon – selfs ongelowiges kan gebruik tot uitbreiding van U Koninkryk!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026