Efesiërs 1-6
Daar is 'n klop aan Paulus se deur. “Waarom kom die man dan nie in nie?” wonder hy, “die deur staan mos altyd oop, en al die gelowiges in Rome weet mos dat hulle maar net kan instap.”
Half vererg stap Paulus deur toe. Met die lig van agter herken Paulus nie dadelik die gesig nie. Maar dan, wanneer die man hom hartlik om die nek val en groet, sien Paulus eers wie dit is: “Tigikus!” roep hy uit, oorstelp van vreugde, “Tigikus van Efese! O, ek is só bly om jou te sien!”
Toe Tigikus die dag die nuus kry dat die gemeente in Efese hóm gekies het om namens hulle vir Paulus te gaan kuier in die gevangenis in Rome, was hy buite homself van blydskap. Hoe het hy nie verlang na sy geliefde prediker nie! Sommer die volgende dag was hy reeds klaar gepak en gereed om die lang, uitmergelende seereis aan te pak.
Vir die volgende maand kuier Paulus en Tigikus heerlik saam. Paulus wil elke dingetjie weet van wat daar in Efese aan die gang is. Is die gemeente lewendig? Groei hulle, nie net in getalle nie, maar ook geestelik? Hy vertel vir Tigikus dat hierdie gemeente baie diep in sy hart gekruip het, en dat hy gedurig aan hulle dink en vir hulle bid. En hy kan dit nie genoeg benadruk nie, hoe hy die wonderlike werk wat Tigikus in daardie gemeente doen waardeer! Tigikus is 'n ware voorslag!
“Tigikus, ek wil 'n brief skryf vir die gemeente in Efese om hulle te bemoedig. Sal jy omgee om dit saam met jou te neem wanneer jy teruggaan, en dit dan vir die mense voor te lees? Maar ek wil ook vra dat jy die brief vir al die ander gemeentes in Klein-Asië aanstuur sodat almal daar dit kan lees. Dit sal selfs beter wees as jy dit persoonlik van gemeente na gemeente kan neem, en dit by elke gemeente vir hulle kan voorlees!”
En só skryf Paulus, natuurlik met behulp van een van die talle gewillige sekretarisse, nóg 'n brief, terwyl Tigikus met groot belangstelling sit en luister wanneer Paulus op en af loop en dikteer.
“Paulus, 'n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, aan die heiliges wat in Efese is, die gelowiges in Christus Jesus: Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus. Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus!”
Die berigte het Paulus se ore al uit verskeie oorde bereik, dat daar 'n wonderlike geloofsgroei in daardie gemeente gebeur het, en dat hulle elke dag hulle liefde op 'n praktiese en konkrete manier uitleef teenoor al die gelowiges. Wanneer hy dus sy gebruiklike lof- en dankbetuiging teenoor God geskryf het, gaan hy voort en skryf vir die Efesiërs dat hulle geloof en liefde nie ongesiens verbygaan nie, en dat hy die Here ewig dankbaar daarvoor is. Hy bid hulle hope wysheid toe, en dat die Here hulle geestesoë sal verhelder sodat hulle altyd die wonderlike hoop sal sien wat God se roeping vir hulle inhou, en dat hulle die rykdom van Sy erfenis sal ondervind.
Hy herinner hulle aan hulle ou lewe, dat hulle dood was in die sonde van die wêreld, en dat hulle verdoem was tot die ewige straf, maar hulle het nuwe lewe gekry toe Jesus in hulle lewens gekom, en hulle uit daardie dood opgewek het. Alles is suiwer genade! Hulle mag nie vergeet waar hulle eers was nie, sonder enige hoop. Hulle moet ook altyd onthou waar Jesus hulle gebring het, sodat hulle een met Christus kan wees!
Paulus skryf dat dit ook van uiterste belang is dat hulle die eenheid van die kerk sal bewaar. Hulle mag nie toelaat dat daar tweespalt ontstaan, en dat die kerk uitmekaar geskeur word nie. As almal maar net beskeie, vriendelik en geduldig is met mekaar, en mekaar in liefde verdra, ten spyte van hulle verskille, dan sál die kerk mos één liggaam wees, nes daar net één Heilige Gees is!
“En moenie die duiwel vatkans gee nie!” skryf hy. “En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie!” Hy gee riglyne van hoe 'n gelowige behoort te lewe, hoe hy sy liefde moet uitleef. Maar hy skryf ook watter dinge nié in 'n gelowige se lewe hoort nie. Hierdie mense kom almal uit 'n heiden-agtergrond, en hulle weet nie altyd wat reg en wat verkeerd is nie, dus maak Paulus dóódseker dat hulle mooi verstaan wat reg en verkeerd is.
In hoofstuk 6:13 skryf Paulus die bekende woorde: “Neem daarom die volle wapenrusting van God op!” Hulle moet hulle omgord met waarheid, en hulle moet die borsplaat van vryspraak, die skoene van bereidheid, die skild van geloof, die helm van verlossing en die swaard van die Gees dra.
Uiteindelik, na twee volle dae se skryf, sluit Paulus die brief af: “Vrede vir die broers, en liefde en geloof van God die Vader, en van die Here, Jesus Christus. Sy genade bly met almal wat vir ons Here Jesus Christus onverganklik liefhet.”
Die brief word verseël en aan Tigikus oorhandig met sy vertrek terug na Efese. Die trane stroom oor sy wange wanneer hy vir Paulus groet.
Lees gerus weer 'n slag die brief aan die Efesiërs, dit is nie slegs vir die Efesiërs geskryf nie, maar elkeen van ons persoonlik. Hierdie brief is van onskatbare waarde!
Gebed:
Here, help my asseblief om al die ou dinge agter te laat en te lewe volgens U riglyne!