Handelinge 27:17-26
Die storm woed onverpoosd voort, en die matrose probeer desperaat om die skip se boeg in die wind te hou, maar dit is 'n hopelose situasie! Hulle kan al sien hoedat die skip hom te pletter loop op die gevaarlike sandbanke van Sirtus. Dan gooi hulle die dryfanker uit om die skip se bloedstollende vaart 'n bietjie te demp, en hulle laat hulleself maar aan die genade van die storm oor om hulle te waai waarheen die storm hulle dan wil waai.
Die volgende dag breek aan, en dinge lyk géénsins beter nie. Nou is die manne doodbenoud en hulle gaan vra vir die kaptein of hulle nie maar van die vrag kan afgooi om die skip 'n bietjie ligter te maak nie. Dit is 'n noodmaatreël, maar doen hulle dit nie, verloor hulle dalk hulle eie lewens! Die kaptein stem in, en die vrag word oorboord gegooi. Só word Paulus se voorspelling, dat hulle die vrag sou verloor, waar.
Die hele dag lank dobber hulle skip hulpeloos in die onstuimige see, rondgeslinger deur massiewe golwe wat elke oomblik dreig om hulle te verswelg. Om dinge te vererger, is die wolkbedekking so dig dat hulle nie die son kan sien, of snags die sterre nie, gevolglik het hulle nie die vaagste idee waar hulle hulle bevind nie. En so worstel hulle die hele dag en nag deur sonder dat daar 'n sweempie van verligting kom.
Die volgende dag lyk dinge selfs nóg erger, en hulle is genoodsaak om al die skip se oorbodige takelwerk en toerusting óók oorboord te gooi. Dinge lyk báie sleg! Hulle kos het opgeraak en die manne het alle hoop verloor om lewendig hier uit te kom. Maar Paulus kom ewe vrolik op die dek staan, 'n reuse glimlag op sy gesig. Hy het, ten spyte van die storm, 'n baie goeie nag gehad. En die droom wat hy gehad het, laat hom oor die onstabiele dek rondhuppel.
Dan roep Paulus die bedremmelde klomp manne bymekaar. Eers tik hy hulle op hulle seer vingers: “Ek het julle gewaarsku, maar julle wou nie luister toe ek sê dat ons nie van Kreta af moes wegvaar nie! As julle geluister het, was ons nie nou in hierdie gemors nie!”
En die manne dink: “Dit help nie om nóú vir ons te preek nie, maar daar is nou niks wat ons meer kan doen nie. Ons is gedoem tot 'n seegraf!”
Maar Paulus wil nie preek nie, hy wil eintlik bemoedig. Hulle ís nou eenmaal in hierdie situasie, en nou gaan dit niks help as almal negatief is nie. “Kyk, ons omstandighede lyk beroerd, maar ek wil julle mooi vra: Hou moed! Ek sê nou vandag vir julle dat niemand hier sy lewe gaan verloor nie! Ja, die skip sal wél vergaan, maar ons almal sal gered word.”
“Aag man, dis net alles mooi praatjies. Hoe weet jy in elk geval?” dink die manne.
Maar dis asof Paulus hulle gedagtes lees: “Laasnag het 'n engel aan my verskyn,” vertel Paulus. Die mense snak na hulle asems. Paulus gaan voort: “'n Engel van dié God aan wie ek behoort en wat ek dien, het vir my 'n boodskap gebring. Hy het vir my gesê: 'Moenie bang wees nie Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En ter wille van jou gaan God almal wat op die skip saam met jou is se lewens spaar.”
Toe hulle in Mooihawens was het Paulus wél die manne gewaarsku dat hulle dalk hulle lewens sou verloor as hulle vaar, maar nou kan hy op die hoogste gesag vir hulle sê dat dit beslis nie sal gebeur nie.
Die manne gaap Paulus grootoog aan, en niemand durf 'n woordjie uiter nie. “Manne, hou dus moed! Ek vertrou op God dat alles nét so sal gebeur soos die engel vir my gesê het. Ons sal wél iewers op 'n eiland uitspoel.”
As kind van God kan ek in die donkerste uur 'n baie groot verskil maak aan mense se lewens. Ons het die Heilige Gees in ons, en as ons Hom maar net toelaat, sal Hy vir ons 'n onverstaanbare kalmte in ons harte gee, selfs deur die grootste krisis. En slegs deur hierdie kalmte sigbaar te wys wanneer almal verskrik en verslae is, is alreeds genoeg om 'n reuse verskil te maak!
Wanneer jy dan nog 'n stappie verder gaan en rustig met mense gesels, en die situasie nugter bespreek, kan jy God se instrument wees om groot paniek te ontlont.
Wanneer 'n groot krisis opduik, bid daaroor. Nie noodwendig om die Here te vra om jou uit die situasie te red nie, maar om jou absolute kalmte te gee en jou nugter te laat dink. 'n Baie algemene voorbeeld is die e-posse en selfoonboodskappe wat dikwels paniek saai en almal oorhaastig te laat reageer. Moenie hulle sommer net links en regs aanstuur nie, bid eers daaroor, en vergewis jou van die ware feite. So was daar byvoorbeeld WhatsApp boodskappe rondgestuur wat beweer dat die regering kwansuis Kersdag en Goeie Vrydag wil skrap. Dit het mense die harnas ingejaag! Ek het al talle soortgelyke boodskappe gekry. As jy so ‘n boodskap kry, kyk of dit waar is, en stel mense gerus. Daar is baie maniere om uit te vind, soos Google, ChatGPT en nog vele meer.
Gebed:
Ek wil graag kalmte bring waar mense paniekbevange raak, Here. Gee my sélf innerlike kalmte en die wysheid om sulke situasies te kan hanteer!