Die Storm

9 July, 2026

Handelinge 27:1-17

Paulus is baie opgewonde: nie alleen het Lukas na Sesarea toe gekom om by hom te wees nie, maar die tyd van sy vertrek na Rome het uiteindelik aangebreek. Hy gaan nou wel as 'n gevangene, maar daar is nie 'n sweempie van vrees in Paulus nie.

Paulus en 'n paar ander gevangenes word in die sorg gelaat van Julius, 'n offisier van die keiserlike regiment. Paulus word vergesel van twee vriende op sy seevaart na Rome, Lukas en Aristargos. Die skip neem hulle na Mira in Lisië, maar in plaas van om reguit na Mira te vaar, seil hulle met 'n groot ompad, al met die kus langs, om die noordweste van die eiland Ciprus. Die rede is dat seevaart in daardie jare bitter gevaarlik was, en hulle moes probeer om so ver moontlik in beskutte waters en relatief naby die kus te bly vir ingeval die skip sou sink.

Hulle doen by die hawe in Sidon aan, en die offisier gee vir Paulus die vryheid om sy vriende, die gelowiges van die stad te gaan besoek.

Met hulle vertrek uit Sidon, begin die probleme: 'n sterk westelike herfswind maak dit moeilik vir hulle, en hulle moet in die beskutting van Siprus vaar. Maar wanneer hulle om Siprus is, kry hulle die wind van voor, letterlik! En hulle vordering is maar stadig!

Uiteindelik kom hulle tóg veilig in Mira aan. Daar gaan hulle aan boord van 'n ander skip, een van die talle skepe wat in die graanhandel tussen Aleksandrië en Rome vaar. Van Mira af vaar hulle wes na Knidus. Maar die wind raak al sterker en sterker, en die 200 kilometer reis neem hulle etlike dae. Die kaptein is genoodsaak om by Knidus anker te gooi en eers te wag dat die wind bedaar. Maar die wind bedaar nie, en die kaptein raak ongeduldig, want in Rome wag hulle op sy vrag. Dan besluit hy om tóg maar te seil, maar in plaas daarvan om wes te vaar na Rome, kies hy koers suid om die beskutte kant van die eiland Kreta.

Na 'n groot gesukkel kom hulle by Mooihawens aan, een van Kreta se hawens. Die byna stormsterkte wind teen hulle het veroorsaak dat hulle nou al baie tyd verloor het. Nou het die gevaarlike tyd van die jaar vir seevaart aangebreek. Die kaptein is egter ongeduldig, en tot Paulus se groot ontsteltenis begin hy gereedmaak om verder te vaar. Paulus het nou al 'n paar keer beleef dat sy skip sink, en hy weet presies wat om te verwag. Hy gaan pleit by die Romeinse offisier om vir die kaptein te vra om asseblief nie verder te vaar nie. “Dis uiters gevaarlik, en ons gaan nie net die vrag verloor nie, maar menselewens gaan in gevaar wees!”

“Aag, wat weet daardie landrot nou van skeepsvaart?” Die kaptein is sommer omgekrap. “Ek waarborg jou, dis veilig!”

En daarmee trek die Romein sy skouers op en laat die kaptein begaan. In elkgeval is Mooihawens nie werklik geskik om in te oorwinter nie. Feniks, 'n hawe sowat 80 kilometer verder, aan die weste kant van Kreta is 'n baie beter proposisie, en die kaptein stem in om daarheen te vaar. Die noordweste wind het nou gaan lê, en nou waai daar 'n ligte bries uit die suide. “Lig anker!” blaf die kaptein, en die seemanne spaander in alle rigtings om die skip uit die hawe te kry.

Paulus skud net sy kop, hier kom gróót moeilikheid!

En dan word ál Paulus se vrese waar: skielik draai die suidebriesie noordoos, en dan wéét Paulus sommer dat dit baie slegte nuus is, want dit is die begin van die gevreesde Eurakilon, die noordoos-stormwind wat al menige skip laat vergaan het. Dit is ook nie lank nie, of die wind bereik stormsterkte en dryf hulle totaal van koers af. Die reddingsbootjie wat aan 'n tou agter die skip aangesleep word, is binne minute propvol water, en die manne sien hoedat hulle enigste redding besig is om te sink.

Dan tref 'n klein gelukkie hulle wanneer 'n klein eilandjie met die naam Cauda opduik. Vir 'n kort rukkie beleef hulle 'n effense kalmte. Nou kan hulle dalk probeer om ten minste hulle reddingsbootjie te red. Met groot moeite sleep hulle die bootjie nader, skep die water uit en hys dit aan boord.

Die geweld van die storm slinger die skip heen en weer, en Paulus kan hoor hoedat die vaartuig kreun en kraak soos die woeste golwe dit verwring. Hier in die relatiewe kalmte van Kauda kan hulle dalk ook iets hieraan doen. “Bind toue om die buik!” skree die kaptein bo die geweld van die storm uit. Hierdie is nie 'n maklike taak nie, veral nie in hierdie woeste water nie. Dit moet egter gedoen word, anders gaan die branders die skip uitmekaar ruk. Skaars is hulle ook klaar met hulle taak, of die volle geweld van die storm tref hulle weer.

Teen hierdie tyd word die skip teen 'n verbysterende vaart weg van die land af gedryf. Die matrose gooi 'n dryfanker uit om die spoed te probeer verminder. Dit help nie veel nie.

Gaan hierdie in 'n ramp eindig? Alles dui wél daarop! En gaan Paulus en sy reisgenote die ramp oorleef? Daaroor sal ons DV more gesels.

Gebed:

Here, dankie vir U Woord wat so ryk is. Nie alleen leer ons daarin van U liefde en genade nie, maar daar is ook wonderlike spanningsverhale en liefdesverhale!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026