Handelinge 21:17-26
Wanneer die groepie manne Jerusalem se poorte binnestap, kan Paulus nie help om te wonder hoe hy hier ontvang sou word nie. Sy eerste besoek aan die stad ná sy Damaskuservaring was 'n katastrofe! Die gelowiges wou niks met hom te doen hê nie! Was dit nie vir dierbare ou Barnabas nie, dan het hy nie 'n enkele gelowige te siene gekry nie!
Sy tweede besoek was óók maar 'n nagmerrie, want die gelowiges was bitter kwaad vir hom oor die dinge wat hy die heidene geleer het tydens sy eerste sendingreis. Hoe sou hulle nóú reageer? Paulus word verras met 'n groep gelowiges wat hom egter baie hartlik met ope arms ontvang! Hy slaak 'n groot sug van verligting.
Die volgende dag gaan Paulus en sy geselskap na Jakobus. Hy is een van Jesus se broers en Paulus het hom, saam met Petrus en Johannes al in een van sy briewe beskryf as een van die drie “pilare” van die Jerusalemgemeente. Jakobus, wat eens op 'n tyd vir Jesus verwerp het en Hom gesien het as 'n skande vir sy familie, is nou een van die sterk kerkleiers.
Al die ouderlinge is bymekaar in Jakobus se huis waar hulle in groot afwagting sit om Paulus-hulle te sien en eerstehands te hoor van al die dinge wat daar in die heidenwêreld aan die gang is.
In groot detail moet Paulus vertel van die wonderlike drie jaar in Efese en die groot seën wat daar op hulle werk was. Maar ook die hartseer en frustrasie wat hulle beleef het met die gemeente in Korinte. Dit het hom gekos brief na brief skryf om hulle op die regte spoor te bring. Hy moes boonop 'n paar besoeke aan hulle bring om dinge daar reg te stel. Maar dit het tóg uiteindelik vrug afgewerp, en daardie gemeente staan nou sterk! Hy vertel van hulle ondervindinge in Filippi, Troas en Tessalonika, en hoe wonderlik die kerk besig is om uit sy nate te bars. Maar alles is nie net maanskyn en rose nie. Daar was ook die frustrerende tyd in die groot kultuurstad Atene, waar Paulus nie kon hond haaraf maak nie.
Almal luister met groot belangstelling na Paulus as hy die goeie nuus meedeel dat die kerk lewendig is en 'n bloeitydperk beleef. Aan God al die eer!
Die manne prys God oor al die dinge wat daar in die heidenlande gebeur. Maar dan is hulle baie bekommerd, want gerugte doen die rondte oor Paulus, dat hy maar baie liberaal is in sy bediening. Stories lê die wêreld vol dat Paulus ál die Jode in die heidenlande sou leer om van die wet van Moses af te sien. Hulle het nie meer nodig gehad om hulle kinders te laat besny nie en hulle moes afstand doen van al die ou Joodse gebruike.
Paulus is verstom. Hierdie is 'n totale verdraaiing van die ware feite. Hy het nooit aan enige Jood voorgeskryf wat om te doen nie. Vir die heidene wat gelowig geword het, het hy wél gesê dat daar 'n paar Joodse voorskrifte is wat hulle moes respekteer, soos wat daar destyds op die groot kerkvergadering besluit is. Wat Paulus egter baie duidelik gestel het, is dat die onderhouding van die wet niemand ooit in die regte verhouding met die Here kon bring nie. So het hy dit ook baie duidelik in sy brief aan die gemeentes in Galasië geskryf (Galasiërs 3-4).
Die manne verstaan. Maar hulle is steeds baie bekommerd, want hierdie gerugte oor Paulus lê die hele stad vol. Hoe gaan hulle maak om dit te besweer?
Dan kom een kêrel vorendag met 'n blink gedagte: “Al wat ons moet doen is om Paulus iets te laat doen wat ál die aandag op hom sal vestig, iets wat sy lojaliteit sal bewys. Ons móét sy goeie naam herstel!”
Jakobus het die antwoord: “Hier is vier jong manne in die gemeente wat 'n Nasareërgelofte afgelê het. Die tyd het nou aangebreek dat hulle 'n offer moet gaan bring in die tempel om die gelofte te beëindig. Maar ek weet dat hulle dit nie breed het nie. Paulus, as jy bereid is om hulle te neem vir hulle reiniging en die koste sal dra, dan sal almal mos kan sien dat jy steeds lojaal is.”
Omdat Paulus uit 'n heidense gebied kom, is hy volgens Joodse voorskrifte onrein. Dit sou beteken dat hy sélf eers 'n reinigingsritueel moet deurgaan voordat hy in die tempel mag ingaan. Dit behels dat hy by 'n priester moet aanmeld. Drie dae later word hy met water besprinkel asook weer op die sewende dag. Daarna word hy “rein” verklaar.
Paulus doen soos voorgeskryf, en op die sewende dag neem hy die vier manne en laat hulle hare afskeer volgens voorskrif. Hulle hare word in die offervuur gegooi as teken dat hulle gelofte afgehandel is.
Maar dan kom daar 'n gróót probleem! Maar hieroor praat ons volgende keer.
Hoe ver moet jy gaan om die vrede te bewaar? Paulus was bereid om alles in die stryd te werp! Daar word soms van ons as gelowiges ook gevra om dinge teen ons grein in te doen ter wille van die Evangelie. Ons moet onsself dan afvra: wat is belangriker, dít waarmee ek gemaklik is of die Evangelie? Dit kan soms lei tot baie ongemaklike situasies, maar dan moet ons maar oë toeknyp en doen wat reg is!
Gebed:
Here, gee my asseblief hope wysheid en wilskrag wanneer die moeilike situasies vir my opduik. Help my om reg op te tree al is dit soms vir my baie ongemaklik!