Handelinge 20:13-38
In die hawestad Assus klim Paulus op die skip en sluit hom by Lukas en die sewe ander manne aan. Vroeg die volgende oggend vaar hulle na Mitilene, waar hulle weer die nag oorstaan. Die kuslyn van Asië is uiters gevaarlik, en as jy nie kan sien presies waarheen jy op pad is nie, beteken dit selfmoord. Daarom het die skepe in daardie tyd slegs bedags gevaar en snags in een van die beskutte hawetjies oornag. Dus vaar hulle die volgende dag na Chios, daarna Samos en uiteindelik tot by Milite.
Paulus wou baie graag by Efese aangaan om daar met die gemeente te gaan praat, maar sy tyd was besig om uit te loop. Hy wou in Jerusalem wees vir die Pinksterfees. As hy by Efese sou vertoef, dan sou hy dit dalk nie betyds maak nie. Dus stuur hy 'n boodskap dat Efese se ouderlinge hom in Milite moes ontmoet, 'n afstand van sowat 60 kilometer, want daar moes hulle vir 'n paar dae oorstaan om vir 'n ander skip te wag wat hulle na Sirië sou neem.
Paulus benut die kort tydjie saam met hulle baie goed, en hy praat hulle moed in. Ja, hy is nou op pad na Jerusalem, gedring deur die Heilige Gees. En wat daar met hom sal gebeur, moet maar gebeur, hy is in God se hande. Hy is maar ál te bewus daarvan dat daar waarskynlik vervolging op hom wag, maar die taak wat hy vir die Here verrig, is baie belangriker as sy lewe. Teen hierdie tyd is hy natuurlik ook al goed gewoond aan vervolging, want hy was al geslaan, gestenig, in die tronk en, verskeie kere moes hy vlug vir sy lewe.
Daar is vandag baie gelowiges wat wil glo dat geloof soos die bootjie na Kammaland is, waar die maan se helder strale jou begelei op 'n spieëlgladde meer van romanse. Nee, 'n gelowige se lewe is nie een lang suksesverhaal nie, veral nie as jy jou geloof ernstig opneem nie. Die pad kan soms bitter swaar wees, bestrooi met struikelblokke en selfs vervolging. Dikwels betaal gelowiges op die sendingveld met hulle eie lewens. Wanneer ons egter ons roeping met oortuiging uitleef, kan ons selfs die grootste krisis vol vertroue tegemoetgaan.
Paulus sê dan ook vir die manne van Efese dat dit sékerlik die laaste keer is wat hy hulle sal sien. Dit is dus sy afskeidswoorde aan hulle, en juis dáárom rus daar 'n baie groot verantwoordelikheid op hulle skouers, want hy sal hulle nie verder kan pamperlang nie. Hulle moet verantwoordelikheid vir hulleself aanvaar, maar hulle is ook verantwoordelik vir die gemeente. Al die gelowiges is onder hulle sorg, en hulle moet nou alles wat hulle van Paulus geleer het aan die gemeente oordra en sorg dat die gemeente geestelik groei. In Handelinge 20:31 sê Paulus vir hulle: “Onthou dat ek elkeen van julle drie jaar lank onderrig het, aanhoudend, dag en nag, baiekeer met trane!” In die drie jaar wat Paulus in Efese was het hy die gemeenteleiers intensiewe opleiding gegee. “En nou vertrou ek julle toe aan God en sy woord van genade!”
Paulus benadruk dit verder dat hy vir hulle in die drie jaar 'n goeie voorbeeld probeer stel het, van hoe hulle moet optree as leiers. Dit moet beslis nie oor geld gaan nie. Hy het in daardie tyd 'n punt daarvan gemaak om vir sy eie lewensonderhoud te sorg. Hy moes bedags hard werk en tente maak om aan die lewe te bly, en saans het hy hulle geleer. Dit het hy onder meer gedoen sodat daar genoeg geld sou wees om vir die armes te kan gee.
“En die woorde van die Here Jesus moet julle onthou,” sê Paulus met nadruk. “toe Hy gesê het: Dit maak 'n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang.”
Maar dan word dit tyd om te groet, Paulus se skip staan gereed om te vertrek. Saam kniel al die manne en verenig in gebed. Dit is 'n droewige afskeid, en die trane stroom as die manne mekaar omhels en soen. Sal hulle óóit weer vir Paulus sien? Paulus glo dat dit die laaste keer is. Dit is 'n stoet van lang, droewige gesigte en betraande oë wat Paulus vergesel na sy skip!
Ja, Paulus sou wél weer met die gelowiges in Efese praat, maar dit sou eers vyf jaar later wees, en hy sou met hulle praat deur middel van 'n brief wat hy uit die tronk in Rome geskryf het. Daardie brief sou egter nie die persoonlike aanraking met die mense hê soos nou nie, en dit sou bedoel wees vir 'n hele paar gemeentes om te lees.
Is jy dalk 'n leier in jou gemeente? Met 'n leier bedoel ek nie net die dominee, pastoor en leier-ouderling nie. Elkeen wat leiding neem op die een of ander terrein is 'n leier in eie reg. As jy die week verantwoordelik is om die teeskink te organiseer, dan is jy 'n leier.
Daar rus 'n baie groot verantwoordelikheid op die skouers van elke leier in die kerk. En terloops, daar is nie so 'n ding soos 'n “hoofleier” nie, elke leier het presies eweveel status, die sondagskool-onderwyser, die ouderling, die dominee, die moderator en die pous. Niemand is verhewe bo 'n ander nie! Al wat verskil is die terrein van jou leierskap.
Wat is jou verantwoordelikheid? Elke leier s'n is anders. Vir die een is dit om om te sien na oumense, en hy moet dit doen na die beste van sy vermoë. Doen alles wat aan jou toevertrou is asof jy dit vir die Koning van alle Konings doen!
Gebed:
Here, gee my asseblief die krag en ywer om my verantwoordelikheid as leier ten volle uit te leef tot eer en verheerliking van U Naam!