1 Johannes 5:6-13
Onsekerheid is ‘n verskriklike ding - vra maar vir Tant Ann. Dis nou dieselfde ou tannie waaroor ek ‘n paar dae gelede geskryf het. Ann was ‘n jong meisie op Machadodorp, toe sy een mooi (romantiese) dag die man van haar drome ontmoet het. Bill was ‘n sjarmante landmeter, en sommer onmiddellik het die liefde geblom. Die ongeluk was egter dat sy besoek aan Machadodorp maar van korte duur was, en ‘n week later moes hy terug na die gramadoelas in Zoeloeland waar hy landmeterswerk in die St Lucia omgewing gedoen het. ‘n Jaar het verbygegaan waarin Ann en Bill slegs per brief met mekaar kon gesels. En die liefde het geblom!
Op ‘n mooi dag besluit die tweetjies dat hulle sou trou, en hulle reël dat hulle mekaar in Durban sou ontmoet. Ann, vergesel van haar suster Sarah klim op die trein na Durban, en die opgewondenheid borrel oor. Maar halfpad Durban toe tref die eerste ramp hulle: by Ladysmith is die Kliprivier in vloed, en die water dreig om die treinbrug weg te spoel. Vir ‘n paar dae sit hulle en wag dat die water sodanig sak dat die trein kan oor. Hulle spring uiteindelik op en af van opgewondenheid, want: Durban, hier kom ons!
In die hawestad tref die tweede ramp hulle, een nog veel erger as die eerste. Van Bill is daar geen spoor nie, en boonop is daar absoluut géén manier waarop hulle hom kan kontak nie. “Hy sal kom, Sussie, jy sal sien. Hy sál kom!” bly Ann oor en oor vir Sarah sê. Die ongeluk is toe egter dat Ann nie eers meer kan onthou hoe Bill lyk nie, want hulle het mekaar maar bitter kortstondig leer ken. “Is dit nie dalk hy nie?” wonder die twee meisies oor elke mooi man wat verbyloop. Maar helaas! Geen Bill Landman nie. Uiteindelik, na ‘n week, moet Sarah terug Machadodorp toe. “Bill het van jou vergeet!” is haar woorde aan haar suster. Ann besluit egter dat sy nie só maklik moed opgee nie. Sy sal vir haar Bill wag, want Bill het gesê dat hy vir haar lief is, en hy het belowe dat hy met haar sou trou. Alhoewel die onsekerheid besig is om haar op te vreet, en sy boonop stoksiel alleen daar moet agterbly om te wag, bly Ann steeds vasklou aan Bill se belofte.
Uiteindelik hoor sy waarom Bill nooit opgedaag het nie: dieselfde vloede wat Ladysmith getref het, het ook Zoeloeland getref, en die Umfolozi rivier is in volle vloed. Niemand kan daar deur nie. Selfs die brug is weggespoel. “As Bill nie na my toe kan kom nie, dan gaan ek maar na Bill toe!” besluit sy, en sy pak die pad aan na St Lucia. By die Umfolozi gekom moet sy tot haar verdriet sien dat massas water haar skei van die oorkant. ‘n Man met ‘n roeibootjie word totaal teen sy sin en beterwete opgekommandeer om haar oor te roei. Uiteindelik betaal haar vasberadenheid, en na ‘n nagmerrie bootrit kom sy in Matubatuba aan waar sy verneem waar Bill werksaam is. Die hoop het nie beskaam nie, en ‘n paar dae later is die tweetjies getroud in ‘n klein sendingkerkie iewers in die St Lucia bosse.
Ek het al verskeie briewe gekry van mense wat my vertel van onsekerheid in hulle lewe. Hulle weet nie of hulle ooit God se vryspraak het nie. Dalk loop jy vanoggend met daardie vretende onsekerheid in jou gemoed rond. As dit die geval is, wil ek jou aan die hand vat en die beloftes wys wat God in die Bybel, die onfeilbare Woord van God gee.
In 1 Johannes 5:6-9 word vir ons geskets dat God in Sy almag en Sy volheid getuig dat die dinge wat hier geskryf word waar, vas en onwankelbaar is. Johannes sê dat ons baie maklik glo en aanvaar wat mense vir ons sê. As die God van Waarheid dan praat, hoeveel te meer sal ons nie Sý getuienis aanvaar nie!
Waaroor getuig God hier? Hy het ons die ewige lewe gegee. Hoe? Deur Jesus Christus, Sy Seun. Maar hoe bekom ek en jy dit? Deur in Jesus te glo. Dit beteken dat ons ‘n volle oorgawe aan Hom maak en al ons vertroue in Hom stel. Dit beteken dus basies 'n lewende verhouding met Hom. “Wie die Seun het, het die lewe.” So sê God, kort en kragtig. Maar in dieselfde asem sê Hy ook: “Wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.” As jy nog twyfel, dan moet jy jouself hierdie vraag vra: Is my geloof in Jesus gevestig of nie. As dit is, dan kan jy aan God se beloftes vasklou, want dan het jy God se volle vryspraak. As jy nie glo nie, dan is dit kort en kragtig: jy is verdoem! Johannes beklemtoon God se getuienis in sy volgende sinnetjie: “Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.” So eenvoudig soos dít!
As jy steeds onseker is, gaan lees dan wat God verder in Sy Woord belowe: Hand. 10:43; Joh. 5:24; Joh 3:36; 2 Kor 5:17; 1 Joh. 3:14; Rom. 8:16; Joh 10:28-30; Rom 8:1; Rom 10:9-10; Joh 6:47. Hoe weet ek dat hierdie dinge waar is? In Num. 23:19 lees ons van God: “God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie, ‘n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?” Is dit nodig dat ek enigiets meer sê as dit?
Gebed:
Here, dankie dat ek vanoggend uit U onfeilbare Woord kan weet dat ek U vryspraak het.